Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Johann Theron van Kraaifontein skryf: Die Taakspan vir Leer en Aktuele Sake van die NG Kerk in die Wes-Kaap het onlangs die 40 jarige bestaan van die Belharbelydenis gevier.
Belydende lidmate van die NG Kerk beloof dat hulle by die kerk se belydenis sal bly en alle lering wat daarmee in stryd is, sal verwerp. So bely ons in die Nederlandse Geloofsbelydenis (Art 14) die totale verdorwenheid van die mens en verwerp daarom die leer van die vrye wil.
Saam met die Geloofsbelydenis van Nicea bely Belhar: “Ons glo aan een, heilige, algemene Christelike kerk”. Daarom verwerp Belhar “enige leer wat ontken dat ’n weiering om hierdie sigbare eenheid as ’n kosbare gawe na te jaag sonde is”. Belhar bely dus die eenheid van die kerk en verwerp daarom aparte rassekerke.
Die leerstellige inhoud van Belhar is eintlik reeds in 1829 in die (2de) Kaapse Sinode besluit. Die besluit lui so: “Dat persone van kleur tegelyk saam met die ander lidmate die Nagmaal gebruik, is ’n onwrikbare stelreël op die onfeilbare Woord van God gegrond en dat alle Christengemeentes en elke Christen in die besonder verplig is om so te dink en te handel.” Hiermee is die leer van aparte rasse-nagmaal en aparte rassekerke verwerp.
Baie NG lidmate het egter vanaf die 1830’s weggetrek uit die Kaapkolonie om hierdie besluit te ontkom. Toe wit lidmate in die NG Kerk Stockenström in 1855 aparte Nagmaal vir die wit lidmate versoek het, het die kerkraad van Stockenström geantwoord dat dit teen die Woord, die Belydenis en die Nagmaalsformulier is. Die leer van afsonderlike rasse-nagmaal en rassekerke is hiermee weer verwerp.
In 1857 het die Kaapse NG Kerk hierdie verwerpte leer egter tegemoetgekom, “vanweë die swakhede (sonde) van sommige”. Die lidmate wat weggetrek het uit die Kaap, moes egter afstig van die NG Kerk in die Kaap as gevolg van ’n hofbeslissing in 1862. Hieruit het die NG Kerk van die Kaap, Transvaal, Vrystaat en Natal onafhanklik ontwikkel. Die leer van aparte rassekerke het beslag gekry in die kerkordes van Transvaal in 1894, Natal in 1940 en in die Vrystaat in 1956. Dié kerkordes het bepaal dat hierdie kerke vir wit lidmate bedoel is. Daarmee is die verwerpte leer gehandhaaf in dié kerke.
Met die Cottesloe-beraad in 1960 het die wêreldwye kerk die NG Kerke onder andere gekonfronteer met die feit van die sonde van aparte rassekerke. In reaksie hierop het die NG Kerk van die Kaap, Transvaal, Natal en Vrystaat, tesame met die NG Kerk Namibië kerkordelik “verenig” tot een wit NG Kerk in 1962. Artikel 44 van hierdie kerkorde handel oor belydenisvorming. Hiervolgens is die Kaapse Kerk se belydenis onderhewig aan die goedkeuring van die NG Kerke van Transvaal, Natal, Vrystaat en Namibië.
Die paradoks is daarom dat die leerinhoud wat Belhar in 1986 verwoord het, reeds in 1829 deur die Kaapse NG Kerk aanvaar is. Die Kaapse Kerk kan dus nie sy oorspronklike belydenis uitleef en Belhar aanvaar nie, want die oorspronklike verset bepaal nog steeds die Kaapse Kerk se belydenis – nie die onwrikbare stelreël in die Woord nie.
