Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Nelis Janse van Rensburg (regs) en dr Gustav Claassen tydens die ASM-vergadering in Kemptonpark vandeesweek. Foto: Kerkbode

Kerk oor hofuitspraak: ‘Dis ’n groot moment vir ons’

Uitspraak word Vrydag 8 Maart by die hooggeregshof in Pretoria verwag in die hofsaak oor ‘n sinodebesluit oor selfdegeslagverhoudings. Ds Nelis Janse van Rensburg het Donderdag by ‘n vergadering van die Algemene Sinodale Moderamen geleentheid vir gebed gegee en gevra dat die teenwoordige kerkleiers moet bid dat die Here vir hulle ’n “nugterheid gee, grasie gee, genade gee. Dat wanneer die uitspraak in die kerk se guns is ons met genade en grasie sal optree. En wanneer dit nie in ons guns is nie ons ook met genade en grasie met mekaar sal omgaan.”

“Lees die (hof)uitspraak dééglik self – vat die dokument en lees vir hom deeglik,” het Janse van Rensburg Donderdag op die vooraand van die hofuitspraak gesê in ’n saak met die potensiaal om die kerk “te ontwrig”.

Die hofsaak spruit uit 11 lidmate van die NG Kerk wat die 2016-besluite van die algemene sinode se selfdegeslagbesluite bevraagteken en ter syde wil stel.

“Die goed is meer kompleks as wat dit lyk,” aldus Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM).

“Mens moet jouself voorbehou voor jy nou weer ’n uitspraak oor ’n uitspraak maak. Jy kan jouself baie vinnig baie belaglik maak,” het hy aan die meer as 40 afgevaardigdes by die ASM wat tans in Kemptonpark vergader, gesê.

“Ek dink dis ’n redelike groot moment vir ons. Dis ’n kwessie wat vir ons oor die afgelope paar jaar geweldige hoeveelhede spanning gebring het. Die uitspraak het die potensiaal om vir ons te ontwrig. Daar is geen twyfel daaroor nie,” meen Janse van Rensburg.

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris, sal die kerk Vrydag by die hooggeregshof in Pretoria verteenwoordig.

Op 22 Augustus 2018 is ʼn dringende hofaansoek voor die hooggeregshof in Pretoria gebring om die NG Kerk se jongste besluit oor selfdegeslagverhoudings ongeldig te laat verklaar. Die aanvoorwerk vir die saak is gedoen deur ’n groep van 11 lidmate. Hulle is proponente Laurie Gaum, Judith Kotzé, Michelle Boonzaaier, dr Frits Gaum, ds Pieter Oberholzer, prop Hennie Pienaar, Lulani Vermeulen, adv Leon Wessels, dr Murray Coetzee, prof Hendrik Bosman, dr Chris Jones en dr Nadia Marais. Om “logistieke redes” word die aansoek gebring deur vier van hulle: Laurie en Frits Gaum, Judith Kotzé en Michelle Boonzaaier. Dit gaan oor die omkeer van die 2015-besluit dat openlike gay dominees kan bedien en dat hulle burgerlike verbintenisse mag voltrek. In 2016 is dié sinodebesluit tydens ʼn Buitengewone Algemene Sinode omgekeer.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top