Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Wanneer ’n mens in onseker tye leef, is ons natuurlike reaksie om te gryp na ou maniere van dink en doen. Ten minste weet ek dan wat ek het en op ’n manier gee dit aan my sekerheid om by die ou dinge te bly. Niemand van ons hou van die ongemak wat kom saam met veranderde omstandighede nie.
Tog is die pad van die evangelie van Jesus Christus ’n voortdurende uitnodiging om nuut te dink en nuut te leef sodat God se nuwe realiteit tussen ons kan waar word, ten spyte van die ongemak en onsekerheid wat dit in ons losmaak.
Op ’n keer praat Jesus met die mense nadat hulle hom daarvan beskuldig het dat sy dissipels net te vry en gemaklik leef, terwyl Johannes en die Fariseërs se volgelinge vreeslik streng vas.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/07/Marina-5.jpg” caption=”Dr Marina Strydom is leraar van die NG gemeente Pretoria-Oos.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Jesus antwoord hulle onder andere dan met hierdie woorde in Lukas 5:37: “… niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie. As hy dit sou doen, sal die nuwe wyn die velsakke laat oopbars. Dan is die wyn vermors en die sakke daarmee heen”. In vers 38: “Nee, nuwe wyn moet in nuwe velsakke gegooi word”. En in vers 39: “En niemand wat ou wyn gedrink het, wil nuwe wyn hê nie, want hy sê: Die oue is goed.”
Hierdie beeld is effens vreemd aan ons kultuur, maar in daardie tyd het die beeld goed sin gemaak.
Wyn is in gebreide velsakke gegooi en dan het die chemiese proses wat die wyn fermenteer binne-in hierdie sak plaasgevind. Die implikasie was dat die velsak saam met die wyn vorm en uitsit soos die gistingsproses plaasvind, met die gevolg dat die sak ’n sekere vorm aanneem en selfs effens bros word en nie verder kan rek en van vorm verander nie.
Die ou wynsakke was dan onbruikbaar wanneer dit by die volgende seisoen se nuwe wyn gekom het. Die nuwe wyn het nuwe sakke nodig gehad. Wanneer jy probeer om nuwe wyn in ou sakke te gooi verloor jy binne ’n relatiewe kort tyd die wyn en die sak.
Nuwe omstandighede vra nuwe maniere van dink en doen. Dit is nog steeds waarvoor Jesus ons nooi, maar ons kies dikwels om weerstand te bied teen hierdie verandering, al weet ons eintlik dat ons ou maniere uitgedien is.
Die vraag is natuurlik nou hoe leer ons om op nuwe maniere te leef?
Eerstens sal ons moet bewus word van hoe ons dink en die beperktheid daarvan raaksien. Ons sal moet leer dat die manier hoe ons dink sonder twyfel die manier hoe ons doen bepaal. As ons dan probeer om by nuwe maniere van leef uit te kom, maar ons probeer ou maniere van dink, is dit logies dat ons eers ons manier van dink moet verander.
Dis wat ek dink wat uiteindelik bepaal wie ek is en hoe ek leef. Of soos Marcus Aurelius iewers gesê het: “The happiness of your life depends on the quality of your thoughts.”
En tog word daar gesê dat ons mense eintlik net bereid is om 5% van wat ons dink te verander. Die res moet asseblief tog net dieselfde bly. Om net die boonste 5% van ons denke te verander is maar soos om die winkel se vertoonvenster mooi te maak. Dit lyk net aan die buitekant anders, maar daarbinne volg ek dieselfde geykte denkpatroon.
Tweedens gaan ’n nuwe manier van dink hand aan hand met ’n nuwe manier van doen. ’n Nuwe manier van doen kan my trouens by nuwe maniere van dink uitbring. Hier dink ek aan die woorde van Henri Nouwen: “You don’t think yourself into a new kind of living. You live yourself into a new kind of thinking.”
Dit help veel ek dink op ’n nuwe manier, maar my manier van leef en optree bewys die teendeel. As ek nuut wil dink, moet my gedrag en optrede dit beaam. Dis eers as ek anders begin optree dat die mense om my begin besef dat ek anders dink, en dit gaan teenstand ontlok. Daarvan kan ek maar seker wees.
Sue Monk Kidd beskryf dit mooi: “The truth will set you free, but first it will shatter the safe, sweet way you live.”
Sonder nuwe maniere van dink en doen gaan ons as God se kinders nie in hierdie tyd by nuwe maniere van leef uitkom nie. Sonder nuwe sakke gaan die nuwe wyn wat God deur ons aan ons land wil gee nie uitkom waar dit moet nie.
▶ Dr Marina Strydom is leraar van die NG gemeente Pretoria-Oos.
