Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Jaco Lubbe se seuntjie, Dian, saam met sy maats nadat hulle by Siyakula sokker en aan-aan gespeel het. Foto: Verskaf

God se liefde vir Bosbokrand se kinders


Die verhaal van SizaBantwana is die verhaal van gelowiges wat hande vat om op verskillende maniere hulp te verleen aan die mees gemarginaliseerdes in die gemeenskap. LIEZEL LÜNEBURG vertel.


Van die groot troppe bosbokke wat in die 1880’s in Bosbokrand gewei het, is niks oor nie.

Deesdae word die gebied eerder deur armoede gekenmerk: 84% van gesinne in die omgewing verdien minder as R1 300 per maand terwyl meer as die helfte van die ekonomies-aktiewe inwoners werkloos is.

Tog is dit juis in hierdie hulpelose, hopelose omge­wing waar Frank Mashego ’n geleentheid gesien het om God se liefde in die vorm van broodnodige hoop en hulp te bring.

In die negentigerjare het Frank begin om hulpbehoewende kinders by sy huis in Mahushu te versorg. (Mahushu is deel van Mbombela plaaslike munisipali­teit, maar lê naby aan Hazyview – net soos Bosbokrand.) In hierdie tyd het hy die Hazyviewse NG gemeente om hulp genader.

Japie en Jaco Lubbe, broers en jarelange NG lidmate, vertel dat die gemeente besluit het om Frank te ondersteun en met die verloop van tyd ’n goeie vertrouensverhouding met hom opgebou het. Lateraan het hulle besef dat die nood te groot raak en hulle graag meer sal wil doen om die gemeenskap in krisis, veral die kinders, te help.

SizaBantwana

Met die hulp van ’n groep entoesiastiese weldoeners het SizaBantwana, ’n nie-regeringsorganisasie, sewentien jaar gelede tot stand gekom om die nood van kinders in die Bosbokrand-omgewing te verlig. In Zoeloe kan die woorde “siza bantwana” direk vertaal word as “help kinders”. En dít is presies waarop elke projek wat SizaBantwana aanpak, gemik is.

Frank beskryf SizaBantwana as ’n organisasie wat kinders versorg wat as gevolg van die MIV/vigs-pandemie of ander sosio-ekonomiese struikelblokke ’n agterstand het. Hy brei uit: “Ons wil graag verseker dat daar ’n blink toekoms op hierdie kinders wag. Verder glo ons dat kinders ’n positiewe omgewing nodig het om hulle volle potensiaal te bereik. Dit is ons oogmerk om hierdie omgewing te skep.” 

Japie en Jaco dien beide op die SizaBantwana-direksie en werk nou saam met Frank om ’n sukses van die verskeie projekte te maak. Frank se hande staan vir niks verkeerd nie en hy droom groot. Japie, Jaco en ander weldoeners en donateurs maak op húlle beurt sy hande sterk.

In hierdie stadium bedien SizaBantwana grootliks kinders in die Marite-gemeenskap, maar ook in ander dele van Bosbokrand. 

Volgens Japie het Marite, een van die armoedigste gebiede in Bosbokrand, van die hoogste misdaadsyfers in die land. “Die gebied word ook gekenmerk deur swak dienslewering – minder as 10% van plaaslike huishoudings het toegang tot lopende water binne-in huise. Verder is daar min besighede en is werk in die omge­wing so skaars soos hoendertande.

“Broodwinners pendel in baie gevalle om buite die gebied te werk. As gevolg hiervan is versorgers dikwels afwesig.” Frank voeg by: “MIV/vigs-verwante siektes en sterftes is ook ’n reuseprobleem en jong kinders aan die hoof van huishoudings is ’n algemene, tragiese gesig.”

Die SizaBantwana-projek is ’n goeie voorbeeld van ’n geval waar verkillende denominasies van die kerk, meer as een gemeenskap en die regering saamwerk om armoedeverligting in die lewe van kwetsbare kinders te bring.

Die Hazyview- en Kiepersol-omgewing bestaan uit ’n groot boerderygemeenskap. Volgens Japie skenk menige boer in die omgewing op ’n gereelde basis avokado’s, mango’s, piesangs en ander subtropiese vrugte. Ander lede van die gemeenskap se arms is ook wyd oop vir wat SizaBantwana ook al nodig het.

“Dit het al meer as een maal gebeur dat ons nie weet waar hulp vandaan gaan kom nie. Dan wýs God dat hoop op Hom nie beskaam nie, dat ons hulp maar net van Hom af kom,” vertel Jaco.

Volgens ds Sterns Pretorius was die Hazyview-gemeente reeds baie jare lank by SizaBantwana betrokke toe hy as predikant daar aangestel is. Die gemeente dra steeds maandeliks by en help ook met bewusmaking as die nood druk. “Dit is ’n goeie voorbeeld van ’n projek wat met die hulp van die kerk tot stand gekom het en tot ’n suksesvolle, selfstandige inisiatief gegroei het,” sê hy.

Versorgingsentrums

SizaBantwana bedryf twee versorgingsentrums as deel van die projek. “Amukelani is in 2008 in Marite geopen en Siyakhula is in Alexandria Trust, ook in Bosbokrand, geleë. Vyf middae per week kom 159 kinders van alle ouderdomme en van verskillende skole in die omgewing by die twee versorgingsentrums bymekaar.”

Volgens Frank sien 14 vrywillige versorgers by elk­een van die sentrums smiddae na die kinders om. Vrouens kook elke dag op ’n vrywillige basis ’n ete wat vooraf deur ’n dieetkundige beplan is. Elke kind ontvang dus daagliks ten minste een gesonde, gebalanseerde maaltyd. Die versorgers help ook met huiswerk. Verder word daar projekte, uitstappies en kampe gereël om die kinders so goed moontlik vir die lewe te bemagtig.

Frank beklemtoon dat die kinders nie net ’n plek van veiligheid en ’n maaltyd nodig het nie , maar ook liefde en begrip vir hul omstandighede. Die versorgers word spesiaal opgelei om hulpbehoewende kinders op hierdie manier by te staan.

Beide sentrums word bedryf uit motorhuise en buitegeboue wat plaaslike huiseienaars en weldoeners vir hierdie doel beskikbaar gestel het. SizaBantwana het albei persele self toegerus deur onder meer kombuise, heinings en speelparke op te rig.

Die persele is egter baie basies en Frank se groot droom is om genoeg geld in te samel om netjiese sentrums wat in al die behoeftes sal voorsien, vir beide projekte op te rig.

Kinders leer lees

Nóg ’n projek van SizaBantwana is die rekenaarsentrum by die Moduping Combined School. Hiér word Reading Power-rekenaarprogrammatuur gebruik om kinders se Engelse taal- en leesvaardighede te verbeter.

Die goed toegeruste leeslaboratorium word deur leerders van gr R tot 12 gebruik en Minky Makhubedu-Mashego, Frank se vrou, vertel dat menige kind reeds sy leesvaardighede en -begrip en spelling verbeter het sedert die opening van die sentrum. Sy benadruk egter dat vele van die kinders voortdurende ondersteuning nodig het voordat goeie resultate sigbaar word.

Die leessentrum beskik ook oor ’n biblioteek waar kinders boeke kan uitneem om by die huis te lees. Ouers en versorgers word aangemoedig om saam met die kinders te lees en kinders word geleer om boeke betyds en in ’n goeie toestand terug te besorg. Daar is selfs mediaprefekte!

Kampe en spesiale geleenthede

Japie vertel dat SizaBantwana gereeld naweekkampe, uitstappies en ander spesiale geleenthede vir die kinders reël.

“In November verlede jaar het nege versorgers met 70 kinders die Nasionale Krugerwildtuin per bus besoek. Ten spyte van die feit dat Bosbokrand aan die wildtuin grens, was dit die kinders én versorgers se eer­ste besoek aan die wildtuin! Dit het omtrent van opgewondenheid gegons toe hulle terug is.”

Jaco voeg by dat hulle in die toekoms graag vier groepe per jaar op soortgelyke uitstappies na die wildtuin wil neem. Die bestuur van die park het van die projek te hore gekom en aangebied om te help om hierdie droom vir meer SizaBantwana-kinders te bewaarheid.

“Sommige van die kinders kry ook vier maal per jaar die geleentheid om naweekkampe saam met die personeel by te woon,” vertel Frank. “Die inhoud van die kampe fokus op geestelike groei en ontwikkeling. Lewensoriëntering en ander opbouende en leersame aktiwiteite speel ook ’n groot rol.”

Japie voeg by dat MIV/vigs-opvoeding een van die onderwerpe is wat veral op hierdie kampe aangespreek word. “Dit is skokkend hoe onkundig selfs ouer kinders oor die onderwerp is – veral in ’n gemeenskap waar MIV/vigs-syfers op alle vlakke hemelhoog is.”

Frank vertel dat die kampe darem nie nét ernstig van aard is nie. Die Lubbes se besigheid, Induna Adventures, dra by tot avontuurlustige pret en die kinders geniet dit telkens baie.

Tuisversorging

’n Ander baie belangrike been van SizaBantwana behels tuisgebaseerde versorging van weeskinders en word in samewerking met Isibindi bedryf. Frank verduidelik dat MIV/vigs en ander faktore tot gevolg het dat menige kind in die omgewing sonder ’n volwasse versorger opgroei.

Hierdie kinders is geweldig kwesbaar en kan maklik in haglike omstandighede verval of in gevaarlike situasies beland. Die SizaBantwana/Isibindi-projek het tot gevolg dat eenduisend kinders elke maand tuis besoek en versorg word.

“25 kinder- en jeugwerkers van die Departement van Sosiale Ontwikkeling se National Association of Child Care Workers het elkeen 40 wesies en ander hulpbehoewende kinders in hul omgewings geïdentifiseer waarvoor hy of sy nou as versorger verantwoordelik is,” vertel Japie.

Elke versorger bou ’n verhouding met die kinders in sy of haar sorg op, lewer pakke kruideniersware af wat deur SizaBantwana verskaf word, help met huiswerk en gee liefde en ondersteuning. Daar word ook gehelp as mediese versorging nodig is en as daar vir regeringstoelaes aansoek gedoen moet word. Die versorgers se han­de staan basies vir niks verkeerd nie – hulle kook selfs etes vir die kinders in hul eie huise!

Isibindi dra by tot ’n gedeelte van die onkoste, byvoorbeeld betaling van salarisse van die werkers, maar kan nie die massiewe uitgawes alleen dra nie. Die landwye nood is doodeenvoudig te hoog. Die SizaBantwana-span help waar hulle kan.

Deel die seën

Japie en Jaco voel albei dat SizaBantwana ’n blywende indruk op hulleself én hul gesinne gemaak het. Jaco vertel dat sy eie kinders deel is van die projek en al menige maal saam met die SizaBantwana-kinders gekuier het.

“SizaBantwana is ’n goeie leerskool. Tussen kinders wat eintlik niks het nie, leer ons eie kinders om dankbaar te wees vir die seëninge waaronder ons elke dag toegegooi word. Hulle leer ook dat ons nie hierdie seëninge vir onsself kan hou nie; ons móét dit deel. En so seën ons ander wat dit broodnodig het.”

▶ Enigiemand wat geroep voel om by SizaBantwana betrokke te raak, kan vir Frank Mashego kontak by suppor@sizabantwana.org. Die webwerf kan by ­www.sizabantwana.org besoek word.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top