Oktobermaand is in 2026 nie net Jakarandatyd in die noorde van die land nie. Dit is ook tyd vir die vergaderings van die streeksinodes. Binne enkele dae het Oostelike Sinode, Noordelike Sinode en Hoëveld Sinode vergader terwyl Noord-Kaapland se vergadering ook pas verby is. Hierdie vergaderings plaas ’n belangrike vraag op die tafel: “Wat maak dit, en natuurlik ook die vergaderings van ander streeksinodes belangrik?”
LEES OOK: Kerkbode se beriggewig vanaf die streeksinodesittings
Om op hierdie vraag te antwoord moet ’n mens eerstens kyk na die samestelling en funksie van die vergaderings. In teenstelling met die Algemene Sinode wat uit sinodes saamgestel word, word die streeksinodes uit gemeentes saamgestel. Dit beteken dat elke gemeente in die bepaalde geografiese streek verteenwoordiging op die vergadering het. Die kerkorde stel dit soos volg:
Artikel 32.1 Die sinode word saamgestel uit afgevaardigdes van gemeentes wat geografies ’n eenheid vorm en maklik vergader.
Afgevaardigdes bestaan ook nie net uit predikante nie. Die afvaardigings van gemeentes moet uit ’n gelyke getal predikante en kerkraadslede bestaan. Die gevolg is dat verteenwoording van grondvlak uit gemeentes plaasvind. Om wat te doen? In ’n neutedop saamgevat: Om te sorg vir die voortgang en koördinering van bediening in ’n bepaalde streek. Die sinodes is daar vir gemeentes en tot diens van gemeentes en nie om “baas te speel” nie. Sinodes is verantwoordelik vir hulle eie streekgebonde bepalings, die hantering van appèlsake, aanwys van afgevaardigdes na die Algemene Sinode, teologiese opleiding en die opname van ander belydenisskrifte in die kerklike bepalinge van die sinode, mits “die Algemene Sinode vooraf bevind het dat sodanige belydenisskrif nie in stryd is met die Skrif, die Formuliere van Eenheid en die erkende ekumeniese belydenisse nie.”
LEES OOK | Verstaan die Ou Testament: Die weerloosheid van vroue
Die belangrikheid van die streeksinodes lê verder in hulle historiese oorsprong. Die ontstaan daarvan gaan so ver terug as 1862 toe die Loedolff-saak veroorsaak het dat die gemeentes in die “Transgariep” die Kaapse sinode moes verlaat. Gemeentes in die Vrystaat, Natal en Transvaal het selfstandige sinodes gevorm wat bediening in die onderskeie gebiede bevorder het. Miskien is dit waar die grootste wins van streeksinodes lê: bediening in ’n spesifieke streek! Niemand kan die enorme diversiteit in Suid-Afrika in terme van taal, kultuur en ekosisteme ontken nie. Op die Hoëveld van Mpumalanga met sy oopgroef steenkoolmyne is die uitdagings wat aan gemeentes gestel word, heel anders as dit wat in die Karoo of die Wes-Kaap aan gemeentes gestel word. Die verskillende sinodes maak dit moontlik om hierdie diversiteit te omarm sodat gemeentes in die verskillende streke gehelp kan word om optimaal kerk van Jesus Christus te wees.
Die tema van die sitting van die Noordelike Sinode verwoord dit gepas: Droomdraers: onthou, verbeel en leef! So verstaan is sinodes nie maar net vergaderings wat moet plaasvind nie, maar die breëre kerk in ’n bepaalde streek van Suid-Afrika in aksie tot eer van die Koning van die kerk.
Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.
