Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Jampie Nel van NG Oostersee, Parow skryf: Augustusmaand is altyd Barmhartigheidsmaand in die Wes-Kaap sinode. Hierdie jaar het Diaconia, ‘n gesamentlike bediening met die VGK en NGK die volgende uitnodiging aan gemeentes gestuur:
“Wat beteken ’n klein pakkie vir iemand in ’n krisis? Dalk meer as wat ons dink. Pockets of Purpose (POP), ’n gesamentlike projek van Diaconia en Taakspan Gendergeregtigheid, wil gedurende Augustus waardigheid en praktiese ondersteuning bring aan vroue wat geslagsgebaseerde geweld beleef het, asook jong meisies in minderbevoorregte gemeenskappe. Elke POP bevat versorgingsitems wat onmiddellike nood help verlig en sê: Jy is nie alleen nie. Gemeentes en ringe word genooi om vrywillige POP-organiseerders aan te wys wat die projek plaaslik kan dryf.”

NG Oostersee het op hierdie uitnodiging gereageer deur uit te reik na Molenbeek Skool vir leerders met spesiale behoeftes in Maitland. Die gemeente is gevra om die volgende items te bring:
Inhoudslys vir POP vir Skoolmeisies:
- Basiese toiletware: seep, tandepasta, tandeborsel, deodorant.
- ’n Pakkie Sanitêre doekies en een nuwe broekie/panty (S/M/L)
- Minstens een bederf item: bv smarties, sjokelade, fudge of ‘n klein houertjie sap/gegeurde melk of vla wat die ontvanger sommer dadelik kan geniet as sy wil
- Minstens een verrassing; bv. Vaseline, Lip-ice, Lipgloss, room, gekleurde pen, potlood of klein notaboekie
Die Omgee-Aksie het beplan om 50 pakkies saam te stel en sou dit wat kort uit die begroting aankoop. Dit was egter kwalik nodig, want daar was soos die vissies en broodjies soveel meer as vir 50 pakkies.

Ons gemeente ervaar geleenthede soos hierdie waar ons raaksien dat die Here getrou is en dat sy liefde soms, nie soos ‘n storm nie, maar soos druppels dou kondenseer en ons was geseënd om deel van Sy transaksies van die liefde te wees.
Ons het op die laaste Saterdag van die maand bymekaar gekom om die pakkies te verpak en te merk en die jonges het ons bederf deur vir almal wat kom help het, pannekoek te bak (nog transaksies van die liefde!)
Oostersee wil met hierdie storie ander gemeentes aanmoedig om vol te hou met julle goeie werk in diens van die koninkryk. Hierdie werke is nie altyd sigbaar soos groot storms nie, maar soos druppels dou neem ons deel aan God se transaksies van die liefde.
Die beste nuus was, dat daar soveel bederfies oor was, dat daar genoeg was om vir die seuns ook iets te kon gee. Ons prys die Here vir sy goedheid en liefde!
