Die nagmaal vra vrae

Die nagmaal het beslis iets te sê oor die ekonomiese ongelykheid wat alle kerke in Suid-Afrika omring, skryf Henco van der Westhuizen.


Die nagmaal is, soos die doop, die evangelie, die goeie nuus, sigbaar! Dáár sien ons waaroor dit werklik in die kerk gaan! En in die kérk word die liturgie van en vir die lewe ingeoefen, oefen ons in waaroor die léwe werklik gaan, wat wérklik van lewenswaarde is, of nie.

In die nagmaal word die gemeenskap verwelkom. En die wat verwelkom word is nie die wat gewoonlik deur ons verwelkom word nie. In You are what you love (2016) sê James KA Smith dat hier­die verwelkoming, álmal insluit. Dat daar nie uitgesluit word nie. Die nagmaal, sê Michael Welker in What happens in Holy communion? (2000), is juis ook vir die Judasse, die Petrusse. Die nagmaal handel oor “unconditional acceptance”. Ook hulle wat nie deur ons verwelkom word nie, word in hierdie gemeenskap wel verwelkom.

Dít word juis ook duidelik in die gemeenskap se handelinge. Hier wórd gevra of almal van die brood en die wyn gekry het. Dat almal eet. Dat almal drink. Dít word in die nagmaal gevier. Dít is waaroor dit in die handelinge handel. “What happens here is reciprocal welcome and acceptance of human beings. Social connectedness, basic responsibility, and basic trust,” sê Welker. Dit handel juis hiéroor: “There is a social, even political, reality enacted here: there are no box seats at this table, no reservations for VIPs, no filet mignon for those who can afford it while the rest eat crumbs from their table. The Lord’s table is a leveling reality in a world of increasing inequalities,” sê Smith.

Dit is juis in hierdie gemeenskap en in die gemeenskap se handelinge waarin Jesus waarlik teenwoordig is. Jesus se teenwoordigheid word in die nagmaal juis nie losgemaak van die onvoorwaar­de­likheid van hierdie gemeenskap en hulle handelinge nie.

Daarom dat die nagmaal ook onwaardig gebruik kan word (1 Kor 11), dat dit só gevier word dat die evangelie, die goeie nuus, die onvoorwaardelikheid nie sigbaar is nie. “Liturgy can prevent the gospel from taking hold,” sê John de Gruchy.

Vir Paulus lê die onwaardige gebruik hierin: Dié wat meer gehad het, wat in beheer van hulle tyd was, het vroeg by die nagmaalsgeleentheid, waar die nagmaal op die maaltyd gevolg het, aange­sluit. Dié wat minder gehad het, wat nie werklik in beheer van hulle tyd was nie, het later aangesluit. Die gevolg was dat dié wat vroeg aangesluit het begin eet en drink het. Dat dié wat later aansluit bloot van die nágmaalsbrood en wyn kon gebruik. Die nagmaal het so bloot ’n sus van die gewete geword vir die wat weet dat die skynbare gelykheid wat wel hier gevier word die werklikheid weerspreek.

Dit vra vrae aan ons! Is ons ook in ons viering van die nagmaal nie bloot besig om ons gewete te sus, terwyl ons weet dat die gelykheid wat skyn­baar gevier word die werklikheid weerspreek nie? Die vraag is nie nét wie werklik welkom is in óns gemeenskappe nie. Dit is nie nét ’n vraag wie werklik in óns handelinge deel nie. Of almal in óns gemeenskappe wel eet en almal wel drink nie. Dit is ’n vraag of die nagmaal, soos ons dit tans vier, waar die liturgie van en vir die lewe veronderstel is om ingeoefen te word, wel dié werklikhede veranderd voorstel?

Die vraag is dan of die evangelie, die goeie nuus, vandag wel in die nagmaal en die doop sigbaar word? Ís dit so dat ons dáár sien waaroor dit werklik in die kerk gaan? Of is dit dalk júis daar wat ons sien waaroor dit in werklikheid vir die kerk gaan?

Dr Henco van der Westhuizen is ’n dosent in Historiese en Sistematiese Teo­logie by die Universiteit van die Vrystaat.