Bediening op die platteland was die fokus van een van die wegbreeksessies tydens die NG Kerk Noordelike Sinode se sinodesitting. Die interaktiewe gesprek is gelei deur dr Tinus Benade van Thabazimbi, met bydraes deur Hannes Peens (Marken), Stefan Hoffman (Levubu), Arnold Smith (Swartwater), Erick Mulder (Vivo/Alldays), Sonika Kruger (Petronella) en Bianca Steyn (Marikana).
Benade het die gesprek ingelei met ’n skerp kontras: Hoewel 92% van die Noordelike Sinode se gemeentes in Gauteng geleë is en slegs 8% op die platteland, beslaan die platteland na raming 92% van die sinode se geografiese gebied. Gauteng beslaan die oorblywende 8%.
Hy het verteenwoordigers uit plattelandse gemeentes genooi om te vertel wat lidmate tans ervaar.
Gemeenskappe onder druk
Steyn van Marikana het vertel hoe mynbedrywighede die omgewing verander. Namate myne grond opkoop, word mense in die distrik gedwing om elders woon- en leefruimte te vind. Dit het volgens haar ’n direkte uitwerking op die gemeente.
Kruger van Petronella het beskryf hoe die opdroog van die Apiesrivier boerdery in die distrik raak. Die samestelling van die gemeente het gevolglik verander: van ’n hoofsaaklik boeregemeenskap na ’n gemeenskap wat toenemend uit plotbewoners en bywoners op plase bestaan.
LEES OOK: Noordelike Sinode soek die kerk se toekoms in God se trou
Mulder van Alldays/Vivo het lidmate se belewenis in sy streek met een woord opgesom: “plundering”. Volgens hom kan die misdaad wat hulle ervaar nie bloot as diefstal, huisbraak of minder ernstige misdaad beskryf word nie. Dit is ontwrigtend, verlammend en bedreigend, en sluit strooptogte en gewapende rooftogte in.
Hoffman van Levubu het dié beskrywing beaam. Verteenwoordigers uit albei streke het beklemtoon dat die gevolge verder strek as ’n afname in omset: Die ervarings laat lidmate getraumatiseerd.
LEES OOK: Uit my Kerkdagboek | Jan Lubbe: Omdat ín ons Agonie, dit Advent word!
Smith van Swartwater het bygevoeg dat plaasmoorde en die langdurige onsekerheid oor grondbesit mense se hele bestaan onder druk plaas. Lidmate wat onder hierdie omstandighede leef, het volgens hom ’n dringende behoefte aan pastorale hulp en versorging.
“Hoor ons”
Die openhartige terugvoer het die deelnemers in stilte gelaat. Sommige het sigbaar emosioneel geraak. “Ons het nie besef dat dit so erg is nie,” was die reaksie uit die groep.
Benade het daarna gevra wat die sinode en die breër kerkfamilie kan doen om te help. Die streekverteenwoordigers se antwoord was eensgesind:
“Hoor ons. Hoor ons lidmate se noodkreet.
Erken ons ervarings. Gee om vir wat op die platteland gebeur.”
Hulle het gevra dat die kerk kennis neem van plattelandse gemeentes se besondere uitdagings en omstandighede, en erken dat bediening op die platteland anders lyk as bediening in stedelike gebiede.
Die gesprek het die noodsaak van aandagtige luister en doelgerigte pastorale ondersteuning onderstreep. Plattelandse gemeentes vra nie dat ander namens hulle praat nie, maar dat die kerkfamilie hulle hoor, hulle werklikheid erken en saam met hulle na toepaslike ondersteuning soek.
Elmarie Jooste is kommunikasiebeampte van die Noordelike Sinode.

Dankie vir die berig oor die toestand op die platteland. Dit is omvangryk en vernietigend. Sou wou hê dat voorname ook in die beriggewing saam met die van gebruik word!