Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

zweli
Dr Zweli Mkhize was die gasspreker tydens ’n Godsdiensvryheid Imbizo gehou op 3 Oktober by Kasteel die Goeie Hoop in Kaapstad. Foto's: Heléne Meissenheimer

Minister paai vrese rondom staatsbeheer van kerke tydens hoëvlak gesprek by Kasteel die Goeie Hoop

“There’s a distinction between regulating unlawful conduct and regulating religion itself.”

Só het die DA parlementslid Andrew Bateman onlangs vir ’n groep Christelike geloofs- en tradisionele leiers gesê wat in die Kasteel die Goeie Hoop saam was.

Bateman was een van 11 sprekers wat op Saterdag 3 Oktober genooi was na ’n Godsdiensvryheid Imbizo met dr Zweli Mkhize as gasspreker. Mkhize in sy hoedanigheid as voorsitter van die portefeuljekomitee van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) het toesig oor die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe (CRL-Regskommissie).

Hy het die versekering gegee dat die regering, ingesluit sy party, die ANC, geloofsvryheid en vryheid van uitdrukking soos verskans in die Grondwet as “sacrosant” (heilig) sien.

Buite het ’n sterk Suidooster by tye so hard gewaai dat die emosionele betoë moeilik hoorbaar was. Sentraal tot hierdie drieuurlange gesprek was die kommer van sommige Christelike organisasies sowel as politieke partye dat die uitkoms van die CRL-Regskommissie se taak, naamlik om klagtes van uitbuiting en ongerymdhede by sommige kerke te ondersoek en gedragsraamwerke te ontwikkel, sou kon uitloop op ’n scenario waar gelowiges se grondwetlike vryhede wetlik ingeperk word.

Die ACDP se eerw Kenneth Meshoe het byvoorbeeld verwys na ’n onlangse voorval waar ’n Finse parlementslid wat op sosiale media gesê het homoseksualiteit is sonde volgens die Bybel voor die hof gedaag is. Sy vraag aan die gehoor en die minister was “sal so iets ooit in Suid-Afrika gebeur?”

Die ACDP se eerw Kenneth Meshoe het byvoorbeeld verwys na ’n onlangse voorval waar ’n Finse parlementslid wat op sosiale media gesê het homoseksualiteit is sonde volgens die Bybel voor die hof gedaag is. Sy vraag aan die gehoor en die minister was “sal so iets ooit in Suid-Afrika gebeur?”

In Suid-Afrika dui die nuutste sensus daarop dat sowat 85% van inwoners as Christene identifiseer terwyl in Finland hierdie syfer tussen 62% en 64% lê.

Die ACDP-leier was nie al een wat hieroor bekommerd was nie. Op hierdie oggend was die verenigende krag van so ’n gedeelde kommer sigbaar ten spyte van die teenwoordiges se diverse agtergronde. Biskoppe, apostels, pastore, tradisionele hoofde en politieke afgevaardigdes was dit almal eens. Kerke en geloofstradisies moenie deur die staat gereguleer word nie. Soos verwoord deur biskop Thom Thamaga: “We must protect both the public and religious freedom. Protecting people from exploitation and criminality whilst protecting freedom of religion are not competing objectives. Our constitutional democracy must be faithful of doing both.”

Die gespreksgeleentheid kom na maande van toenemende spanning tussen sommige Christelike groepe en die CRL-Regskommissie met hofgedinge en optogte wat reeds uit protes gemaak is. In Januarie het prof Musa Xulu, voorsitter van die kommissie se komitee van ondersoek (ingevolge Artikel 22) bedank en “ernstige onreëlmatighede” en “intimidasie” gelys as van die redes vir sy besluit soos berig in Kerkbode.

Tydens sy spreekbeurt van bykans 50 minute het dr Mkhize verskoning gevra dat sy departement so lank neem om te reageer op die etlike klagtes wat oor die CRL-Regskommissie ontvang is.

Met verwysing na die waardering wat daar is vir die groot rol wat godsdienstige leiers gespeel het tydens apartheid en daarna as bemiddelaars in gesprekke het hy gesê hy is seker ook in hierdie saak sal daar tot ’n ooreenkoms gekom kan word.

Wat sê die NG Kerk hieroor?

Die Algemene Sinode Moderamen (ASM) het in Maart vanjaar in ’n verslag opgesom wat die NG Kerk se bekommernisse oor staatsbeheer van godsdiensvryheid is asook die wyse waarop die NG Kerk inspraak het op die werksaamhede van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe (CRL-Regskommissie).

Lees meer: Elders gesien | Oor staatsbeheer van godsdiensvryheid

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top