Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Marais Kluge (middel) is op die eerste dag van die sinodesitting bedank en gegroet as voorsitter. Ds Tienie Swanepoel is in sy plek verkies. Foto’s: Heléne Meissenheimer

NG Kerk in Noord-Kaapland hou sinodesitting | Dag 1: ‘My bede is dat God hier sigbaar sal word’

“Ons het nie ’n boodskap gekry dat ons ’n klein klippie moes bring nie.” Ds Thabo Pienaar staan met ’n groot rivierklip uit die Oranjerivier in sy hande. Hy het dit namens die ring van Hopetown gebring na die 23ste sinodesitting van die NG Kerk in Noord-Kaapland wat Maandag 12 Oktober in Kimberley begin het. Heléne Meissenheimer doen verslag vir Kerkbode. 

Die sinodesitting se tema is “Saam op pad” en duur tot Donderdag 15 Oktober. 

Uit elkeen van hierdie kleiner kerklike streek se 11 ringe het iemand ’n klip saamgebring wat eie is aan hulle streek. Uit die verhale saam met elke klip is gehoor van uitdagings met ’n tekort aan predikante (29 gemeentes is vakant) maar die middag het ook uitgelig dat lidmate wat geroepe voel om in hulle gemeentes as diensleraars of bedienaars te bedien ’n groot verskil maak. In hierdie streek is sowat 30 werkende bedienaars van die Woord soos hierdie nuwer korter teologiese opleidingsopsie genoem word.

 

Toe die klipstapeltjie van klein en groot klippe daar lê, het Melt Van der Spuy Loubser almal se aandag gerig op hoe verskillend die klippe is. Hy het gesê dit weerspieel iets van die diversiteit binne hierdie saamkoms van sowat 135 predikante, diensleraars, bedienaars en ouderlinge.

“Ons kom nie met ons saamwees om ons eie identiteit op te offer nie, ons kom smoor nie ons eie verhale nie, maar ons is saam en ons kom luister na mekaar … ons kom as die beeld van die liggaam van Christus,” het die leraar van Grootdrink-gemeente langs die Oranjerivier gesê.

Hy het die vergadering geopen in die plek van ds Kobus van Tonder wat nie kon kom nie weens kankerbehandeling. Die teks was uit Lukas – die verhaal van die Emmausgangers by wie Jesus aangesluit het sonder dat hulle Hom aanvanklik herken het. Hy het gesê soos die twee manne in die verhaal is ook die kerk van die Noord-Kaap op reis. “Ons kan nie kerk wees as ons dit nie doen vanuit konteks van Christus se opstanding nie … al sien ons ook klippe op pad. My bede vir hierdie sitting is dat God hier sigbaar sal word op ons reis … het hy bygevoeg.

Tienie Swanepoel (’n diensleraar van Daniëlskuil-gemeente) is op 12 Oktober in Kimberley tot nuwe voorsitter van die sinodale kommissie van die NG Kerk in Noord-Kaapland verkies.
Die hooftaak vir die middag was om nominasies vir ’n nuwe voorsitter en ondervoorsitter vir die res van hierdie sitting (daarna dienend op die sinodale kommissie) in te neem en dan te stem. Met ’n anonieme elektroniese nee of ja op ’n Whatsapp-groep in plaas van die tradisionele stembriewe.

Twee jaar gelede het hierdie sinode die groot stap geneem om vir die eerste keer in jare ’n kommissie met ’n oorsigrol tussen sinodesittings in plek te stel. Emeritusleraar Marais Kluge het as voorsitter in sy terugvoer oor hierdie “proefneming” genoem daar was ’n paar uitdagings maar beslis ’n tree in die regte rigting. 

Die hooftaak vir die middag was om nominasies vir ’n nuwe voorsitter en ondervoorsitter vir die res van hierdie sitting (daarna dienend op die sinodale kommissie) in te neem en dan te stem. Met ’n anonieme elektroniese nee of ja op ’n Whatsapp-groep in plaas van die tradisionele stembriewe. Dié skuif se tegniese groeipyne het egter meegebring dat eers teen vyfuur die middag net vir ’n nuwe voorsitter gestem kon word.

Ds Tienie Swanepoel, ’n diensleraar van Daniëlskuil, het die meeste stemme gekry.

Lees meer oor sy roepingsverhaal: Roepingsverhale: Nege predikante kyk terug op hulle geloofsreis

  • Kerkbode woon die vergadering by en sal deurgaans verslag doen.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top