Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Marlothpark Kersete
Kersfees was ’n feestelike geleentheid in Marlothpark. Foto: Verskaf

Dit was ’n Kersfees van groot blydskap

Geen bejaarde van Marlothpark behoort Kersfees in eensaamheid te vier nie.

Hierdie vaste voorneme van Tom en Annemarie Esterhuizen van die NG gemeente Komatipoort het tot ’n feestelike ete op Kersdag op die oewer van die Krokodilrivier gelei.

Annemarie vertel talle afgetrede, ouer persone woon in Marlothpark, ’n ontwikkeling net suid van die Krugerwildtuin. Van hierdie bejaardes is enkellopend en dikwels eensaam.

Sy en Tom het ’n passie vir eensame bejaardes en besoek hulle elke Woensdag om die beurt. Tydens hierdie besoeke en gesprekke het die Esterhuizens diep onder die indruk gekom van die feit dat Kerstyd vir menige bejaarde eerder hartseer en eensaam as vreugdevol is.

Dié dat hulle besluit het om te sorg dat Kersfees in 2015 ook vir hiérdie mense ’n feestelike geleentheid van saamwees, saameet en saamkuier sal wees.

Hulle het ’n groep geesdriftiges bymekaargekry en ’n feestelike Kersete begin beplan.

“Ons was deurentyd bewus van die feit dat die projek God se seën dra. Mense en besighede het ons oorval met borge vir alles wat ons nodig het om ’n groot sukses van die ete te maak,” vertel Annemarie.

“Plaaslike lodges, besighede en individue het hul hart oopgemaak en gesorg dat daar nie net oorgenoeg keurig-voorbereide kos op die tafel was nie, maar ook ’n geskenk vir elkeen.” Daar was selfs genoeg kos oor om saam te stuur huis toe!

Op die ou einde was daar nie net bejaardes wat saamgeëet het nie, maar ook drie Marlothparkse ge-sinne met jong kinders. Dié gesinne het nie materiële oorvloed nie, maar hulle het ’n ander belangrike bydrae gelewer. Die vrolike teenwoordigheid van jonger mense en kinders het ekstra feestelikheid aan die geleentheid verleen. Oumas en oupas, jong volwas-senes en kinders het soos een groot familie aan die rand van die Krugerwildtuin saamgekuier.

Volgens Annemarie is sy en haar gesin uit die geleentheid verryk. “Ons het nie hierdie jaar onder mekaar geskenke uitgeruil nie. Ons het die geskenkgeld geneem en die ete help reël. So byvoorbeeld het ons dogter vir elke kind ’n geskenkpak opgemaak. Die vreugde in ons huis was groot!”

Annemarie vertel met opgewondenheid dat sy en Tom nie kan wag om 2016 se Kersete te begin reël nie.

Hulle het in praktyk die waarheid ervaar waaraan Paulus ons in Handelinge 20:35 herinner: “Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het gesê: Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top