Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Daar is ’n vreemde teenstrydigheid in die briewe van Paulus. Al was hy as apostel aktief besig met die uitdra van die evangelie deur orals gemeentes te vestig, is dit onseker of hy dieselfde ywer vir evangelisasie van ander gelowiges vereis het.
Paulus skryf immers weinig oor die vereiste dat gelowiges en hul gemeentes ook moet deelneem aan God se sending deur op hul beurt na ander uit te reik en te getuig.
Trouens, volgens talle geleerdes is dit net in Filippense 2:15-16 (“Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra”) dat Paulus dit onomwonde stel dat hy van gelowiges verwag het om op te tree as evangeliste en nie net getuies waar hulle woon nie.
Die juiste vertaling van die uitspraak van Paulus is egter onseker. Praat hy van die “uitdra” van die evangelie (1983-vertaling) of die “vashou” daarvan (1933/1953-vertaling)?
Die nuwe Direkte Vertaling stel voor dat die uitspraak vertaal word as “Julle skyn onder hulle soos sterre in die heelal, terwyl julle vashou aan die woord van die lewe.”
Terwyl Paulus en sy medewerkers dus wel deur hul bediening getuig het van die noodsaak van evangeliste wat aktief die evangelie uitdra regoor die wêreld, beklemtoon sy briewe, volgens die Nuwe-Testamentikus Michael Gorman, dat gelowiges in sy gemeentes nie soseer evangeliste moet word nie, maar eerder die evangelie self.
Hulle moet nie net in God se liefde, genade, hoop en geregtigheid glo nie. Of daaroor getuig met woorde nie. Hulle moet dit wees. Dit beliggaam.
Hulle moet aan die wêreld wys hoe lyk ’n gemeenskap wat deur die Gees getransformeer is. Eers as die kerk die evangelie beliggaam, het hulle die reg om teenoor die wêreld daaroor te getuig (Kol 4:6).
Die kerk kan daarom nie oor inklusiwiteit getuig as dit nie inklusief is nie. Of oor liefde, geregtigheid en vrede as sy dit nie is nie.
Ongelukkig is dit dikwels makliker vir gelowiges om evangeliste te word as die evangelie. Om te praat oor liefde as om liefdevol te wees. Om te praat oor versoening eerder as om self met ander versoen te wees.
Vandaar die noodsaak van gemeentes wat nie net evangeliste uitstuur nie, maar wat in hul ganse gemeentewees leef as ’n gestuurde gemeente – die beliggaming van die evangelie.
▶ Dr Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.
