Hoe lyk waagmoed?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ek wonder of ons weet hoe om ge­nade aan mekaar uit te deel, juis wanneer ons wil reg wees? Die on­langse Wes-Kaaplandse sinodesitting is ’n bewys dat die gesprek oor selfdegeslagverhoudings ons tog kan help met ’n breër gesprek oor genade – en hoe dit uitspeel in geregtigheid en menswaardigheid. Waar dit voorheen gevoel het of ons nie vorder nie, of die gesprek verlammend geraak het, het ons nou we­sen­like stappe vorentoe geneem. Ek deel graag my eie ervaring.

Daar is twee mosies oor selfdegeslag­verhoudings ingedien. Albei is met ’n oorgrote meerderheid by die sinodesitting aanvaar. Dit is opvallend dat beide mo­sies daarop gemik is om vertroue te vestig tussen (heteroseksuele) gelowi­ges. Die tema van die sinodesitting was immers, Volg Jesus met waagmoed. Alhoewel ek uiters blootgestel gevoel het toe ek die gestalte van ’n “openlike gay do­mi­nee” (wat ook al dit beteken) moes aan­neem, het ek geweet dit is wat nodig is om vertroue te skep in hierdie ge­sprek.

Die beweegrede agter die mosie was om die menswaardigheid van alle men­se opnuut te bevestig. Dit vra dat ons herbesin oor waarom slégs verhoudings tussen mense van die teenoorgestelde geslag as ’n gawe van God beskryf mag word. Dit gee erkenning daaraan dat gay-lidmate nie ánder ruimtes soek of verkies bó die huwelik nie. ’n Lewens­lange verbintenis waarin seksualiteit ’n eksklusiewe karakter dra, en geseën of bevestig word deur die kerk, kan tog nie nét vir sommige mense gereserveer word nie?

Die mosie het ook die feit betreur dat die verloop van die gesprek oor selfdegeslagverhoudings soveel seer en ver­war­ring geskep het by mense.

Met die motivering van die mosie het ek gepleit, en doen ek dit weer hier, dat ons nie mekaar in kaste van ewig-geldende waarhede toesluit nie; dat ons nie ons naaste in óns beeld probeer skep nie. Selfs al is die waarheid, ‘liefde-is-liefde’, die verweer wat dikwels gebruik is binne hierdie gesprek, bestaan die gevaar dat dit wat ons as die waarheid sien vir ons belangriker word as ons ver­bintenis tot God en ons worsteling met God in die soeke na sy wil.

Wat sal gebeur as ons eerder vir God toelaat om aan te hou skep uit genade? Het waagmoed nie dalk iets hiérmee te doen nie?

Ek wonder of hierdie nuutgevonde vertroue ons gaan help om eerlik te wees oor hoe lomp ons taal en ons teolo­giese besinning is as daar gepraat word oor “selfdegeslagverhoudings”? Dit bly vir my opvallend dat die meeste ge­spreksgenote ’n onvermoë het om van­uit hul eie posisie te praat oor seksuali­teit. Is dit omdat ons eie lywe en sek­sua­liteit ons nog skaam laat?

Ek het dit gewaag om die posisie van ’n gay persoon in te neem, nie omdat my seksuele oriëntasie vir my meer be­langrik is as die volgende persoon s’n nie, maar omdat ek diep bewus is van die vrees en angs waarin soveel LGBT+ gelowiges nog steeds leef. Sedert my be­vestiging as predikant drie maande ge­lede het ek honderde boodskappe ont­vang van sulke gelowiges. Hulpkrete.

My eie ongevraagde, selfs onregverdige, publisiteit die laaste paar maande herinner my daaraan hoe duur die soeke na waarheid is. Dit herinner my dat dissipelskap altyd iets kos. Dit is ter wille van hierdie hulpkrete vir genade en mens­­waardigheid dat ons moet bly waag met weerlose sagmoedigheid.

Maar miskien voor ons teologies kan begin waag, moet ons waag om net mekaar se menswaardigheid te erken en begin om vertroue te skep. Sal ons dalk so kan wegbeweeg van verdere uitputtende pogings tot geartikuleerde vroom­heid? Sal sinodevloere dan wel ruimtes word waar geestelike geletterdheid uitgebrei kan word? Sal die soeke na waarheid, geregtigheid en menswaardigheid dán minder verlammend wees?

Ds Louis van der Riet is predikant van NG Parke-gemeente (Kraaifontein).