Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Francois Retief vertel: My verhaal met “om te gee” het verskeie episodes

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Francois Retief skryf:  Oom Piet Botha kom elke maand by die kerkkantoor met sy R20 dankoffer – en ek het geweet dis eintlik sy broodgeld. My opmerking dat hy dit eerder vir hom en die tannie moet gebruik, is beantwoord met “dominee, hierdie geld is die Here s’n.” Klaar gepraat.

Dis basaartyd. Die tannie stoot ‘n winkeltrollie vol vleis by my verby. “Dominee, vandag het ek baie vir die kerk gegee.” “Nou hoe so, tannie?” “Dominee, ek het R800 se vleis by die vleistafel gekoop…” My kop maak vinnig sommetjies: ons prys ons vleis so 10% onder dié van die slaghuis oorkant die kerk. Ek sê niks, maar wat eintlik hier gebeur het, is dat tannie Erasmus goeie besigheid gedoen het. Gee? Nie sy nie. Wel die boer wie se skaap of bees ons hier verwerk het.

Ons doen Sondag ‘n oproep op die gemeente om tydskrifte te skenk vir ‘n ouetehuis in Zimbabwe met Afrikaanse inwoners. Afrikaanse tydskrifte bestaan nie daar nie. Maandag so 10:00 se kant stap ek by die kerkkantoor in. Dis chaos. Die hele gang lê vol tydskrifte. Oues. ‘n Huisgenoot wat twee weke oud is, begin al sleg lyk. Weet jy hoe lyk een wat vir 5 jaar in die motorhuis gelê het? Gee? Beslis nie. Ontslae raak van gemors? Ja. Ek het daardie tydskrifte net so op my bakkie gelaai en by die vrou wat die herwinning doen, gaan aflaai. En ek het myself belowe om nooit weer vir ou klere, ou skoene, ou wat-ookal, te vra nie. Dis weggooi – nie gee nie. Gee kos iets…

‘n Mooi gee-episode: ons hou Pinkster in die yskoue winter van Ermelo. Ons noem dit ons Serpe-Pinkster. Elke aand kom ons elkeen met ‘n serp om die nek gedraai. Dis ‘n fees van kleur: gekoop, gebrei, universiteite en skole se serpe. Ons tref ‘n reëling vir Sondag se Pinksterfees. Ons kom weer elkeen met ‘n serp kerk toe. Met een verskil: hierdie keer gaan ons die serpe net daar los – om te gaan gee vir die kinders van ‘n plakkerskamp langs die Piet Retiefpad. Sondag kom – en wat ‘n gesig! Die mooiste oomblik kom by die antwoordlied: terwyl ons die lied te sing, haal almal hulle serpe af en hang dit oor die banke voor hulle. Ek het nog nie ‘n mooier kerk-prentjie as hierdie gesien nie.

Dinsdag gaan ek en kollega Jaco na die plakkerskamp. Dis plesier en vreugde en ‘n gejil soos min. (Daar het wel ‘n “fight” uitgebreek oor die geel Bafana Bafana serp. Die hoofman het hierdie rusie gou uitgesorteer deur die serp vir homself toe te eien.)

En toe ons Sondag die foto’s op die skerm in die erediens wys, was daar meer as een wat ‘n traan afgevee het. En iemand sê na die tyd: “dit bly maar lekker om te kan gee…”

Ek vermoed dit is oor hierdie soort gee wat die vroeë Christene se Jesus-lied in Fillipense 2 gaan. En ek lees weer die beginwoorde: “dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was…”

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top