Kerk gekaap?

Is daar naas staatskaping ook so iets soos “kerkkaping”? As dit so is, wat van die kerk word ge­kaap, vra FANIE SNYMAN.


Die term staatskaping is ’n begrip wat hom tuisgemaak het in die Suid-Afrikaanse samelewing en met die Zondo-kommissie het dit ’n byna daaglikse nuus­item geword. Ek gebruik die konsep van staatskaping as metafoor vir wat in die kerk aan die gebeur is en vra die vraag of daar nie ook dalk iets is soos kerkkaping nie? Kan die kerk (onwetend) geplunder word van dit wat wesenlik tot die identiteit, die aard en missie van die kerk behoort tot so ’n mate dat ons op ’n dag gaan ontdek al wat van die kerk oorgebly het niks anders is as ’n leë dop en dat die kerk sy effektiwiteit en legitimiteit verloor het? Indien wel, is daar ’n weg uit kerkkaping?

Tydsgees

Die kerk is nie die enigste ruimte waar ek ’n ontmoeting met God kan of hoef te hê nie. Hierdie tendens word duidelik gesien by belangrike gebeurtenisse in mense se lewe. Huwelike word voltrek by huweliks-”venues” wat ook klein en intieme kapel­letjies het. Waar ’n huwelik dus nog kerklik bevestig word, is die kerkgebou van die plaaslike gemeen­te nie meer nodig nie. Begraf­nisdienste waar daar afskeid geneem word van ’n geliefde, kan sekulêr wees son­der ’n sweem van godsdienstigheid in die vorm van godsdienstige rituele.

Buite die kerk is daar ook (miskien selfs veral) spiritualiteit te vind. Die tyds­gees van sekularisme en postmoderniteit het die kerk gekaap.

Finansies

’n Refrein wat van die kleinste gemeente in die diep platteland tot in die kantore van die algemene sinode van die NG Kerk gehoor word is die toene­mende gebrek aan fondse. Te min geld plaas gemeentes in ’n soort van ‘survival mode’. Dominees word nie volgens sinodale skaal vergoed nie, kontrakposte word al hoe meer algemeen, dominees tree af om pensioen te ontvang en word onmiddellik weer aangestel in dieselfde gemeente om hom bekostigbaar vir die gemeente te maak en vir die dominee die dubbele voordeel van pensioen en salaris te verseker. In sommige gemeentes het die werk van die dominee verskraal tot ’n fondswerwer. Vir die dominee in ’n gemeente wat finansieel sukkel is dit belangrik dat die gemeente finansieel oorleef, want dit is letterlik die brood en botter van die dominee en sy gesin wat hier onder bedreiging kom.

Gemeentes se rede vir bestaan word geldinsamelingsprojekte om die ge­meen­­te vlot te hou en om ’n do­minee te bly bekostig. In ’n onlangse artikel in Kerkbode (Bosman & Nel, 12) word die vraag gevra of die NG Kerk nie deur die instandhouding van middelklaswaar­des ge­kaap is nie, waardes wat op selfinstandhouding en dissipelskap met mini­­male koste neerkom.

Geld (of die gebrek daaraan) het die kerk gekaap. Die voortdurende gebrek aan voldoende fondse tap die energie van kerke en so word die kerk gekaap van haar eintlike roeping en bestaans­reg.

Politieke klimaat

Die kerk, en met name die NG Kerk, speel in die groter prentjie van die Suid-Afrikaanse landskap ’n al klei­ner rol. Die kerk kan nie sekerhede verskaf vir die onseker tyd wat ons nou beleef nie. Die kerk kan nie misdaad bekamp of ’n werkverskaffer word nie. Ver­soekskrif­te, petisies of verklarings van die NG Kerk aan wie ook al het nie regtig in­vloed nie. Die NG Kerk se in­vloed by die regering is op ’n laag­tepunt. Lidmate besef dat lidmate van die NG Kerk ’n baie klein minderheid in die land is waarin daar weinig of geen politieke bedin­gingsmag beskikbaar is. Navor­sers praat van ’n inwaartse migrasie en toon aan hoedat Afrikaanssprekendes hulle terug trek agter ’n “boerewors­gordyn”.

Teologiese klimaat

Tegelykertyd is daar ’n soeke na ’n openbare demonstrasie van geloof. Massasaamtrekke van duisende men­se verkieslik in die oop veld waar gelowi­ges saam kan Bybel lees en bid en na ’n vurige prediker luister, is kenmerkend van ons tyd. Ons hou kerk buite die kerk. Ons is a-kerklik kerklik. Dit wat tipies kerk was, is weg uit die kerk na ander plek­ke waar magtige mans vergader en waar dit nou die tyd is.

Maklike antwoorde op moeilike vrae is wat ons verkies. Moenie geloof kompliseer nie. Moenie etiese vraag­stukke kompliseer nie. Sê net wat die Bybel sê. “Dit staan mos duidelik in die Bybel” is die soort van uitsprake wat gemaak word. Dit is waarom die kerk so sleg vasgeval het in die gesprek rond­om selfdegeslag verhoudings tussen mense. Die tekste sê dit mos. Moenie ons verwar met die kompleksiteit van ­literêre en historiese kontekste van Bybeltekste nie. Dit is net te inge­wik­keld. Fundamentalisme bied ’n maklike uitweg uit die problematiek van komplekse probleme.

Teologies word die kerk gekaap – beroof van die durf om grondig teo­logies na te dink oor die vraagstukke van die dag.

Prof Snyman is dekaan van die fakulteit Teologie & Religie, UV.

  • Hierdie is ’n verkorte en geredigeerde uittreksel van ’n ­referaat gelewer deur prof Fanie Snyman tydens die Universiteit van Pretoria se Lentekonferensie, 18-20 September 2018.