Ds Philipp Potgieter het verlede jaar besef dat ’n voltydse leraar binnekort ’n onbekostigbare luukse in sy gemeentes sou wees. Dít ten spyte van die feit dat hy alreeds beide die NG gemeentes Vanderbijlpark-Noord én Vanderbijlpark-Tuine as alleen-leraar bedien.
Philipp het in 2015 begin planne maak om die gemeentes se inkomste aan te vul. Eers het hy twee hidroponiese stelsels in sy erf opgerig om te eksperimenteer met die aanplant en verkoop van groente. Hy het vinnig agtergekom dat dit wel moontlik is, maar dat die pastorie se agterplaas heeltemal te klein vir so ’n projek is.
In Oktober verlede jaar het hy sy visie met beide kerkrade gedeel. Hy was verstom oor die entoesiasme en ondersteuning waarmee die voorlegging ontvang is. Tuine-gemeente het ingestem dat die tonnels op hulle eiendom opgerig word en kerkraadslede van beide gemeentes het ingeklim om borge te reël. Hy vertel: “Ons het blitsvinnig die geld bymekaargemaak om die tonnels sowel as ’n elektriese heining om die tonnels op te rig.”
Vier maande later is drie hidroponiese tonnels, elk 300 vierkantemeter groot, in volle produksie en verkoop Philipp en sy span tweeduisend blaarslaaikoppe per week aan varsproduktemarkte en verskeie plaaslike besighede.
Philipp vertel dat hulle aanvanklik spinasie ook geplant het. Die aanvraag vir blaarslaaikoppe is egter veel groter. Hulle het die spinasieplantjies met blaarslaai vervang, maar twee rye spinasie behou wat nou gratis uitgedeel word aan dié wat dit nodig het. Dit is juis die groter bydrae tot barmhartigheid wat Philipp die meeste opgewonde maak. Die gemeentes kon nou ook begin om weekliks vrugte en groente aan ’n behoeftige skool te voorsien as gevolg van die ekstra inkomste.

Reformed Veg se blaarslaaikoppe is elk tussen 30 en 40 sentimeter in deursnee en weeg in die omgewing van 700 gram! En dít na net dertig dae in die tonnel. Vir hierdie rede is die produk reeds baie gewild.
Vrywilligers meld elke Maandag en Donderdag aan om sowat eenduisend koppe per keer te oes. Die blaarslaaie word dan ses-ses in bokse gepak en met die splinternuwe afleweringstrok en ’n sleepwa afgelewer.
Volgens Philipp was die projek van die begin af geseënd. Hy sê met ’n glimlag: “Diegene wat by ons slaaikoppe koop, koop eintlik by God. Maak nie saak hoe hard ons gewerk het nie; sonder Hom sou ons nie na slegs vier maande gewees het waar ons nou is nie.”
