Dat die Christelike kerke in Nederland leeg loop, is ’n saak wat kerkleiers bekommer, berig LEOPOLD SCHOLTZ uit Delft in Nederland.
Kenmerkend van wat tans gebeur, is ’n nuusberig in De Volkskrant waarvolgens die Sint Catharina-katedraal in die stad Utrecht vir één euro (R16) verkoop gaan word.
Dié katedraal is in 1853 voltooi en is die tuiste van die Katolieke kardinaal, dié kerk se hoogste geestelike in die land, Wim Eijk.
Luidens die berig het Eijk verlede jaar voorspel dat van die 200 Roomse kerke wat toe nog in gebruik was, oor ’n dekade slegs 20 oor sal wees. Daar gaan byna geen week verby sonder dat een of meer kerkgeboue gesluit word nie.
Dit is nie net die Katolieke Kerk wat deurloop nie; in mindere of meerdere mate ly ook protestantse kerke onder die sekularisering van die samelewing. Die “Sociaal-Culturele Planbureau” (’n staatskantoor wat gereeld sosiologiese navorsing in Nederland doen) het einde verlede jaar ’n verslag gepubliseer wat die algemene kerklike agteruitgang duidelik aantoon.
In 2002 het 43% van die bevolking hulleself nog as lidmaat van ’n kerk beskou. In 2016 was dit 31%. Gereelde en ongereelde kerkbesoek het in dieselfde tyd van 49% tot 38% gedaal.
Bowendien sê driekwart van die Nederlanders dat die kerke se boodskap nie aansluit by hulle eie visie op die lewe nie, en twee derdes het geen of min vertroue in kerke.
Verlede jaar is eweneens berig dat die Protestantse Kerk in Nederland (PKN), die NG Kerk se susterkerk in dié land, jaarliks in die omgewing van 50 000 lidmate verloor.
Dít is die een kant van die munt. Daar is ook ’n ander kant.
Ondanks die afnemende houvas van die kerke het baie Nederlanders steeds behoefte aan godsdiens. Sowat 40% beskou hulleself as godsdienstig, die helfte bid soms, en uitgesproke ateïste vorm minder as ’n kwart van die bevolking. “God sterf nie, maar vervaag,” word in die verslag geskryf.
Baie mense “is nog steeds bereid om afsonderlike onderdele van die Christelike geloofsleer en lewenspraktyk te onderskryf, maar min van hulle het affiniteit met die Christelike totaalpakket.” Die mense glo ook in “die modularisering van die (Christelike) godsdiens: wel met Kersfees na die kerk maar nie die daaropvolgende Sondag nie; soms gebed, maar geen Bybel; wel geloof in religieuse wonders of ’n lewe ná die dood, maar nie in die duiwel of hel nie”.
Wat ook die geval is, is dat diegene wat agterbly in die kerke, steeds geesdriftiger is oor die rol van die kerk in hulle lewe. Dit is veral by protestante die geval.
Opmerklik is die bevinding onder jeugdiges: Van die jong protestantse kerklidmate meen 80% dat die kerk aansluit by hulle lewe en antwoord bied op die lewensvrae wat hulle stel.
Dit geld ook vir kerkbesoek. Van jong PKN-lidmate tussen 17 en 30 besoek driekwart gereeld die kerk, teenoor 62% van alle PKN-lidmate.
Vir die Katolieke is die ooreenstemmende persentasies 23 en 41.
Wat in Nederland gebeur, is ’n voorbode van wat vir Suid-Afrika wag. Maak dus klaar vir ’n kleiner kerk, maar een waar die binding en geesdrif van die agterblyers groter is as nou.
