Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

’n Groep van die ouer kleuters sing lofliedjies voordat hulle ontbyt eet. Versorgers Esther Mbewe en Esther Vilancolu sing saam. Foto’s: Verskaf

Kwesbare kinders gedy langs die Mbombela-stadion


Dit is ironies dat die Good Hope-dagsorgsentrum maar net ’n paar blokke vanaf die reuse Mbombela-sportstadion geleë is. Die 18 oranje kameelperd-vormige staalstrukture van die stadion hou wag oor Mataffin – ’n woongebied waar armoede baie swaar druk. Liezel Lüneburg vertel meer.


In 2003 het ’n ou ontspanningsaal vir plaaswerkers van die Hall & Sons-boerdery ’n nuwe baadjie aangetrek: Thamari Nyoni het die geweldige nood onder kleuters in die Mataffin-omgewing raakgesien en die sinkdakstruktuur in ’n dagsorgsentrum omskep.

Thamari het die Good Hope-sentrum begin deur na ’n paar vigswesies om te sien. Nou versorg sy en 11 vrywillige vroue daagliks eenhonderd babas en kleuters tussen die ouderdomme van nul en vyf en ’n half. Byna al die kinders kom uit armoedige omstandighede en sy vertel dat ongeveer 62 kwesbare kinders en 25 weeskinders is.

Menige kleuter wat by Good Hope versorg word, is ’n lid van ’n huishouding waar ’n kind aan die hoof staan. Sulke kinders is onder geweldige druk aangesien daar geen volwasse leiding en versorging is nie. Ouer kinders moet die skool op ’n vroeë ouderdom verlaat om na kleiner boeties en sussies om te sien.

Een van Good Hope se projekte is om kwesbare kinders, wesies en ander gesinne wat swaarkry tuis te besoek en te help waar die nood ook al druk. 21 versorgers werk as vrywilligers om hierdie gesinne se omstandighede te verbeter.

Pottie se omgeegroep

Pottie Potgieter, ’n lidmaat van die NG gemeente Nelspruit-Westergloed, se omgeegroep is reeds langer as tien jaar by die projek betrokke deur op ’n weeklikse basis kos aan te koop. Pottie vertel dat hulle weekliks groot sakke en kratte vars vrugte en groente en ander vars produkte en noodsaaklikhede aflewer.

’n Dieetkundige het ’n gebalanseerde eetplan uitgewerk en elke kleuter ontvang daagliks ’n middag- en aandete wat deur vrywillige vroue voorberei word. Dit is van die kinders se enigste etes per dag.

Op die vraag oor waarom die omgeegroep reeds vir soveel jare lank die projek ondersteun, sê Pottie met ’n glimlag: “Ons kan die verskil wat ons betrokkenheid in die kinders se lewe maak baie duidelik sien. Ons tree maar net as God se hande op. Solank as wat ons kan, sal ons aanhou.”

Thamari vertel dat baie van die kinders se gesondheid power is as hulle die eerste maal by die sentrum aankom. Veral wan- en ondervoeding speel ’n groot rol en kwasjiorkor en ander voedingsiektes is ’n algemene probleem.

Good Hope sorg dat hierdie kinders behoorlike mediese hulp kry. Hulle sien ook toe dat elke kleuter se immunisasie op datum is.

Sy vertel met ’n glimlag dat dit wonderlik is om te sien hoe eens swak, siek kleuters gedy as hulle weer gesond en behoorlik gevoed is.

Verder word daar nie net na die kinders se fisieke gesondheid omgesien nie maar ook na hul geestelike gesondheid.

Dit is duidelik dat die kinders by Good Hope gelukkige kinders is!

Ná Good Hope

Wat gebeur met die kinders as hulle van Good Hope af na gr R gaan? Thamari sê dat hulle nie sommer net aan hulle eie genade oorgelaat word nie.

Reg langs Good Hope is daar ’n naskoolsentrum geleë waar die kinders versorg word totdat hulle op hul eie kan aangaan. Thamari en die Good Hope-span is ook by hiérdie projek betrokke. Sy vertel dat talle kinders deur die jare voor haar oë verander het in jong volwassenes wat mooi na hulleself kan omsien – natuurlik met die hulp van toegewyde vrywilligers.

Die Mbombela-plaaslike munisipaliteit het die stadion teen meer as 1,2 miljard rand vir die 2010-sokker wêreldbekertoernooi laat oprig. ’n Mens kan nie help om te wonder hoeveel kinders Thamari en haar span oor ’n periode van vyftig jaar met hierdie bedrag sou kon voed en klee nie …


Wat is ’n kwesbare kind?

Thamari verduidelik dat dit ’n kind is wat om watter redes ook al onder moeilike omstandighede grootword. Die kleuters by Good Hope is in sommige gevalle kwesbaar as gevolg van, byvoorbeeld, MIV-positiewe ouers wat tuisbly en baie siek of sterwend aan vigs is.

Die misbruik van alkohol en armoede is ook ’n algemene gesig in die Mataffin-gemeenskap.

Verder is daar ’n aantal kinders by die sentrum wie se ouers buitelanders is wat vanaf Swaziland, Mosambiek, Zimbabwe en Malawi na Suid-Afrika gekom het om werk te soek. Baie van hierdie ouers sit nou sonder werk in ’n vreemde land met ’n gesin wat versorg moet word.

Volgens UNICEF was 2,5 miljoen Suid-Afrikaanse kinders reeds in 2012 wees gelaat as gevolg van MIV/vigs – om maar net een van die redes vir kwesbaarheid te noem. Kwesbare kinders is ’n algemene gesig in Suid-Afrika.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top