Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die argitek Wynand Louw se magdom kerkgeboue getuig van die werk van 'n gedrewe innoveerder, ontdek Albert Geldenhuys tydens 'n reeks reise deur Suid-Afrika.

Gebou om te hou

Kerkbode vat die spoor van die man wat die spoor van werklustige kerkargitek Wynand H Louw gesny het.

 

Hoe bou jy ’n kerkgebou? In die 19de eeu was die tradisionele kerkplan ’n variasie op een tema: ’n kruis.

Maar vir ’n Afrikaanse seun van die Paarl wat in die NG Kerk grootgeword het en veelsoortige argitekdrome gekoester het, was daar ruimte vir verbetering: Hoe kan ’n mens die kansel en prediking meer sentraal maak?

Later sou verdere vrae, nuanse en kreatiewe spanning aanmeld. Hoe lyk goed, maar goedkoper? Hoe kan ’n gebou meer “eie” aan konteks wees? Hoe warm in die somer? Hoe koud in die winter? Hoe klink ’n koor? Hoe afgesluit voel ek van ander kerkgangers?

LEES OOK: ‘Mense noem dit die bomb shelter’ | Argitek verduidelik hoekom dié Vrystaatse kerkgebou hom bekoor

Ná die jong Wynand Louw sy argitekkwalifikasie in Engeland gaan verwerf het, keer hy terug na Suid-Afrika in die aanloop tot Uniewording in 1910. Louw spring aan die werk in die voormalige Britse kolonie en begin bou aan ’n loopbaan wat ’n halfeeu sou duur en die naam Wynand H Louw letterlik in Suid-Afrikaanse kerkontwerpgeskiedenis sou vasmessel.

Wanneer hy sy eie projekte kry, begin hy byna summier die kenmerkende kruisvorme van die (neo)Gotiese kerke vervang met iets wat beter rym met Calvinisme, waar die klem sedert die Reformasie in die 16de eeu swaarder as in Roomse kerke op Skrifverkondiging val. Hy begin ’n kerkontwerp ontwikkel wat die kansel na die middel van die “liturgiese ruimte” bring.

Sy visie was nie als eensklaps-kaboem volbring nie: Die waaiervormige banke, die drie deure, die sewe vensters … Dit was nie alles onmiddellik daar nie. Maar die “eksperiment” het vroeg begin en lank geduur.

LEES OOK: Skrywer ry 36 000 km op die spoor van bekende kerkargitek se nalatenskap: Dominees, eiendomskommissies en kerkrade móét dié boek lees

Van sy eerste argiteksopdrag laat in 1907, via sy eerste eerste kerkgebou in 1909 (Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Port Elizabeth) tot aan die einde van ’n leeftyd se werk. Dit is minstens 120 kerkgeboue, asook vele kerksale en kerkverbouings. In argitektuurkringe word hierdie seun van die Strooidakkerk dan ook gekoester vir die feit dat hy ’n agthoekige kerkvorm ontwikkel het wat “gepas het by Suid-Afrikaanse Gereformeerde liturgie.”

Dit alles leer ’n mens as jy gaan moeite maak met ’n bronnelys wat sowat 3 500 woorde beslaan … Of as jy die gevolgtrekking lees van Albert Geldenhuys se meestersgraad in argitektuur. Vir dié kwalifikasie, wat hy aan die Universiteit van die Vrystaat behaal het, skryf Geldenhuys oor The life and work of architect Wynand H Louw (1883-1967) with a focus on the design of ecclesiastical buildings.

Die uiteenlopende gevallestudies in Geldenhuys se akademiese navorsing blaas nuwe lewe in die veld van kerkontwerp.

En nou het die skrywer boonop ’n meer toeganklike werk uit sy pen by Naledi laat verskyn. Op die spoor van kerkargitek Wynand H Louw word as reisverhaal beskryf en is die storie van ’n afgetrede ingenieur van Tamboerskloof in die Kaap wat tesame met sy erfeniskennervrou Maretha sowat 40 000 km dwarsdeur die land reis om soveel as moontlik van Louw se kerkprojekte te besoek.

Albert Geldenhuys is die skrywer van ‘Op die spoor van kerkargitek Wynand H Louw’ en ‘n kranige navorser, reisiger en olyfboer.

LEES OOK | Christo van der Merwe: Die groot insig wat klein woordjies vir sleutelfiguur in Afrikaanse Bybelvertaling gebring het

En Geldenhuys (70) het nie net ’n petrolkaart en tyd nie. Hy het ’n hond in die geveg. Louw was sy stiefoupa. Ná dié se dood het ’n groot deel van ’n baie groot geskiedenis vir die jong Geldenhuys verlore geraak. Trouens, hy verwerk tot ’n mate vandag nog aan die besef dat dié oupa van hom die einste kerkgebou ontwerp het waarin Geldenhuys onwetend as Matie-student so lekker koor gesing het.

Geldenhuys het nog iets wat in sy guns tel: ’n Kapasiteit vir navorsing en die soort honger vir detail waarsonder jy kwalik hierdie soort boek kan aanpak wanneer jy jou op die tuisveld van die kerkgebou-anorak begewe … Dit is naamlik daardie man / vrou wat uit dwingende liefde vir die saak ry en NG Gemeente De Aar of wie weet waar gaan afneem en boekstaaf vir digitale kennisgemeenskappe wat met hiperskakels in verbinding bly. Of ieder en elk wat sonder afspraak, plan of telefotolens gou deur ’n Devils Fork-heining ’n kerkgebou op die platteland gaan afneem waar ’n tuinier en koster heel dikwels ’n moedige teennarratief tot die dorp se verval probeer handhaaf. Dit mag na nisaktiwiteite klink, maar dit is ’n stewige nis. (Die Facebookgroep Kerkgeboue van Suider-Afrika, byvoorbeeld, het meer as 38 000 vriende en dit word aangevuur deur die ywer vir alles van boukuns tot kerkwees, kultuur en sommer die net verlede per se (hier is ek gedoop, daar was my oupa dominee, daar het ons Sondagskool gehou). En dit is ’n epistemologiese geweste waarin jy nie Marquard se hoeksteendatum moet verkeerd kry of Dundee se roosvenster met Durban s’n moet verwar nie.

LEES OOK: Hoe lyk ‘Leef Jesus se liefde’ op Colesberg?

Wynand Louw via ‘n artikel in Die Huisgenoot 1953.

Maar Geldenhuys is ’n fact checker se fact checker. Die boek begin by ’n lys wat iemand hom via Wikipedia in die hand gee, met ’n string name van kerkgeboue wat sy oupa Louw sou gebou het. Lanklaas het ’n doek so rooi voor ’n bul gewapper! Tien jaar, een M-graad en ’n slapbandboek later ontmoet Kerkbode die skrywer vir ’n koffie en ’n tweeuurlange gesprek oor agthoeke, die neo-Gotiek, olyfboer en die dae toe Geldenhuys nog tot 100 vlugte per jaar op die lyf moes loop as een van die grootkoppe by ’n ingenieursfirma wat gholfbane (dink Leopard Creek) vir miljardêrs (dink Johann Rupert) help gestalte gee het en ingewikkelde bouprojekte onder stede in die Ooste deurgesien het. Sy eie trots uit werksdae? Die herbou van Meiringspoort ná ’n vroeëre, ewe vernietigende oorstroming: “Om ’n pad wat net ’n stuk teer deur ’n poort was, te omskep in ’n toeriste-attraksie,” vertel Geldenhuys met ’n vonkel in sy oog oor ’n projek van sowat 30 jaar gelede.

Geldenhuys se boek is deernisvol gesaghebbend oor Louw self en prikkelend oor kerke as verskynsel. Ander lesers mag dalk ook besef hoe baie hulle miskyk. (Net soos goeie sinsbou ongesiens verbygaan, is dit met kerkgeboue eers wanneer die dak lek of wanneer jy nie die dominee kan hoor nie dat ’n mens oplettend begin raak). Wat is ‘n kerk? Huis van God of plek waar die gemeente vergader om God te aanbid? Geldenhuys gaan haal die onderwerp ver en dink diep. Hy het ook sy eie kriteria as aanbidder. “Daar moet ’n mistiek wees. En dit is dalk die dilemma met van die moderne kerke wat baie funksioneel is. Jy kon netsowel by ’n skuur ingestap het,” verduidelik Geldenhuys tydens ons gesprek. Hy kan ’n paradoks stewig vashou. “Ek dink oordadigheid maak dinge deurmekaar. En tog hou ek van daai mistiek. Barokrosette.

Lig skep mistiek. Goeie klank skep mistiek,” verduidelik hy. En dan verwys hy na die gebou van die NG Gemeente Bethlehem-Wes, wat op die voorblad van die boek pryk. “Mense hou van die koepel, maar wat mense (dikwels) vra: was jy al hier as ’n koor sing?”

Die boek het ’n voorwoord deur ’n dominee, oorgenoeg foto’s, nog ’n bronnelys en oorhoofs beskou ietwat meer orde as vloei. Die postuur is iets van sober verwondering, ingekleur deur ’n seun se liefde vir ’n oupa wat hom in sy studeerkamer laat speel het.

Ons sien via die jong verteller se blik hoe Louw na klassieke musiek op langspeelplate sit en luister en druiwe uitdeel vir gaste by hulle woning in die Boland. Dit vul die deftiger beeld aan van Louw die establishment-argitek wat alles van die Ou Mutual-gebou in Darlingstraat tot Dagbreek-koshuis op Stellenbosch ontwerp het. (Oupa het terloops tot so ’n mate na genl Jan Smuts gelyk dat Huisgenoot in ’n profiel daaroor uitgewei het).

Collage van loodglasvensterontwerpe deur Louw. Bron: The Life and Work of Architect Wynand H Louw (1883-1967) with a Focus on the Design of Ecclesiastical Buildings

LEES OOK | Hendrik Papier: Faktotum van NG Kerk Carnarvon vertel ná 40 jaar gemeente se storie

Geldenhuys skep keer op keer in sy navorsing en skryfwerk nuwe fraserings wat persoonlike waardering asook akademiese en kultuurhistoriese stutte gee: “While still only in his mid-twenties, Louw had the courage of his convictions as an architect and a Calvinist to embark on a journey of exploration to find the elusive ideal reformed church layout and design,” skryf Geldenhuys in sy navorsingstuk. In die boek stel hy dit só om: “Louw (tesame met twee ander) se Sentraalbou-kerke van die vroeë 20ste eeu het bewys dat waaiervormige bankuitlegte baie goed werk vir gereformeerde kerke.”

Geldenhuys boer deesdae deeltyds maar geesdriftig met olywe op ’n plaas wat hy jare gelede in Prins Albert gekoop het. In die gesprek oor sy boek handhaaf hy ’n ontspanne teenwoordigheid, maar hy het die uitstraling van ’n taakgerigte ingenieur tot diep in sy aftrede behou. In die boek Humanise, deur Thomas Heatherwick, kom Geldenhuys af op ’n uitlating wat hom roer: “Openbare geboue moet gebou word om vir ’n millennium te hou. Dit moet modegiere van die tyd oorleef,” verduidelik Geldenhuys. “En dit moet mooi wees. Solied en funksioneel.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top