Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

“’n Belangrike ontwikkeling in die taalkunde, te wete kognitiewe taalkunde, het beklemtoon dat taal ingebed is in kultuur. Daar is nie ’n taalmasjientjie in jou kop nie … dit word aangeleer. En ’n taalgemeenskap bepaal hoe lyk die kodes van daai taalgemeenskap. Daar is algemene kognitiewe vaardighede, maar andersins is taal ingebed as ’n stel kodes wat kultuurspesifiek deur konvensies bepaal word. En elke woord word ingevul deur die leefwêreld,” verduidelik prof Christo van der Merwe.

PROFIEL | Christo van der Merwe: Die groot insig wat klein woordjies vir sleutelfiguur in Afrikaanse Bybelvertaling gebring het

Christo van der Merwe pols ChatGPT oor die menslike hart.

Dit is nie ’n groot verrassing dat dié kognitiewe taalkundige nou nie die rekenaar gaan vra om ’n Facebook-post of twee uit te spoeg om hom ’n bietjie tyd te spaar nie. ’n Mens verwag meer van een van die sleutelfigure in Afrikaanse Bybelvertaling … Selfs wanneer hy sommer in die agtermiddag ’n bietjie werskaf in sy aftreehuis op Onrus, stapafstand van ’n getypoel en die diep blou see. “Ek het nou die dag (vir ChatGPT) gevra: As iemand sterf, is hy die pasiënt of die experiencer … Of is hy die akteur?” Maar kunsmatige intelligensie het nie dié slag juis die 68-jarige Van der Merwe se hare teruggeblaas nie. Een keer was die antwoord sus, ander keer so. Swak, Piketberg!

Kortliks: Christiaan Hendrik Jacobus van der Merwe is in 1985 aangestel as lektor aan die Universiteit van die Noorde (tans die Universiteit van Limpopo). Hy behaal in 1988 ʼn DLitt in Semitiese Tale aan die Universiteit Stellenbosch en sluit in 1989 as navorser by dié universiteit aan. Hy het 58 artikels in geakkrediteerde tydskrifte en 20 hoofstukke in boeke gepubliseer. Hy het alreeds 22 meesters- en 28 PhD-grade begelei. Hy was die redakteur van die Lexham Hebrew-English Interlinear Bible en medeskrywer van A Biblical Hebrew Reference Grammar (Sheffield 1999). ʼn Grondig bygewerkte en uitgebreide tweede weergawe van die grammatika verskyn in 2017 by Continuum, Londen. Hy dien as Hebreeuse taalkenner vir die Afrikaanse weergawe van Die Bybel vir Dowes (1998-2005). Van 2005 tot 2020 was hy deel van die redaksie van die nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans. Foto’s: Le Roux Schoeman

Maar vanwaar die vraag? Van der Merwe was besig met ’n studie oor “hart”. “Die woord kan die akteur wees (‘my hart juig’). ‘My hart is bly’ (experiencer). ‘My hart jubel’ (is ek die akteur?). Wanneer is hart experiencer en wanneer akteur? As ek jubel, watter een is dit?,” verduidelik Van der Merwe die konteks van sy kubersoektog. Welkom in sy wêreld. Hier geld iets van sy informele leuse: Taal is ’n komplekse sisteem, maar in chaos is daar ook ’n patroon en jy moet dit probeer verstaan.

Maar wie is Christo van der Merwe?

Een antwoord begin so: Lank, lank gelede het ’n Joodse sakeman geld bewillig en ’n skrander seun van Beaufort-Wes het deur die loop van sy teologiese studie agtergekom hy wil hom toespits op twee goed: Bybelse Hebreeus. En hoëtrouklankstelsels.

Van der Merwe se storie strek egter ver verby sy termyn in die Eric Samson-leerstoel in Bybels-Hebreeuse Grammatika aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Antieke Studie. Hoewel Van der Merwe dankbaar is vir die groothartige borgskap van Samson die weldoener, is sy lewenspad ook met ander groot invloede besaai: wyle Ferdinand Deist, Walter Claassen en Wolfgang Richter, om maar ’n paar te noem. En dan, as jy blaai na bl 327-332 van die 2020 Afrikaanse Bybelvertaling, die meer as 140 name van taalkenners, vertaalkenners, sy mede-brontaalkenners gelas met die reuse-taak: die skep van ’n nuwe Bybelgenootskap-vertaling wat alle kerke verteenwoordig wat die Bybel in Afrikaans in eredienste en tuis gebruik. Die groter projek het basies van 2004 tot 2020 geduur en Van der Merwe beskryf dit as een van die twee groot projekte in sy lewe. Die ander is die Bybels-Hebreeuse Naslaangrammatika, wat hy tesame met JA Naudé en JH Kroeze die lig laat sien het en wat oorbekend is aan die meeste teologiestudente wat die Ou Testament op universiteit in die oorspronklike taal waarin dit neergeskryf is, leer lees.

Bybelse Hebreeus. Dit is nie ’n taal wat jy vandag in die strate van Jerusalem teëkom nie. Dit is die taal van die Ou Testament. Die studie daarvan is nie alleen moeilik omdat dit nie meer gepraat word nie, of omdat die morfologie soms ingewikkeld of die sintaktiese kenmerke vir Afrikaanssprekers vreemd is nie, dit word bemoeilik deur die feit dat ’n kwart van die woorde wat in die Ou Testament gebruik word, slegs een keer voorkom.

Die soeke na hoë trou

Met Kerkbode se besoek, gesels ons oor die mense wat Van der Merwe se eie invloedryke verstaan van die wyse waarop taal funksioneer, beïnvloed het. Ons eet middagete. Daarna luister ons saam musiek en ’n uitbundige leidraad om dié prof se lewenslange soeke na die juiste woord te verstaan, lê meteens vlak voor die besoeker: “’n (HiFi) moet klank weergee soos hy regtig klink. High fidelity,” verduidelik hy en beduie waar ek moet gaan sit voor ons na die musiek luister. “Dit moet getrou wees. Soos dit opgeneem is. Is jy bekend met Laurika Rauch?” vra hy stip, maar dan vind sy vingers liefs Strawbs se 1970’s-treffer “Part of the Union”.

“Jy moet hier sit. Hierdie vertrek is gekalibreer dat die basse perfek is … nie perfek nie, jy streef net daarna. Die grootste gevaar is bas, dit word die maklikste vervorm. Hy het sewe meter nodig om te vorm. Die geheim is, jy moet alle instrumente kan hoor en die verskil tussen ’n traptrom en ’n baskitaar. Die musikale struktuur gee jou die emosionele gevoel wat musiek veronderstel is om vir jou te gee.”

Van der Merwe teken soms hier in sy voorkamer in vir uitsendings (in 4K en hoëresolusie-oudio) van die Berlynse Filharmoniese Orkes vanuit Duitsland.

Hy druk PLAY. Strawbs neem die klankgolwe oor en Van der Merwe lyk versigtig optimisties. “As a union man I’m wise / To the lies of the company spies / And I don’t get fooled by the factory rules / ’Cause I always read between the lines,” lui ’n strofe uit dié treffer.

Dit is Van der Merwe se 43ste hoëtroustelsel. As student op Stellenbosch kon hy sy gangmaats in Huis Marais vermaak met ’n mengelmoes van ’n klankapparaat: Kenwood-versterker, ’n paar Philips-luidsprekers en Pioneer-kassetspeler … Dit was die early years en daar was kompetisie (“ou Saal de Jager se Techniks”, onthou Van der Merwe).

Nou, as pensioentrekker, is een van dié oud-Matie se stokperdjies om musiek te orden en te deel. “Ek het so 50 000 liedjies en maak vir mense speellyste, kategoriseer dit. Lekker dans, iets romanties.”

Sy liefde vir musiek en toewyding aan die soeke na “high fidelity”, asook die hoë empatie met die konteks van die “ontvanger”, is ooglopende parallelle, maar nie die enigste skakel met sy lang loopbaan in Bybeltale en vertaalteorie nie. Aangesien hy in die 1990’s slegs ’n termynpos by Stellenbosch gehad het, en nie Saterdae in sy tuin wou werk nie, het hy eerder vir ’n halwe oggend per week as HIFI-verkoopsman in Stellen Sound op Stellenbosch gewerk. Hy was dus iemand met ’n PhD toe hy nog op sy knieë in die sitkamers van allerlei welgestelde Stellenbossers HiFi-installasies en versiening behartig het.

Ons keer terug na die Bybel.

Die eerste Afrikaanse Bybel is in1933 gepubliseer, taalkundig hersien in 1953 en dan was daar die 1983-vertaling waar die Bybelgenootskap se vertaalspanne ’n heel ander vertaalbenadering volg as 50 jaar vantevore.

Van der Merwe skerm vinnig, hy is nie ’n vertaler nie. Hy konsulteer oor Bybelse Hebreeus. Dit is nie ’n taal wat jy vandag in die strate van Jerusalem teëkom nie. Dit is die taal van die Ou Testament. Die studie daarvan is nie alleen moeilik omdat dit nie meer gepraat word nie, of omdat die morfologie soms ingewikkeld of die sintaktiese kenmerke vir Afrikaanssprekers vreemd is nie, dit word bemoeilik deur die feit dat ’n kwart van die woorde wat in die Ou Testament gebruik word, slegs een keer voorkom. Studente steun dus swaar op naslaanvaardigheid eerder as om woordeskat in te dril. Naslaangrammatikas is trouens die student se langtermyngeheue, skryf Van der Merwe in “Taal en tegnologie as vensters op die Bybelse wêreld” in Anderkant die breuklyn? Nuwe ontwikkelings in teologie (Bybel-Media, 2019). Dit spreek dus vanself dat iemand wat ’n groot bydrae tot die ontwikkeling van naslaangrammatikas maak, ’n groot bydrae tot ’n ganse generasie se verstaan van die Bybel maak. Christo van der Merwe is so iemand, en een van ’n groep sleutelfigure in die jongste toevoeging tot Bybels op die rak van Afrikaans. Die vertaalopdrag vir die 2020-vertaling (’n woord waarheen Van der Merwe keer op keer terugkeer as ’n mens met hom oor die onderwerp van Bybelvertaling praat) was om ’n goed verstaanbare, bronteks-georiënteerde Afrikaanse vertaling vir voorlesing en persoonlike gebruik te skep.

 

Wie is Christo van der Merwe: Take two

“Beaufort-Wes gebore. My pa was op die spoorweë en ek en my broer was omtrent die eerste in ons groter familie wat universiteit toe gegaan het. My pa het st 6 gehad. Ek het net geglo ek het die roeping en het gaan teologie swot (die destydse ‘admissie’).

Ek is Stellenbosch toe, was lekker gerattle deur al hierdie nuwe teorieë oor die Bybel en al my kinderkransgeloof wat uit my uitgehaal is. Dit is waar jy agterkom daar is drie Jesajas en die eerste vyf (Bybel)boeke is nie deur Moses geskryf nie … Al daai basiese goed. Dit was nie vir my ’n groot issue nie, maar dit was als anders as wat ek gedink het.”

Van der Merwe besef mettertyd waar sy ware belangstelling lê. “Toe het ek agtergekom die meeste Duitse Bybelwetenskaplikes (met hulle bronteorieë ens) gee geen knerts om wat iemand preek nie. So (hulle) vra tipies in hulle kommentare oor die Ou Testemant net: Wat het nou eintlik gebeur? (Hulle) wil ’n geskiedenis skryf. En of dit nou ’n invloed het op die gewone kerkmens, het hy nie ’n saak mee nie. In die proses het ek naïewelik gedink: Al waarvan ek kan seker wees, is die teks. Ek het hierdie fassinering gehad (daarmee). Dit is hoe ek by Hebreeus uitgekom het. En ek het een nag ook maar ’n oortuiging gekry dat ek ’n honneurs in Hebreeus moet doen.”

In 1986 gaan studeer Van der Merwe oorsee. Hy leer Duits en ontmoet Wolfgang Richter.

“Richter was ’n Roomse priester wat uit die kerk geskop is oor hy later in sy lewe getrou het. Maar jy kan in Duitsland nie ’n beampte skors nie, toe gee hulle vir hom ’n instituut. Richter het volgens my begin om die grondslag te lê vir ’n meer moderne grammatika van Bybelse Hebreeus,” sê Van der Merwe oor die vordering van sy eie denke deur die era waarin die “heersende konvensie” was dat die taalkunde tot “harde” wetenskap verhef moet word. “Ons moes met feite werk! Maar dit is dróóg en dit het my nie gehelp om ‘ook’ te beskryf nie. Wolfgang Richter ook nie,” sê Van der Merwe.

 

Klein woordjies se groot rol

’n Woord soos “ook” was die sleutel vir Van der Merwe. Reeds as student het hy besef dat Bybelkommentare se taalkundige modelle verouderd is en veral die klein woordjies “onderbestudeer” is.

“Die woordeboeke is eintlik net ’n lys van vertalingsmoontlikhede, jy weet nie hoekom is hierdie ’n beter keuse as daai nie. Dit het my gemotiveer en ek het besef: Begin by die klein woordjies. Ek het my PhD oor die woord ‘ook’ (in Hebreeus) gedoen.” (Uitgespreek soos kougom in Engels: gum).

Van der Merwe verduidelik: “’n Belangrike ontwikkeling in die taalkunde, te wete kognitiewe taalkunde, het beklemtoon dat taal ingebed is in kultuur. Daar is nie ’n taalmasjientjie in jou kop nie … dit word aangeleer. En ’n taalgemeenskap bepaal hoe lyk die kodes van daai taalgemeenskap. Daar is algemene kognitiewe vaardighede, maar andersins is taal ingebed as ’n stel kodes wat kultuurspesifiek deur konvensies bepaal word. En elke woord word ingevul deur die leefwêreld,” sê Van der Merwe en antisipeer dit is hoog tyd vir ’n baie konkrete voorbeeld.

“Byvoorbeeld, as ek praat van braai. As ek in die Kaap praat van braai is dit tjops, broodjie, rooiwyn. In Gauteng as jy braai is dit steak, pap en wors, brandewyn en Coke. So, as jy kyk, die inhoude van die woord braai in dieselfde land en in dieselfde taalgemeenskap is verskillend. So, begin nou dink oor die kompleksiteite van ’n tydperk 2 000 jaar gelede wat jy nou probeer begin verstaan.”

Dit was veral Van der Merwe se werk om hom te verdiep in “ook” wat vrugte oplewer. “In Afrikaans het jy ook en selfs … En selfs is eintlik maar net ook met ’n bietjie wat ons noem pragmatiek by. As ek sê ‘Piet en Jan het gekom’, is dit neutraal. Maar as ek sê ‘Jan en ook Piet het gekom’, is dit ’n bietjie meer belangrik dat Piet moes gekom het. As ek sê ‘Jan en selfs Piet het gekom’, beteken dit jy’t nie verwag Piet moes kom nie. Net dit het vir my die insig gegee hoe tale verskil. By Engels kodeer hulle daai pragmatiese deel met ‘even’. Toe het ek agtergekom hier is kompleksiteit.”

Hy moes uiteindelik Richter se denke agterlaat in sy soektog na nadere woordbetekenis. Uiteindelik vind hy ’n tuiste onder dié wat glo betekenis moet strook met wat ons weet oor hoe mense se kop werk. Dit steun op insigte van psigolinguistiek. “Die skerp punt van kognitiewe taalkunde was hierdie hele idee van kategorieë: Jy het ’n kategorie met die naam van ’n ding soos ’n voël … en ’n prototipiese voël is ’n mossie, maar ’n pikkewyn of volstruis is nie ’n prototipiese voël nie,” sê Van der Merwe.

“En net so met betekenis. ’n Ding het ’n prototipiese betekenis en minder prototipiese betekenis. Verskillende betekenisse is nie dieselfde nie. Vat byvoorbeeld rooi. Die rooi van lipstiffie is prototipies, maar die rooi van ’n jakkals is nie ’n prototipiese rooi nie, tog praat ons steeds van ’n rooijakkals. Hulle gaan nie in Engels praat van ’n rooijakkals nie, byvoorbeeld.” Daardie insigte trek Van der Merwe deur na die Ou Testament. “Neem die Hebreeuse woord wat in Afrikaans uitgespreek word as ‘minga’. Die woordeboeke lys dat dit na 1) ’n present; 2) ’n tribuut; 3) ’n offer in die algemeen of 4) ’n spesifieke offer, naamlik ’n graanoffer kan verwys. Wat was die prototipiese gebruik van die woord en wat was minder prototipies en watter een gebruik jy nou (in die vertaling na Afrikaans)? Jy kan nie net vertalingsmoontlikhede gee nie, jy moet sê wat is meer prototipies – dit maak vertaling minder lukraak … Die implikasies vir Bybelvertaling is baie groot,” aldus Van der Merwe.

Van die middel-’90s, nou in ’n termynpos by die Universiteit van Stellenbosch, het hy by Bybelvertaling betrokke geraak. Eerstens by ’n vertaling vir dowes. “Nie as vertaler nie … ek is nie ’n vertaler nie. Ek kan aandui wanneer ’n vertaling nie aan die Hebreeus van die teks reg laat geskied nie,” sê hy weer en verduidelik breedvoerig wat die werk behels as “Hebreeuse konsultant” in die vertaalproses, wat vertalers, taalkenners en ander spesialiste insluit. “Die 1933 en 1955 (vertalings) was woord-vir-woord-vertalings,” verduidelik Van der Merwe. In daardie dae het taalkunde tipies op woorde en hulle herkoms gekonsentreer. “As jy elke woord kan weergee met ’n ander woord het jy getrou vertaal … al het dit gekrap,” sê hy. “In 1933 was daar ook ander faktore, lesers het nog die Nederlandse Statenvertaling geken, wat kom uit die 1600’s … Die destydse opdrag was: Moenie die mense vervreem van die Statenvertaling nie,” verduidelik hy.

“In die middel-1950’s het taalkundiges al meer op die bestudering van sinne begin fokus. Toe besef mense, woord-vir-woord-vertaling is gevaarlik. Elke taal het ’n unieke struktuur en hoe hy dinge doen en jy moet dit respekteer. En jy moenie woorde vertaal nie, jy moet betekenis vertaal.”

Die volgende “hoofstuk” in vertaalkunde is oorheers deur die konsep van dinamiese ekwivalensie, ook genoem die funksioneel-ekwivalente-vertaalmodel. “Eugene Nida was die groot hond in daai skool,” herinner Van der Merwe ons.

Wat beteken dit prakties? ’n Hebreeuse uitdrukking soos “die Here is my horing” word nou liefs vertaal as “die Here is die bron van my krag”. Dinamies in woordkeuse, ekwivalent in betekenis. “Die punt is, ‘die Here is my horing’ is wel Afrikaans, maar mense verstaan dit nie.

Kranige lesers van verskillende vertalings sal kan getuig daarvan dat sommige vertalings in die tweede helfte van die 20ste eeu na parafraserings begin oorhel het. Dan word ’n soldaat sommer ’n polisieman. Alhoewel die 1983-vertaling nie so ver gegaan het nie, was dit tog ’n sogenaamde ‘lekkerleesvertaling’. Dit was belangriker dat die vertaling verstaan moes word as om so naby aan die brontekste te bly as moontlik. Kritici het gewaarsku die 1983- Afrikaanse vertaling gaan te ver van die teks af. “Daarom het baie gesê 1933 en 1955 is nader aan die bronteks.” Groeiende ongemak met die vryer vertaling van die 1983-vertaling as “kansel-Bybel” het gelei tot wat uiteindelik die vertaalopdrag sou word wat meer as ’n dekade uit Van der Merwe en talle ander se lewe geneem het.

’n Belangrike ontwikkeling in vertaalkunde is dat mense besef het die einste “ekwivalensie” waarna hierbo verwys is, is feitlik onmoontlik. Baie vertaalkundiges van sekulêre werke het selfs hulle belangstelling in die konsep ‘ekwivalensie aan die bronteks’ verloor. Tog het daar konsensus begin ontwikkel dat ’n vertaling altyd beoordeel moet word aan die hand van die funksie wat ’n opdraggewer wil hê dit moet vervul. In die geval van vertalings van die Bybel word tipies veronderstel dat een van die funksies van vertalings van die Bybel is om die brontekste so getrou moontlik weer te gee. Dit geld ook vir die pogings van vertalers om dit vir moderne mense verstaanbaar te maak met behulp van hulle interpretasies. Dit is dus belangrik vir kerke (wat die vertaalopdrag gee) om (by lesers) te hoor wat wil hulle hê.” Een versugting wat deurgaans duidelik was met die 2020-vertaling is om getrou aan die bronteks te bly. ’n Opvallende 2020-oplossing tot dié geweldige uitdaging frustreer sommige lesers en verruk ander: voetnotas. Baie van hulle.

“Die feit dat daar nie voetnotas in Bybels was nie, is ’n moderne ding,” sê Van der Merwe. Die ou Statenbybel is omtrent een derde van die blad voetnotas. Die 1983-vertaling het geen notas gehad nie. Dit was deel van die pakkie, dat jy dit moet vertaal asof dit ’n moderne dokument is. Dit was die gees van die tyd.”

Die 2020-vertaling is natuurlik ’n perd van ’n ander kleur. Gespikkel met notas. Die voordeel uit Van der Merwe se hoek gesien, is die volgende: “Ek word nie meer beperk deur wat vir die gehoor bevatlik is nie, die rykheid van die kultuur word belangrik. Ek bring nie die teks na die leser nie, ek bring die leser na die teks.” Ek lyk miskien te verfris deur dié sêding, want die prof voeg vinnig by: “Dit is ’n ou onderskeid deur Schleiermacher – maar dis relevant.

Die beginsel is dus: Indien vertalers vermoed dat hulle poging om so na aan die bronteks te bly in goeie idiomatiese Afrikaans ’n uitdrukking bevat wat moderne lesers nie sal verstaan nie, of sal misverstaan, moet daar ’n voetnota verskaf word. Of daar egter soms te min of soms te veel voetnotas gegee is, is op hierdie stadium ’n ope vraag.”

’n Mens sou op hierdie punt die twee groot Afrikaanse vertalings van die laaste vier dekades langs mekaar kon oopslaan by Psalm 22:22. Dan lees jy in die 1983-vertaling: “Red my uit die bek van die leeu en tussen die horings van die wilde beeste uit.” In 2020 se weergawe lui dit: “Red my uit die bek van die leeu, en van die horings van buffels.” Met, natuurlik, ’n voetnoot. Dié lui: “Daar is onsekerheid oor die identifikasie van diere. Dit verwys waarskynlik na die Kaapse buffel (Syncerus caffer), wat wel in die Ou Nabye Ooste voorgekom het. Word ook vertaal as ‘oerbeeste’ of ‘renosters’.”

Ek vra Van der Merwe oor die terugvoering wat hy oor die vertaling ontvang het. “Een mens het gesê daar is te min kaarte, maar daar is baie kaarte,” sê Van der Merwe. “Ek glo (die vertaling) gaan die toets van die tyd weerstaan. Dit is ’n eerlike poging gebaseer op heelwat nuwe inligting om so na as moontlik aan die bronteks te bly. Natuurlik is daar foute, natuurlik is daar gate. Maar mense wat ernstig Bybelstudie doen, is oor die algemeen baie positief daaroor.”

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

3 thoughts on “PROFIEL | Christo van der Merwe: Die groot insig wat klein woordjies vir sleutelfiguur in Afrikaanse Bybelvertaling gebring het”

  1. Johannes Froneman

    Wat ‘n lieflike artikel oor ‘n fassinerende man en ‘n altyd uitdagende onderwerp. Volpunte. Dit is artikels soos dié wat Kerkbode onontbeerlik maak.

  2. ‘n Besonder stuk inligting wat die 2020 vertaling my beslis meer laat verstaanbaar maak.Dankie vir die goeie verduidelikings en tydige artikel omdat daar steeds baie debatte is oor watter sou die beste vertalings wees.
    baie dankie

  3. Ek het prof Christo se “biografie” gelees en geniet. My pa was wel ‘n vertaler en het veral die Bybelvertalings met ‘n skerp oog gevolg.
    So jammer dat die “reuse” soos Christo ouer word. Mens sou graag ‘n lang gesprek met Christo wou gehad het.
    Interessant dat die skrywer van die artikel ongelukkig ‘n woord soos “als” (swak Afrikaans vir “alles”) gebruik?
    Ek het ook die
    nuwe NGK” se “IN PAS” dokument onder oe gehad en dit is skrikwekkend dat die Afrikaans wat hulle gebruik nie met die gewone lidmaat praat nie. Wil Christo nie die opstellers van IN PAS onder hande neem en hulle goeie Afrikaans leer nie, asseblief?

Comments are closed.

Scroll to Top