Bakengemeentes: Nagedink oor Roeping en Getrouheid is gebaseer op oorspronklike navorsing binne die NG Kerk en bied insig in hoe gemeentes aanpas by veranderende omstandighede. Die werk sluit kwalitatiewe en kwantitatiewe empiriese data in, versamel deur die NG Kerk se Algemene Taakspan Navorsing, en staan in gesprek met die 2030-droomscenario wat na afloop van die Algemene Sinode van 2019 geformuleer is.
Met verhale van 26 gemeentes, sowel as insigte uit die Kerkspieël- en Predikantepaneel-vraelyste, bied hierdie boek ’n ryk bron vir nadenke oor temas soos roeping, missionale leierskap, armoede en welwese, pastorale uitdagings en sosiale innovasie.
Lees ook: Dominees pen mense-stories neer as ’n naby-kykie op ‘bakengemeentes’ by Slypskool vir Skrywers 2024
Hoewel gefokus op die NG Kerk, sal die inhoud van waarde wees vir studente en belangstellendes uit verskillende denominasies en akademiese dissiplines. Hierdie publikasie het ’n streng anonieme eweknie-beoordeling ondergaan en bied ’n unieke blik op die uitdagings en geleenthede van kerkwees in die hedendaagse samelewing.
Hierdie boek is ontwikkel in samewerking met Clairvaux Skrywershuis en die Algemene Taakspan Navorsing van die NG Kerk.
Die boek word uitgegee onder die handelsmerk Barnabas Akademiese Uitgewers, ’n afdeling van CLF Uitgewers.
Bron: CLF