SOEKlig (vervaardig: Blackhole Productions)
Aangebied deur Marius van de Wall
In die aanloop tot die volgende Algemene Sinode is dit te verwagte en verstane dat die gender-gesprek weer van voor af op die tafel geplaas sal word.
Vir gewone gemeentepredikante, soos ek, is teologiese debatte dikwels bloot gesprekke wat deur akademici in hul spreekwoordelike ivoortorings gevoer word – hul argumente raak nie noodwendig jou bediening direk nie. Maar die gender-debat en teoloë se uitsprake hieroor maak dit tog effens anders – want predikante moet regte lidmate met regte probleme in regte lewensituasies bystaan en sal van hul standpunt rekenskap moet kan gee. Dit word vir my al meer duidelik dat daar nie net van afgevaardigdes nie, maar ook van kerkrade en predikante gevra sal word om deurgaans deel van die gesprek te bly. En die vraag is of enige iemand regtig neutraal kan bly.
Die tegniese aanbieding van hierdie programme is nie regtig ‘cutting edge’ of baie kreatief nie – dis meestal die teoloog in sy of haar studeerkamer.
Dit is egter nie die tegniese aanbieding wat my die meeste gepla het nie. Die bedoeling van die vervaardigers was tog nie om ’n aanskoulike, fees-vir-die-oog-tipe dokumentêr te versprei nie. My probleem is dat ek na vyf minute presies geweet het wat die agenda van die vervaardigers was – daar is geen poging tot ewewigtigheid of objektiwiteit nie. Teenstanders van die 2016-besluit sal in hierdie webreeks teologiese bevestiging kry vir hul standpunte en voorstanders daarvan sal afskakel na twee minute, eenvoudig omdat jy al die argumente van te vore gehoor het.
Die programme slaag ongelukkig geensins daarin om die kompleksiteit van die debat óf die verskillende kante van die saak op die tafel te plaas nie en moedig ook nie juis ’n oop-gesprek aan nie. Ek vermoed egter dat ook dit nie die doel van die programme is nie.
In die paar aflewerings wat ek gekyk het, is diegene aan die woord wat jy gedink het aan die woord sou wees: Dr Nadia Marais en prof Robert Vosloo en prof Louis Jonker – al drie verbonde aan die Fakulteit Telogie van Universiteit Stellenbosch – en ook natuurlik dr André Bartlett en prof Piet Naudé.
Dis nie teoloë wat in ’n debat met mekaar gaan nie, maar eerder die bevestiging van een bepaalde standpunt.
Die programme is kort – sodat dit maklik via sosiale media versprei kan word. Dit sal miskien nuttig gebruik kan word om ’n gesprek in jou gemeente mee in te lui en in daardie opsig mag alle gemeenteleiers, ongeag jou standpunt, dit tog sinvol vind.
▶ Ds Faani Engelbrecht is predikant by Goodwoodpark.
Die vervaardigers sê: ‘Ons doel met die reeks’
SOEKlig is ’n dokumentêre reeks waarmee ons sinvolle gesprekke rondom aktuele sake wil bevorder, sê Gys Loubser van Blackhole Productions. “Ons gesels met kundiges en poog om die veelkantigheid van die saak te belig. SOEKlig het nou die halfpadmerk bereik in terme van die onderwerpe wat ons wil ondersoek. Tot dusver is die terugvoer positief en die SOEKlig-gemeenskap groei. Volg ons by www.facebook.com/SOEKlig
