Die tweede dag van die NG Kerk in Noord-Kaapland se sinodesitting het begin met die verkiesing van ds Leonie Pistorius as ondervoorsitter van die vergadering. Daarna het Jan Lubbe, die moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk, die groep predikante en ouderlinge gevra om na te dink oor hoe die familie van die kerk van Jesus Christus lyk. Van die besluite wat verder deur die loop van die dag goedgekeur is, was:
-
Gemeentes se sinodale bydrae verlaag van 6% na 5%.
-
’n Taakspan kommunikasie van vyf vrywilligers wat met stories, getuienisse en inhoud (die) roeping, hoop en bediening van die kerk in die streek sigbaar maak.
-
Ds De la Harpe Le Roux van Bloemfontein is die nuwe Predikant in Sinodale Diens.
Die tema van dag 2 was ‘Ons luister saam’. Die vraag vir die dag was: Wat hoor ons dat die Gees vir die kerk in Noord-Kaapland sê? Helene Meissenheimer berig vanuit die vergadering vir Kerkbode.
Lees ook: NG Kerk in Noord-Kaapland hou sinodesitting | Dag 1: ‘My bede is dat God hier sigbaar sal word’
Eerw Thomazile Sidumo van Daniëlskuil het ’n groeteboodskap kom gee. “Watter kerk gaan ons aan die volgende geslag nalaat?” Die moderator van die NG Kerk in Afrika vra hierdie vraag net voor middagete. Sy pleidooi was vir “groter respek en samewerking tussen ons gereformeerde kerke”. Hy het gesê verskillende kerke kan sáám beter doen om ’n getuienis van versoening en eenheid na te laat. In plaas van een van verskille. “My slotsin is ons is een in Christus … ons het uitdagings maar ons kom ook met hoop. Ek glo ons het ’n verantwoordelikheid om beter te kan doen … Mag ons nie net oor eenheid praat nie, mag ons eenheid uitleef,” het hy bygevoeg.
Voor hom was daar ook ’n groeteboodskap vanaf ds Johan Julies namens die VGK Streeksinode Phororo in die Noord-Kaap.

Vrae oor Caritas se pad vorentoe
Een van die grootste kwessies waaroor die afgevaardigdes gevra was om saam te luister, gaan oor die pad vorentoe met Caritas Gemeenskapsfokus. Dié maatskaplike hulporganisasie het 12 jaar gelede vanuit die NG Kerk in Noord-Kaapland ontstaan, juis om die kerk te help om armoede aan te spreek, het ds Arina Zandberg verduidelik. Hierdie dominee van Kimberley dien al vier en ’n half jaar op die organisasie se direksie en tree tans tydelik op as hoof van ondermeer bestuursake en finansies.
Ds Keydy O’Callaghan, Caritas se uitvoerende hoof, is in Desember laasjaar met kanker gediagnoseer. Hy is in Augustus vanjaar oorlede.
Liezanne Whittle, een van Caritas se maatskaplike werkers, is in die interim aangestel as hoof van programbestuur.
Zandberg het vertel ten spyte van uitdagings soos ’n tekort van R2 miljoen weens dalende inkomste is hulle trots daarop dat sowat 20 000 mense in die laaste boekjaar hulp ontvang het deur hulle hulpprogramme. Die organisasie het net twee takkantore, een op Kimberley en een op Vryburg, en bedryf ook ’n kinderhuis op Barkley-Wes wat tussen 80-85 kinders uit moeilike omstandighede ’n kans op ’n beter toekoms gee. “Liezahn sê altyd so mooi ‘agter elke getal is daar ’n persoon’ – vir ons gaan dit oor die mense agter die getalle. Ons missie bly wat ons naam sê liefde in aksie,” het Zandberg gesê. Sy het haar waardering uitgespreek teenoor die NG Kerk in Noord-Kaapland vir hulle deurlopende ondersteuning “sodat ons die werk kan verrig waarvoor die Here ons geroep het,” het sy bygevoeg.

Dit het egter ook geblyk dat hoewel daar groot waardering is vir die werk wat Caritas doen, daar ook frustrasie is. Daar is ondermeer gehoor sommige dominees voel die belegging in ’n diens wat net op ’n paar dorpe funksioneer beteken hulle het nie toegang daartoe in hulle eie gemeentes nie, maar moet daarvoor betaal. ’n Predikant van Kuruman het verduidelik hy “sit met ’n 3-jarige … met ouers wat mekaar slaan en ek kan nie Caritas vra om te help nie. Dit is waar die frustrasie vandaan kom”. Caritas “se arm is te kort”, het nog een dominee gesê. Veral in ’n streek waar sommige gemeentes voel hulle is in ’n oorlewingstryd.
Daar was vele soortgelyke verhale vertel. Dit is egter net een aspek van ’n komplekse probleem.
Dit blyk daar is diepgaande verskille oor hoe die kerk se steun vorentoe aan Caritas moet lyk. Die kerk ondersteun die organisasie geldelik en verskaf ook geboue vir Caritas se gebruik, ondermeer vir huurinkomste – van hierdie eiendomme is in die afgelope paar jaar deur die kerk verkoop.
Uit die verslae voorgehou het geblyk daar was al heelwat gesprekke om ’n oplossing te vind, ook ’n mediasieproses in Mei vanjaar, maar ’n vergelyk waarmee al die rolspelers kon saamstem kon nog nie bereik word nie.


Benewens die voorstelle in die agenda, is nog verskeie ander deur die loop van die dag ingedien. Na vyf die middag het ds Tienie Swanepoel as voorsitter van die vergadering halt geroep. Sy voorstel was dat die rolspelers daardie aand weer koppe saamsit en die volgende dag met ’n nuwe voorstel kom waaroor gestem kan word.
Dr Nioma Venter, die algemene sekretaris van die NG kerk, het net na middagete ’n sessie gefasiliteer wat die afgevaardigdes genooi het om, soos sy dit gestel het, “bietjie handrem op te trek” en net weer geanker te word in hierdie vergadering se ankerteks in Lukas 24 oor die Emmausgangers. Die twee reisigers by wie Jesus aangesluit het terwyl hulle met vrae geloop het. “Ons weet saam met Wie ons as Noord-Kaapse kerk op reis is – ons is op pad saam met Christus. Ons is Sy kerk,” het hierdie eertydse gemeentedominee van Prieska herinner.
Die vergadering duur tot Donderdag.
