Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: Ons moet weer leer hoe om te huil

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Henrietta Klaasing van Randfontein skryf: Daar is nog ‘n stukkie van Vrouemaand oor. Suid-Afrika se koers van geslagsgebaseerde geweld (GBV) en vrouemoord is een van die hoogste ter wêreld. Volgens die nuutste statistieke word ongeveer vyftien vrouens daagliks in Suid-Afrika vermoor (byna 6 maal die wêreldkoers). In die meeste gevalle word dit deur lewensmaats gepleeg. Teen die einde van 2025 is GBV en vrouemoord amptelik as ‘n nasionale ramp geklassifiseer. Baie selde word hierdie vroue se name genoem of haal hierdie moorde die koerante.

Een wat genoem is, is Babita Deokaran die dapper fluitjieblaser wat in Augustus 21 in Johannerburg vermoor is. Haar familie het ter herdenking van haar lewe, opoffering en die naderende vyfde herdenking van haar dood, is ’n spesiale gedenkdiens gehou en ’n gedenkteken is op Vrouedag (9 Augustus 2026) onthul.

Kernpunte van Pous Leo XIV se videoboodskap by die Leierskapskonferensie van Vrouegelowiges op 12 Augustus 2026 het my as vrou diep geraak en is volgens my in die kol: Materiële welstand skep ‘n sielkundige borrel, wat mense laat glo dat globale krisisse “nie my probleem” is nie en dat niemand persoonlik verantwoordelik is nie. Hy noem dit die “globalisering van onverskilligheid” en praat oor die verlies van die vermoë om te huil: Die samelewing het so versadig geraak met tragedie dat dit die vermoë verloor het om “te ly saam met” of te huil oor die ellende van ander.

Ons moet weer leer om te huil oor die vrou wat vermoor word, om haar lyding as ons eie saak te ervaar en om nie toe te laat dat geweld so alledaags word dat dit ons vermoë tot medelye verdoof nie.

Dalk moet die Here weer met ons deur drome praat en so leer om te huil. In Johannes van Melle se bekende kortverhaal “Oom Diederik leer om te huil”, leer Oom Diederik om te huil deur ’n merkwaardige droom waarin hy voor God se troon staan en besef dat sy aardse selfvoldaanheid en uiterlike vroomheid betekenisloos was. Hy kom tot berou, sien sy eie geestelike armoede raak en leer om deernisvol na ander te kyk.

Prof Amanda Gouws het rondom Vrouedag in 2024 gesê: “Daar is ’n gesegde dat as jy wil weet hoe dit met ’n land gaan, kyk na die toestand van haar vroue.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top