Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Heiligheid, jongmense en gesag

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Gedurende Februarie was daar berigte in dag-blaaie oor kinders se oënskynlike gebrek aan respek teenoor ander, maar veral in die verhouding tussen ouers en kinders.

Gelowiges behoort in hulle nadenke oor die saak te let op wat in Levitikus 19 staan.

Levitikus 19 vorm deel van die “Heiligheidskode” (Lev 17 – 26). Levitikus gaan oor die Here se opdrag aan die gemeenskap van Israel om heilig te lewe, want Hy, hulle God is heilig. Israel is vir die Here afgesonder om as getuie van sy verbintenis aan mense te dien. Heiligheid kom tot uitdrukking in hulle kultiese én gemeenskapslewe.

Wat heiligheid onder meer behels word in hoofstuk 19, maar ook in hoofstukke 18 en 20 as amper spieëlbeeld van mekaar uitgespel. Levitikus 19 word gerig deur die uitdrukking “Ek is die Here (julle God)”. Dit staan verder in die teken van “Julle moet my gebooie oor die Sabbat gehoorsaam” (vers 3 en 30). Saam met die besnydenis het die onderhouding van die Sabbat veral in die na-ballingskaptyd ’n belangrike rol gespeel.

Wat in Levitikus 19 opval is dat die oproep om die onderhouding van die Sabbat in beide vers 3 én vers 30 direk in verband staan met die verhouding tussen oud en jonk. “Elkeen moet sy ma en pa vrees” – dieselfde Hebreeuse woord as die “vrees” vir die Here (19:3) – en “Vir die grys hare moet jy opstaan, en eer die oue; en vrees God. Ek is die HERE” (eie, direkte vertaling – 19:32). Wil dit moontlik iets sê van die erns waarmee die Bybel die verhouding tussen oud en jonk bejeën?

Die ander sake oor verhoudinge in die gemeenskap wat in Levitikus 19 aangespreek word, te wete sorg vir die armes en die vreemdelinge, eerlikheid, regverdigheid, sensitiwiteit teenoor gestremdes, en liefde tot die naaste is hoog op kerklike agendas. Gee ons as kerk egter genoeg aandag aan die verhouding tussen die jeug en gesag in die algemeen en ouers en kinders se verhouding in besonder?

▶ Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top