Van die grootste uitdagings van die rouproses is dat die gemeenskap dikwels verwag mense moet “vinnig daaroor kom”, sê ds Braam Klopper, pastorale terapeut wat al sowat 30 jaar hiermee werk. Hiermee saam het daar ’n groot skuif van begrafnisse na verassings plaasgevind, wat ook implikasies op die rouproses het. FRALENE VAN ZYL het hom hieroor uitgevra.
Vertel die lesers kortliks wie jy is en iets van jou roeping?
Ek is ’n voltydse predikant by NG Kemptonpark-Oos en ’n pastorale terapeut. Vandat ek verder studeer het in pastorale terapie is die verwerking van rou ’n belangrike deel van my roeping.
Die kerk speel ’n belangrike rol in die ondersteuning van mense wat deur ’n tyd van rou gaan. Dit vorm ’n groot deel van predikante se werk.
Waar dink jy kan die kerk verbeter en waar doen die kerk goed as dit kom by hierdie rol?
Waar die kerk vir my goed doen is haar openheid om mense te dien wanneer hulle rou. Al gebeur dit net deur die begrafnisreëlings, broodjies en ’n koppie tee.
Tog glo ek dat die kerk kan verbeter op enkele plekke. Ons moet waak daarteen om verlossing en verlies te verwar, verlossing kan nie verlies uitkanselleer nie. Tweedens sal ons moet wegdoen met die onnodige en oorbekende gesegdes wat ons vir mense wat rou aanbied. Dit skep ’n skadelike beeld van God. Ons kan liewer iemand aanmoedig om aktief te rou. Laastens, wil ek predikante aanmoedig om deeglike opvolgwerk te doen na iemand se afsterwe.
Jy is al vir 30 jaar besig met hierdie werk en navorsing. Wat is vandag anders in die hantering van die rouproses en predikante se rol daarin as byvoorbeeld ’n paar jaar gelede?
Lank terug was mense meer betrokke by die sterf- en rouproses. Mense het tuis gesterf en dit was deel van die alledaagse lewe. Vandag is dit nie so nie, vandag hou ons ons afstand van die sterfproses. Daar het ook ’n swaai plaasgevind van begrafnisse na meer verassings, wat implikasies het vir die rouproses. Laastens, iets wat positief is, baie beweeg weg van die ou passiewe model van roufases en fokus eerder op aktiewe routake.
In jou onlangse werk fokus jy onder andere op die tema van swangerskapsverliese soos miskrame en stilgeboortes, en die unieke rouproses wat daarmee saamgaan. Hierdie is baie relevante temas en tog nog baie onder die radar. Dink jy hierdie tema is iets wat nog aandag nodig het? Wat het jy geleer in jou navorsing en werk met hierdie tema?
Báie meer aandag is nodig! Dit is een van die mees onderskatte verliese waardeur iemand kan gaan. Paartjies probeer dikwels om die kind wat hulle verloor het vinnig te vervang, wat geweldige implikasies het vir hoe daardie verlies verwerk word. Teologiese vrae oor God kan ontstaan en die verlies kan swaarder wees omdat tegnologie die realiteit van die kind vroeër moontlik maak vir ouers en hulle familie. Soos vroeër genoem is ondeurdagte gesegdes ook hier ter sprake en kan dit vir paartjies verdere onnodige emosionele skade beteken.
Rou opsigself is ’n reuse-uitdaging, maar wat is van die grootste uitdagings waarmee mense tydens die rouproses sukkel?
Van die grootste uitdagings is dat mense nie besef hulle rou is normaal nie. Saam met dit verwag die gemeenskap dikwels dat hulle “vinnig daaroor sal kom”. Verder is die uitdaging dat jy aktief aan die routake sal werk en jouself die nodige tyd sal gee.
Wat is jou hoop vir die toekoms en veral vir die kerk as dit kom by die verwerking van rou en die gesprekke daar rondom?
My hoop vir die toekoms sal wees dat ons meer op opleiding in rouberading sal fokus, nie net vir studente nie, maar deurlopend deur predikante se bedieninge. Ek hoop dat predikante sal besef dat die manier hoe ons saam met mense in rou die pad stap ’n wesenlike verskil kan maak en baie belangrik is.
- Ds Braam Klopper het ’n reeks CD’s beskikbaar met die naam: Gesprekke oor rou. Dit behandel verskillende temas soos selfmoord, die dood van ’n kind, swangerskapverliesse en rou oor die algemeen. Dit is ook in Engels en elektronies beskikbaar. Kontak Wilmarck Media by info@braamklopper.co.za of 082 574 3530.
