Uitbeeldings van die opstanding – sowel dié van Christus as dié van die ander gestorwenes – word gewoonlik in helder kleure geskilder om uitdrukking te gee aan die vreugde en die oorwinning van die opstandingsgebeure.
’n Opvallende uitsondering hierop is die skildery Resurrection of the soldiers van die Britse skilder Stanley Spencer (1891-1959). Anders as in sy vorige werk, Resurrection of Cookham, is die kleure hier somber skakerings van swart, grys en oker, met wit wat in skerp kontras met die ander kleure gebruik word.
Dié reuseskildery van byna sewe meter hoog is die sentrale werk van ’n reeks van 19 skilderye in die Sandham-gedenkkapel wat opgerig is ter nagedagtenis aan ’n soldaat wat in die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het. In die reeks as geheel het Spencer gepoog om sy eie ervarings, eers as mediese ordonnans in ’n oorlogshospitaal in Engeland, en daarna as soldaat in Masedonië, visueel voor te stel.
Wat in die 18 begeleidende skilderye uitgebeeld word, is geen heroïese oorlogstonele of die verskrikking van die menseslagting wat met oorlog gepaard gaan nie, maar gewone alledaagse tonele uit die oorlogservaring van soldate, soos die skrop van vloere, die opmaak van beddens en daaglikse ablusies. ’n Mens sou in taal wat by die Duits-Amerikaanse filosoof Hannah Arendt geleen word, kon sê: Dit is die banaliteit van oorlog wat hier uitdrukking vind.

Die sentrale werk, die Resurrection, is in dié opsig anders. Dit beeld ’n slagveld uit met talle tekens van die verwoesting wat deur oorlog gesaai word, onder andere ’n verwoeste muilwa reg in die middel. Die skildery word oorheers deur ’n massa wit oorlogskruise wat in ’n warboel van die middel bo aftuimel en in ’n chaotiese hoop op die voorgrond beland. Tussen die kruise verskyn die figure van soldate wat so half verdwaas-verbaas uit hulle grafte opstaan en mekaar met ’n handskud groet. Dis onduidelik of die soldate regop gehou geword deur die kruise, en of dit eerder die soldate is wat die kruise regop hou.
Ook Christus word uitgebeeld, maar anders as in soortgelyke skilderye is Hy nie die oorheersende figuur nie, maar verskyn in die middel-agtergrond in die boonste deel van die skildery as ’n gewone mens geklee in ’n wit gewaad. Van die soldate bring hulle kruise na Hom toe en dit lyk asof Hy ’n gesprek met hulle aanknoop. In plaas van Christus die oorwinnaar figureer Hy hier as die Woord wat waarlik vlees geword het en as mens onder mense kom woon het.
’n Interessante detail in die skildery is ’n jong soldaat wat reg bo die beskadigde muilwa en net onder die Christusfiguur salig onbewus van alles wat rondom hom gebeur, ongestoord lê en kyk na ’n kruis met die gekruisigde Christus daarop. So asof die skilder hiermee saam met Paulus in 1 Korintiërs 2:2 wil sê: “Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde.”
Oor die bedoeling van hierdie kunswerk het ’n kunskritikus gesê dat dit duidelik nie “the whitewash of a horrendous period in history” wil wees nie, maar eerder saam met die ander skilderye in die reeks verstaan moet word as “the endeavours of a man that has to believe that there is more to life than the horror of death and suffering.”
Op ’n aangrypende wyse het Spencer self gesê: “I had buried so many people and saw so many dead that I felt that death could not be the end of everything.”
Waarmee ’n skildery soos hierdie ons kan help, is om enersyds gevrywaar te word van ’n romantiserende verheerliking van oorlog as ’n edele daad in belang van “volk en vaderland”, en om andersyds die hoop lewend te hou dat dit steeds vir gewone mense moontlik is om aan te gaan met die lewe, ten spyte van al die maniere waarop hulle lewe en geluk bedreig word. En dat dit ook moontlik is om in die midde van dit alles die Een te ontdek wat een van ons geword het, en wat op ’n manier steeds met ons in gesprek bly – met gewone mense in gesprek bly – oor die lief en leed wat die gang van die gewone lewe bepaal.
So gesien beteken opstanding uit die dood nie net lewe anderkant die graf nie, maar ook lewe aan die duskant waar die hemel van Christus/God se teenwoordigheid ontdek word op verrassende maniere en ook in die hel van ons aardse bestaan raakgesien en raakgeleef word.
▶ Dr André Bartlett is hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.
