Opstanding en lewe na die dood

Gedurende hierdie tyd wat ons as Christene Jesus se opstanding vier, is dit tog goed om in gedagte te hou dat die Bybelse getuienis oor die dood en wat daarna volg, deur die millennia heen gewissel het. Uit ’n noukeurige lees van die Ou Testament is dit duidelik dat geloof in lewe na die dood en geloof in die opstanding van dooies in die Ou Testament nie dieselfde is nie.

Die Ou Testament-skrywers wek die indruk dat daar tog ’n geloof in ’n soort lewe na die dood was (Prediker en Job 14:12 waarskynlik uitgesluit), maar dat daar nie eintlik sprake is van ’n opstanding van die dooies nie. Belangrik is om te besef dat ons nie ’n mooi uitgewerkte beskouing oor lewe na die dood in die Bybel vind nie en dat ons, behalwe die Bybel alleen maar kan put uit ander ou Nabye-Oosterse bronne en die argeologie.

Israel was ’n integrale deel van die destydse ou Nabye Ooste en het baie geloof-, taal- en kultuur-goedere met die volke rondom hulle gedeel. Hulle beskouing oor byvoorbeeld lewe na die dood het in daardie wêreld gestalte gekry. In sommige opsigte het hulle by veral die Mesopotamiese en Kanaänitiese godsdienste aanslui­ting gevind. As deel van en in aansluiting by die destydse denkraamwerke oor lewe na die dood, het Israel mettertyd ’n eie weg in dié verband ontwikkel.

Die dood is die einde van lewe op aarde, met die oorledene wat oorbeweeg in ’n soort skimbestaan in die doderyk. Iemand stel dit so: “Death is not extinction but transition” na ’n ander vorm van bestaan in die doderyk. Belangrik is om te onthou dat die do­de­ryk vir hulle nie ’n plek van oordeel of straf was nie. Die doderyk is eerder ’n plek van stof en duisternis en rustigheid vir die dooies in die doderyk en as van uiter­ste belang beskou.

Esegiël 37:1-14, Jesaja 26:19 en Daniël 12:1-4 word deur sommige teoloë geïnterpreteer dat dit die indruk skep dat die Ou Testament wel ’n opstanding van die dooies sou verkondig. Oor só ’n interpretasie van dié tekste, is daar onder Ou-Testamentici egter nie eenstemmigheid nie. Al sou dit wel van ’n opstanding getuig, kan ons ons kwalik voorstel dat dié opstandings­ge­loof met ons hedendaagse verstaan van ’n op­­stan­­dingsgeloof ooreenstem.

Wat eersgenoemde twee tekste betref, is daar ’n sterk saak daarvoor uit te maak dat dit verwys na ’n na­sionale herstel. Die Daniël-teks (ongeveer 165 vC) is uiters kompleks en moet veral teen die agtergrond van die ontwikkeling van bepaalde godsdienstige sie­nings en sektariese bewegings in die Hellenistiese tyd verstaan word. Een navorser meen ons kan praat van geloof in lewe na die dood vóór Daniël en die omar­ming van geloof in die opstanding van dooies ná Da­niël, maar dan ook net onder sekere groepe.

▶ Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.