Hoe het jy jou roeping gehoor? Kerkbode het agt dominees en een diensleraar gevra om hulle eie storie te vertel.
Lizl-Louise Schoeman (Noordelike Sinode): Ek kyk terug op 30 jaar in die bediening en onthou ’n naïewe jongmens wat in 1990 begin studeer het met die idee dat daar waarskynlik nie plek vir haar in die kerk sou wees nie. Dit was immers die jaar waarin die NG Kerk vroue tot die bediening toegelaat het – sonder rolmodelle of mentors, net moontlikhede.
Die bediening het my egter verras: eers Valhalla en later Monumentpark, waar ek saam met kollegas en gemeentelede die nabyheid van die Here leer ken het, en binne die Noordelike Sinode geleenthede gevind het om te groei.
Roeping loop selde reguit. Met die geboorte van ons dogter met Down-sindroom in 2004 het ek tydelik afgeskaal. Daardie seisoen het my geleer dat roeping minder gaan oor wat ons doen en meer oor wie ons word in ’n genadige God se hande.
Selfs die verkiesing as moderator was deel van hierdie verrassing: nooit ’n duidelike pad nie, net ’n reis wat ontvou – ’n saamleef met die Heilige Een wat sy hand op ons lewe lê.

Lees ook: Algemene Sinode Moderamen: Oor susterkerke, die skenking aan noodlydendes in Gasa en gesprek met Groote Kerk
Dawie Botes (Vrystaat): Die Here het my kom roep agter groot mynhope en hoëskagtorings in die Goudvelde. As ’n pastoriekind in Odendaalsrus se strate was my grootste pret om te kyk hoe hoog ek ’n rugbybal in die lug kon skop en vang. Toe een dag sien ek iemand op die sypaadjie van ons straat sit en skielik het ek ’n brandende begeerte om met hom oor Jesus te praat wat ek ook gedoen het. Dit was seker my eerste klein treetjie na die Here se roeping.
’n Verdere roeping het ek ervaar in talle van my pa se eredienste. Elke keer as die gemeente die Onse Vader sing dan sing my pa tweede stem en dan het ek weer daardie roeping beleef. My ma se kategeseklasse het my ook gevorm.
Die Here het ’n sin vir humor, want ek was die enigste van ons vier kinders met ’n gesplete verhemelte. Vir lank was dit vir my moeilik om voor mense te praat. Maar die Here gee krag en inspireer my. Hy help my nou nog Sondag vir Sondag.
Ek geniet dit vandag nog ongelooflik baie om ’n dominee te mag wees – alles is vir my lekker. ’n Paar Sondae gelede het ek skielik by die kanseltrappe half gevries en vir die Here sommer weer dankie gesê dat Hy my geroep het. Die Here het vir my ’n gesin gegee wat my baie help in my roeping – Animé, my beeldskone vrou en twee oulike kinders, Dawie en Liné. Hulle hou my arms hoog.
Toe die Here vra: “Wie sal Ek stuur?” (Jes 6:8), het ek skaam agter die mynhope bang my hand opgesteek met lomp lippe: “Ek sal probeer, Here”. 1 Korintiërs 2:2; AFR83: Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde.

Jeanine Stoffberg (Hoëveld) : Ek het nie grootgeword met ’n netjiese roepingsverhaal nie. Ek het grootgeword met iets in my wat eenvoudig nie rus wanneer dinge nie reg is nie. Ek raak onrustig oor dominees wat mense seermaak, oor kerklike besluite wat onreg verskoon, en oor ’n kerk wat soms heeltemal te gemaklik raak met stilte. Maar hoor my mooi: vir die NG Kerk is ek bitter lief. Sy is my moeder.
My pad hierheen was … interessant: ’n kinderdroom om dokter te word, ’n draai deur onderwys en ’n tyd in eiendomsverkope. Ek het nie ’n stem gehoor of ’n spesiale Bybelvers raakgelees nie. My finale keuse vir teologie het gekom nadat ’n dominee my ernstig aangeraai het om dit liewer glad nie te oorweeg nie. Ek was weer kwaad. Maar ek kon ook nie wegkom van die gevoel dat God my aanhou druk om te kyk, te vra en te praat nie.
Ek spot soms dat my geestelike gawe is om maklik ontstel te word. Miskien is dit waar. Miskien is my roeping om ontstel te bly oor dit wat God ontstel, en om lief te hê op ’n manier wat nie stilbly nie.

Grant du Plessis (Goudland): Ek was bevoorreg om in ’n pastorie groot te word. Van kleins af het ek gesien hoe die Here my pa roep en lei. Sy bediening het ’n blywende invloed op my lewe gehad.
Reeds op ’n jong ouderdom het ek bewus geword van my persoonlike roeping om in die diens van die Here te staan – dat Hy my ook roep. Hierdie oortuiging het met die jare gegroei en al hoe sterker geword.
Ons gesin leef steeds daagliks in verwondering oor die Here se betrokkenheid in ons lewe. Sy leiding en genade dra ons, en dit bly vir ons ’n groot voorreg om in sy diens te staan.

Francois Neethling (KwaZulu-Natal): “Ek kan nie anders nie”. Dit was my antwoord in 1982 en is tot vandag my antwoord oor hoekom ek besluit het om predikant te word. Met ’n roepingsverhaal is dit makliker om terug te kyk en soos ’n goue draad God se teenwoordigheid in ’n mens se lewe raak te sien. Dit is aansienlik moeiliker om vorentoe te kyk.
Na my Admissie graad op Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) wou ek van rigting verander het omdat ek toe al bewus was van die ooraanbod van leraars. Tog kon ek nie anders as om met my teologiese studies by Universiteit Pretoria (UP) voort te gaan nie. Ek was bevoorreg om deel te wees van die eerste groep wat hulle sewe jaar se studies in ses jaar kon inpas. Die verkorte studies en kort daarna die afskaf van die twee jaar verpligte diensplig het die mark oorweldig met proponente sonder werk.
Enige beroep toe was soos ’n direkte roeping van die Here. So dra ek toe vir 20 jaar uniform as kapelaan. Dit was ’n opwindende bedieningswêreld met baie opwindende geleenthede. Ek kon selfs ’n middernagdiens op Sanae (Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Program) hou terwyl die son nog skyn. Ek het daarna ’n vrywillige skeidingspakket aanvaar, deels as gevolg van ’n al hoe sterker wordende stem wat sê dit is tyd om na my eie mense om te sien.
My roeping het my die moed gegee om KwaZulu-Natal toe te trek sonder dat ek op daardie stadium deur ’n gemeente beroep was. Vandag is ek self verbaas oor hoe ’n groot stap die onbekende in dit was. Tog het ek bykans onmiddellik by Durban-Oos se gemeente betrokke geraak, aanvanklik as tentmaker. Vandag, 17 jaar later, kan ek duidelik sien hoe die Here met my ’n pad tot hier gestap het. Net so seker is ek dat die Here ook die toekoms saam met my sal stap waar my pad my ook al heen sal lei. Dit vul my met dankbaarheid en vreugde.

Tienie Swanepoel (Diensleraar, Noord-Kaapland): Waarskynlik is die duidelikste manier om ’n roeping te ontvang, deur eers te weet wanneer jy nié ’n roeping het nie.
In Graad 11 het my predikantpa my na die studeerkamer ingeroep en gesê ek is gemaak vir predikant, hy sou my aanraai om teologie te gaan studeer. Die roeping vir predikant het toe nooit gekom nie. Terwyl ek wagtend was op die roeping tot predikant, ontvang ek toe wel baie duidelik ’n roeping om Antropologie te gaan studeer. Bisar, ’n onbekende vakkie, finansieel ’n irrasionele beroepskeuse. Vir 40 jaar het ek myself gereeld in wroeging afgevra waarom hierdie onpraktiese, sinnelose roeping. Die antwoorde begin nou stadig maar seker deurkom. Die meetsnoere begin in plek val, stuk vir stuk.
Tydens die 40 jaar soeke in die woestyn het ek in eie tyd, uit eksistensiële nood, my pa se teologiese boeke begin deurwerk. Die vrae van die lewe het geknel. Ná 21 jaar van informele teologiese studie het ek amptelik vir teologiese studie ingeskryf, steeds nie om predikant te word nie.
Toe die roeping tot die bediening uiteindelik kom was dit helder, duidelik, deur ’n groot droom, soos ’n stasiemeester wat die groot rangeerarm getrek het en beslis het “áf van hierdie spoor, klim op mý spoor, jy is uiteindelik gereed”. Ek het gevind, God het my gevind, ons is gelukkig saam.

Dewald Davel (Oos-Kaap): My storie is een van “Daar is vir jou nie wegkomkans nie”. Daar was geen uitsonderlike ervarings nie. Op die ou einde net ’n weet!
Ons gesin was ’n gewone gesin wat elke Sondag twee keer kerk toe is. Dit was die regte ding om te doen. So groei die moontlikheid van dominee word. In my gesprek met ons plaaslike leraar was sy advies: “As jy iets anders kan doen, doen dit”. Dit sou die refrein word vir my roepingsreis.
Tot en met matriek sou ek een of ander BSc-graad gaan swot het, maar êrens in daardie jaar was wiskunde, skeinat en biologie net nie meer fassinerend genoeg nie. Nadat die voorligtingsielkundige bevestig het ek het die vaardighede vir die beroep, het ek ingeskryf vir BA-admissie met sielkunde as hoofvak, net ingeval. Aan die einde van my derde jaar het ek geweet, sielkunde kan nie. Ek gaan Tukkies toe vir BDiv en doen ook my doktorale eksamens met Vroeë Kerkgeskiedenis as hoofvak. Tussendeur werk ek deeltyds, ek was ’n klerk by destydse HF Verwoerd-hospitaal, sekuriteitswerk gedoen, deeltydse dosent aan Unisa en uiteindelik kadet by Buitelandse Sake. ’n Poging om iets anders te doen!
Toe kom diensplig. Ek word geloot as lugmag-kapelaan en doen kapelaanswerk en sendingwerk in die Oos-Caprivi. Na diensplig was daar nie meer wegkomkans nie. Daar het net een moontlikheid oorgebly – om ’n dominee te wees. Dat dit die regte tyd is, is bevestig met ’n beroep na Benoni-Oos!

Willem Esterhuisen (Oostelike): Tussen al die woorde en gebeure lê daar so baie getuienisse, ingrype en beheer van omstandighede deur die Here. Wanneer ek kortliks hierdie verhaal vertel, is die vertrekpunt dat die lewe nie oor my gaan nie, maar om net in te val by die Here se roeping vir sy Goddelike plan vir sy koninkryk.
Om die Here Jesus en sy Woord lief te hê was vir my as jong seun ’n belangrike roepstem. Ek kon eenvoudig nie genoeg kry om by Jesus te leer nie. Op 17-jarige ouderdom hoor ek die roepstem van die Here uit 1 Korintiërs 9:16-18: “As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my ’n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie! As ek dit uit eie keuse doen, kan ek op loon aanspraak maak, maar ek doen dit nie uit eie keuse nie: dit is ’n taak wat aan my toevertrou is.”
Lees ook: Nuut op die rak | Bakengemeentes : Nagedink oor roeping en getrouheid
Hierdie roeping sou ook deur verskeie gebeurtenisse bevestig word. Dit sou onderliggend my lewe dryf, en doen dit nog steeds. Dit was ’n wonderlike voorreg om ’n geestelike vader in oom Albert Louw te kon hê. Deur sy mentorskap en bediening het ek geleer om dienaar van Christus te wees. In hierdie tyd het ek myself beskou as ’n wegloopkind van die NG Kerk na ’n ander denominasie, waar ek ook my BTh-graad sou voltooi. Ek het daarna in die sekulêre wêreld beland. Susan, my vrou, het voor ons huwelik al begryp enige sekulêre werk sal vir my net tydelik wees op grond van hierdie roeping om voltyds eendag in gemeentebediening te wees.
Op ’n wonderbaarlike manier kruis ons paaie met die NG Gemeente Alberton-Suid (Spannerkerk) deur ’n selgroep. Een van die gemeente se predikante het my gemotiveer om aansoek te doen om predikant in die NG Kerk te word. Ek het aansoek gedoen, die vereistes van die kuratorium by die Teologiese Fakulteit van Pretoria voltooi en is in 2004 gelegitimeer. Vyf maande later is ek beroep na Panorama-gemeente in Witbank. Dit is ’n wonderlike voorreg om die afgelope 20 jaar die wonderlike impak te sien van hoe die Here Jesus Christus deur sy Gees werk, veral deur sy Woord. Wat ’n voorreg om ook die kerk van Christus tot op Algemene Sinodale gebied te kan dien. My roeping is om saam met Christus die Here te leef.

Rudolph Scharneck (Wes-Kaapland): Vandat ek kon onthou wou ek ’n dominee word. My diepste begeerte was om ander van die Skrif te leer en mense met seer by te staan met Jesus se liefde. In my hoërskooljare het ek begin oorweeg om ingenieurswese te gaan studeer. My aanlegtoetse het ook bevestig dat die bediening nie die regte rigting vir my is nie. Tog het ek altyd met ’n diep sekerheid geweet daar is vir my net een pad. Laat in my hoërskoolloopbaan het ek vir my ouers laat weet dit is wat ek gaan doen.
Deur die jare het daar tye gekom wat dinge moeilik was, waar ek wou begin twyfel in my roeping. Elke keer het daar egter iets gebeur waardeur die Here opnuut aan my bevestig het dat Hy my geroep het vir hierdie wonderlike taak. Ek bly dankbaar vir my roeping.

