Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Maak van eet ’n geloofsgewoonte

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

“I’m too busy to chew. That’s why I blend all my meals into smoothies …”

Sommige van ons sal met Jarod Kintz se woorde kan identifiseer. Maaltye het vir baie van ons slegs ’n manier geword om ons liggaam te voed.

Ek wonder soms hoe sal dit wees as ons anders oor ons maaltye begin dink. As ons maaltye meer word as net brandstof vir ons liggaam. Wat sal gebeur as ons elke maaltyd, vir die wonderwerk wat dit is, begin sien? Hoe wonderlik sal dit wees as ons daaglikse maal­­tye ’n geloofsgewoonte kan word?

Ek vermoed baie van ons sukkel om in ons gejaag­de, oorvol lewe tyd in te ruim vir geloofsgewoontes. Ten spyte van ons gejaagde lewe sit van ons ten minste een maal per dag om ’n maaltyd te eet. Deur daardie maaltyd bewustelik saam met God te geniet word ’n eenvoudige maaltyd ’n geloofsgewoonte. Miskien lê die uitdaging daarin om anders oor kos en ons maaltye te begin dink.

Een manier om jou maaltye ’n geloofsgewoonte te maak is om baie meer bewustelik met kos om te gaan. Meeste van ons het geen idee waar ons kos vandaan kom nie, en as ons eerlik is, gee die meeste van ons nie eint­lik om nie.

Die meeste van ons het geen idee hoe die kos wat ons eet geproduseer word nie. Of watter hormone of chemikalieë in die produksieproses gebruik word en watter effek dit op ons liggaam het nie. Ons is ook nie bewus van die afstand wat ons kos vervoer word en watter effek dit op die skepping het nie. Miskien sal dit goed wees as ek en jy meer bewus word van waar ons kos vandaan kom.

Baie van ons is ook nie bewus van wat ons alles in ’n dag eet en drink nie. Ek was nog nooit hiervan bewus nie totdat ek op ’n staptoer was. Daar is min goed wat jou so bewus maak van die hoeveelheid kos wat jy eet as om dit in ’n rugsak op jou rug te moet saamdra.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/10/Fay-van-Eeden1.jpg” caption=”Ds Fay van Eeden is predikant van die NG gemeente Lynnwood in Pretoria.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]

Baie van ons sluk ook ons kos so vinnig dat ons dit nie eens regtig proe nie. Thich Nhat Hanh skryf: “Drink your tea slowly and reverently, as if it is the axis on which the earth revolves – slowly, evenly, without rushing toward the future; live the actual moment. Only this moment is life.”

Wanneer laas het jy stadig genoeg geëet dat jy elke happie kon proe en geniet? Wanneer laas het jy die skoonheid en die kleure van die kos op jou bord raakgesien, en dit waardeer? Of aan ’n lemoen geruik, of die tekstuur van kos waargeneem?

Geborg

Hoe sal dit wees as ek en jy regtig met al ons sintuie ’n maaltyd bewustelik geniet? Hoe sal dit wees as ons die kos op ons bord raaksien, ruik, voel, miskien selfs hoor en werklik proe? En in dié sien, ruik, voel, hoor en proe bewus word van God se goedheid en versor­ging in ons lewe.

Daar is ook iets daaraan om saam met ander aan te sit en ’n maaltyd te geniet. Leonard Sweet skryf in een van sy boeke: “The table is the place where identity is born – the place where the story of our lives is retold, reminded, and relived.”

Van my kosbaarste herinneringe is van etes saam met my familie om ’n etenstafel. Daar kom altyd ’n punt in ons familie-etes waar iemand ’n snaakse familie-storie uit die verlede vertel. Hierdie storie herinner dan iemand aan ’n soortgelyke familiestorie.

Naderhand kompeteer almal om die snaakse of ­spesiale storie, wat hulle onthou, te vertel. En uiteindelik staan ons almal van die tafel af op met ’n hernude bewussyn van wie ons is en waar ons vandaan kom.

Ek vermoed dat dit dieselfde werk in die kerk. Dat die identiteit van die kerk nie suiwer gevorm word deur dit wat van preekstoele af gesê of in gemeente­blaaie geskryf word nie – maar eerder van dit wat om tafels gebeur wanneer mense mekaar in die oë kyk, verhale uit die verlede oorvertel, saam kuier en eet.

Baie male vra ons hoe die gaping tussen generasies en kulture in die kerk oorbrug kan word. Ek wil ’n antwoord waag – sit saam om ’n tafel! Kuier en eet saam! Deel met mekaar wie ons is en waar ons vandaan kom, maar droom ook saam oor die toekoms.

Soos Jesus moet ons waag om ons tafels met mense wat anders as ons is te deel, want nie net in bewustelik eet beleef ons God se teenwoordigheid nie, maar ook saam met wie ons eet.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top