Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Gerhard Ferreira van Johannesburg skryf: Met die Koinonia-konferensie van 8 Oktober, waar die moontlikheid van ’n skeuring in die NG Kerk deur sommige teenwoordiges hanteer is asof dit reeds ’n voldwonge feit is, is dit dringend noodsaaklik dat die kerkvolk verby die emosionele retoriek kyk. Die NG Kerk se infrastruktuur en bates is oor geslagte heen deur lidmate bemaak en opgebou; dit kan nie onder die vaandel van ’n skeuring deur individuele groeperings uit die NG kerkverband vervreem word nie.
Die fondamente van Gereformeerde Kerkreg, soos neergelê in die Dordtse Kerkorde van 1619, is gebou op die absolute vermyding van konflik van belange. Die Romeinse regsbeginsel Nemo judex in causa sua of “Niemand mag ’n regter in sy eie saak wees nie”, vorm die hoeksteen van hoe kerkrade, ringe en sinodes ingerig is. Die hele struktuur van ons Kerkorde is juis ontwerp om te verhoed dat individue of groepe hulle amptelike posisie misbruik om hulle eie belange te bevorder. Artikel 31 van die Kerkorde omskryf byvoorbeeld die kerkverband en ring se rol en aanspreeklikheid duidelik wanneer gemeentes gestig, verander of ontbind word en slegs ’n ring het hierdie bevoegdheid tussen al die artikels van die Kerkorde.
Wanneer gemeentes of predikante sonder die nodige onafhanklike ringsgoedkeuring optree, word die beginsels van goeie orde geskend. Wanneer amptenare hulle amp en getuienis gebruik om kerklike eiendom en bates uit die verband te ontkoppel, oortree hulle hierdie basiese etiese eise. Die algemene publiek en kerklede moet hieroor ingelig wees. – Brief verkort – Red.
