Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: Aan leraars by Goudini, ‘geniet die wegbreek en wees ʼn leerbare dienskneg in Koninkryksdiens’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Gerdrie van der Merwe skryf uit Reebok:  Daar is groot opgewondenheid op kerklike voetsoolvlak oor die Predikantesaamkoms van 24-28 Augustus 2026 by ATKV Goudini Spa, waar ongeveer 750 leraar informeel gaan besin oor kerkwees in ons besondere tyd. Mag dit ʼn sielverkwikkende  en leerbare ervaring wees. Ons emeriti, wat nie verbind is aan gemeentes nie, kry om verstaanbare redes nie die geleentheid om fisies daar te wees nie. My liefde, omgee en kontak met predikante is legendaries, daarom sou ek graag my hartsvriende wou sien, ware koinonia beleef en op ʼn leerbare manier skouers skuur. Gelukkig is daar vir my ʼn besondere troosprys, my skoonmoeder word 100 en ons as gesin is in die tyd op Vanrhynsdorp vir die feesviering. Watter predikant sal nie so ʼn gulde en dankbare geleentheid aangryp, as jou skoonma so lank gespaar bly nie? 

 In die geskiedenis van die NG Kerk was daar drie sulke predikantebyeenkomste. Die eerste was van 18-19 April 1860, toe 373 predikante en gemeenteleiers op Worcester onder leiding van ds Andrew Murray byeengekom het. Die tema “Geestelike herlewing”, wat die kruitvat was vir die unieke herlewing in die NG Kerk. Die tweede  was van 20-22 Junie 2005 in die Callie Human saal op die Kovsiekampus, toe ongeveer 1 400 predikante vergader het en besonder aangeraak en geïnspireerd terug is na gemeentes landswyd. Die meeste emeriti tans, was toe deel van die geesverrykend byeenkoms in Bloemfontein. Daar is gefokus op die eise wat die bediening stel, ook empatie-moegheid wat soms soos ʼn dief in die nag toeslaan. Die derde geleentheid is binne dae en ons glo en weet dit gaan ʼn unieke ervaring wees. Kom ons almal bly wagtend op die Here in gebed. 

Hiermee wil ek ongevraag, namens al die gryskop emeriti leraars van die NG Kerk, ons goeie wense oordra aan elkeen. Ons bid julle die seën van die Here toe. Geniet die wegbreek en wees ʼn leerbare dienskneg in Koninkryksdiens. Mag dit die begin ʼn nuwe seisoen in elkeen se bediening wees. Jy is ʼn bevoorregte om die warmte in die binnekring van die Here se Kerk op Goudini te ervaar. Die Here werk ook met seisoene in jou lewens. Daar is ’n tyd van saai. ’n Tyd van wag en luister. ’n Tyd van snoei. Maar ook ’n tyd om te leer en opnuut vrug te dra.  Onthou die Bybelse woord: “ Kom julle alleen saam na ‘n stil plek en rus ‘n bietjie.”  (Markus 6:31)

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top