Oostelike sinode se onlangse saamkoms is verby. Heléne Meissenheimer (HM) vra die nuutverkose voorsitter, ds Maartje van der Westhuizen (MvdW), na haar indrukke oor die afgelope sinodevergadering gehou van 15-17 Oktober.
HM: Hierdie sinodevergadering wou meer luister en minder debat doen. Wat is julle terugvoer vir ander rondom die inbring van wegbreeksessies en meer tafelgesprekke?
(MvdW): Ons het doelbewus probeer om tydens hierdie sinodesitting meer ruimte vir luister, gesprek en deelname te skep. Die bedoeling was om weg te beweeg van ’n vergadering waar ’n paar mense hoofsaaklik vanaf die mikrofoon praat, na ’n ruimte waar meer stemme gehoor kan word.
Die tafelgesprekke het afgevaardigdes die geleentheid gegee om na mekaar te luister, verskillende perspektiewe te hoor en saam oor belangrike sake te onderskei. Die wegbreeksessies het weer ruimte geskep waar mense volgens hulle gawes, belangstellings en die behoeftes van hulle gemeentes by spesifieke gesprekke kon inskakel. In kleiner groepe is dit dikwels makliker om vrae te vra, eerlik te gesels en betekenisvol deel te neem.
Ons het ook vanjaar die taakspanne gevra om, in plaas van lang geskrewe verslae, elkeen ’n video van vyf minute saam te stel waarin hulle kortliks terugvoer gee oor hulle werksaamhede. Dit het ons gehelp om op ’n meer toeganklike en kreatiewe manier verslag te doen, sonder om onnodig baie vergadertyd daaraan af te staan.
Omdat ons minder tyd vir die sinodesitting beskikbaar gehad het, moes ons doelbewus anders oor die vergadering dink.
Ek glo hierdie benadering het ons gehelp om die sinodesitting meer deelnemend, verhoudingsgerig en doelgerig te maak, met groter ruimte vir gesprek en gesamentlike onderskeiding.
Lees ook: Oostelike sinode: Dag 1 | Dié sinode vergader ‘doelbewus anders’
HM: Ek het gehoor die vergadering wou die Ring van Lydenburg uitluister oor hulle beskrywingspunt rondom die vorm van ’n nuwe sinode. Hoe het jy die gesprek wat gevolg het en die uitkoms beleef?
(MvdW): Ek dink dit was belangrik dat die Ring van Lydenburg die geleentheid gekry het om hulle beskrywingspunt oor die vorming van ’n nuwe sinode aan die vergadering voor te lê en dat daar ruimte was om werklik na hulle te luister. Die vergadering het gekies om nie moeilike gesprekke te vermy nie, maar eerder ruimte te skep waar verskillende standpunte gehoor kan word.
Dit was nie ’n maklike gesprek nie. Die onderwerp raak mense diep en het vanselfsprekend verskillende emosies en reaksies by sinodegangers ontlok. Daar is mense wat sterk oor die voorstel voel, terwyl ander weer moeg en gefrustreerd is omdat soortgelyke sake herhaaldelik op die tafel kom. Juis daarom is dit belangrik dat ons met respek na mekaar bly luister, selfs wanneer ons nie saamstem nie.
Ek is tevrede met die uitkoms dat ons nie ’n nuwe sinode vanuit ons sinode gaan vorm nie, omdat die sinode die voorstel deeglik oorweeg en ’n duidelike besluit daaroor geneem het.
Vir my sê die besluit egter ook iets diepers oor wie ons as die Oostelike Sinode wil wees. Ons is ’n geloofsfamilie wat, ten spyte van ons verskille, steeds aan mekaar verbind bly deur ons gemeenskaplike geloof in Jesus Christus die Here.
Ons kies eerder om aan te hou praat, saam te onderskei en na ’n gemeenskaplike pad vorentoe te soek.
(HM): Leierskapskrywer Hermann du Plessis en e-kerk se prof Stephan Joubert het vanuit navorsing en hulle eie wye ervaring kwaliteit riglyne gebied vir predikante en kerkrade hoe om hulle gemeentes te help floreer. Maar wat as van hulle mag voel hulle het meer hulp nodig om teorie en praktyk bymekaar uit te bring – hoe kan die sinodale diensraad help?
(MvdW): Een van ons belangrikste doelwitte met hierdie sinodesitting was om leiers toe te rus en te bemagtig vir die uitdagings waarmee gemeentes vandag gekonfronteer word. Daarom het ons vir Hermann du Plessis en Stephan Joubert genooi om vanuit hulle navorsing, ervaring en Bybelse perspektiewe met ons te gesels.
Ons wou nie net inspirerende toesprake aanbied nie, maar ook praktiese hulpmiddels gee wat predikante en kerkrade kan help om nuut oor hulle bediening te dink. Tog besef ons dat die werklike werk eers begin wanneer ons terugkeer na ons gemeentes. Dit is een ding om nuwe insigte te ontvang, maar iets anders om dit binne jou eie konteks toe te pas.
Lees ook: ‘Die ongelykhede gaan net verdiep’: Oostelike Sinode bespreek wat die kerk nie mag miskyk nie
Daarom het die sinode goedgekeur dat die Sinodale Diensraad (SDR) ’n strategiese taakspan saamstel wat gemeentes sal ondersteun om volhoubaar te bedien en te floreer, selfs te midde van groot uitdagings.
Daar is ook ’n taakspan vir kleingemeentebediening goedgekeur, wat voortbou op belangrike werk wat reeds in die vorige sinodale termyn gedoen is.
Vir my lê die kern daarin dat ons gemeentes wil help om nie net te vra hoe groot of klein hulle is nie, maar eerder: Waarvoor roep die Here ons, juis hier, in hierdie gemeenskap en in hierdie tyd?
Ons wil gemeentes ondersteun om daardie roeping prakties uit te leef.
- Ds Maartje van der Westhuizen is verkies as voorsitter van Oostelike Sinode se oorsigliggaam tussen sinodes, die Sinodale Diensraad.
