Wat kan die kerk in Suid-Afrika leer by Christene wat hul van ander lande hier kom vestig, vra ANTON KNOETZE
1 Die eerste belangrike vraag is: Waarvandaan kom hulle?
Die meeste emigrante kom uit SAOG-lande, veral omdat Suid-Afrika gesien word as ’n gebied met relatiewe bestendigheid, ’n demokratiese regering, goeie infrastruktuur en ekonomiese stabiliteit. Die amptelike syfers van die VN se Departement van Ekonomiese en Maatskaplike Sake (2013 International Migration Report) dui aan hoe die persentasie van migrasie na Suid-Afrika dramaties gestyg het sedert 2000. Emigrante wat by wyse van permittoekennings hulle in Suid-Afrika vestig (vir redes soos studies, werk ens) kom veral van Zimbabwe, Malawi, Nigerië, Indië, China en Pakistan.
2 Waar woon hulle?
Die meeste buitelands-gebore migrante wat wettig in Suid-Afrika is, woon in Gauteng. Hulle getalle is hoër in Gauteng as die gesamentlike syfer van wettige migrante in al die ander provinsies. Daar is egter baie min statistieke beskikbaar oor onwettige immigrante.
3 Hoe verskil mense wat uit ander Christentradisies kom van Christene in Suid-Afrika?
In Afrika is daar ’n bekende spreekwoord: Hy wat nog nooit gereis het nie, dink Ma is die enigste kok. Daarmee word bedoel dat baie dinge eers ontdek word wanneer jy dit waag om die huis te verlaat. Hierdie spreuk is natuurlik ook waar wanneer dit kom by die uitleef van jou Christelike tradisie, want dit is maklik om te dink dat die enigste manier om jou geloof uit te leef is soos wat dit in my huis gebeur.
In Suid-Afrika het geloofsgemeenskappe hulle baie goed gevestig en tradisies, kerkterreine en selfs eiendom het kenmerkend van die landskap geword. Baie van hierdie instansies sal egter byvoeg dat die veranderinge ook sy merk laat. Aan die ander kant het sekere buitelandse leiers daarin geslaag om ’n gewillige gehoor te kry en baie van hierdie leiers spog met reuse-opkomste tydens hulle byeenkomste.
4 Dit is egter duidelik dat daar ’n duidelike verskil in belangrike vertrekpunte is
1. Wyse van bymekaarkom. Die eerste verskil is alreeds by die uitnodiging. Uitnodigings word dikwels so oorgedra: Kom na my kerk en jy gaan getref, geskud en gebless word. Vir die Suid-Afrikaanse Christen is dit baie vreemde terminologie. Die kerk is ’n plek van aanbidding en nie ’n sentrum van “bless” nie.
2. Die aanbidding van God, binne die verskillende groeperings in Suid-Afrika, het baie minder klem op die belewing van God geplaas as wat soms in buitelandse samekomste gebeur.
3. Christenleiers uit Afrika is baie meer gesteld op titels, aanspreekvorme en kleredrag. Die tendens in Suid-Afrika staan soms lynreg in stryd hiermee. Die tendens beweeg al meer na die informele en die meeste geestelike leiers verkies om op die voornaam aangespreek te word. Maar die prentjie het ook ’n ander kant. In Suid-Afrika is verhoudings gemakliker maar ’n duidelike armlengte word gehandhaaf sodat min betrokkenheid by die persoonlike lewenswêreld toegelaat word. Buitelandse leiers met hulle vreemde titels en kleredrag is dikwels baie meer betrokke in volgelinge se lewe as wat gedink sou word.
4. Migrante vind vinnig uit dat werk en hulp nie so maklik in Suid-Afrika te kry is nie. Geloofsgemeenskappe bied ondersteuning op ’n manier wat vir Suid-Afrikaanse Christene nog baie vreemd is. Migrante sê hulle vind uit dat jy nie net aanklop by ’n kerkdeur en gehelp word nie. Suid-Afrika se gesteldheid op afsprake bring ontoeganklikheid en dit het niks met die aanspreek op voorname te make nie.
5. Kerke in Suid-Afrika is geweldig gebonde aan die horlosie en die georganiseerdheid is baie vreemd vir migrante-Christene, veral dié uit Afrika.
6. Dit is baie vreemd om ’n ateïs in Afrika te vind. Daar is baie verkeerde dinge wat plaasvind maar hulle vind dit uiters vreemd dat God bevraagteken kan word.
7. Die groot geboue, moderne hulpmiddels ens laat die vraag ontstaan of jy jou Christenskap kan uitleef sonder die afhanklikheid en ondersteuning wat dit bied. Die punt van verskil word duidelik deur ’n Etiopiese leier wat sê: Hier drink jy koffie op jou eie. In Etiopië, as jy koffie het, deel jy dit met iemand.
8. Waarskynlik is die grootste kenmerk van verskil die oorheersende individualisme binne die kultuur en die kerk van Suid-Afrika. Dit is vreemd vir geloofsgemeenskappe in Afrika. ’n Etiopiese leier sê: “Ons woon begrafnisse by van mense wat ons nie ken nie, al is dit net omdat hulle van Etiopië afkomstig is. Aan die ander kant gaan plaaslike Christene selde na ’n begrafnis, selfs al sou dit mense wees wat hulle geken het.” Buitelanders sê: Wanneer mense mekaar nodig het is die community baie belangrik. Daarteenoor is dit duidelik dat onafhanklikheid en ander vorme van individualisme skade aan verhoudings bring.
9. Hierdie individualisme word ook sigbaar in die teologie. Hier is die gesindheid, jou geloof is jou geloof en my geloof is my geloof en as dit vir jou werk is ons bly. Migrante kom egter graag na dieselfde geloofsgemeenskap en die spesifieke teologiese beklemtoning sal nie regtig saak maak nie.
10. Migranteleiers wat suksesverhale is het geleer om die stelsel in Suid-Afrika te gebruik. Dit is opmerklik om te sien hoe sosiale media deel van hulle ondersteuningstelsel geword het.
5 Word sekere aspekte van Christenskap plaaslik meer beklemtoon?
1. Dit is duidelik dat Suid-Afrikaanse geloofsgemeenskappe trots is op hulle kerklike agtergrond en tradisie. Hierbinne is teologiese begrippe soos genade, uitverkiesing en Skrifgesag baie belangrik. Dit is egter nie hoog op die weeklikse agenda van byeenkomste vir migrante-gelowiges nie.
2. Volgens hulle word evangelisasie, voorbidding en om jou getuienis te deel afgeskeep in Suid-Afrika. Dit is algemeen om straat- en treinpredikers in buurlande te vind. In Afrika word dit nie van mense verwag om net op te daag by kerkbyeenkomste tensy boodskappers dit eers met hulle gedeel het nie.
3. Sommige migrante-leiers ervaar die publisiteit wat uitwasse bring en waar die evangelie gesien word as ’n instrument tot persoonlike voordeel eerder as ’n opoffering wat ewige voordeel bring.
4. Die beklemtoning in Suid-Afrika van geloof en dat dit gesien word as ’n middel tot beter verhoudings is vreemd en buitelanders sê dat dit vir hulle moeiliker is om hier oor sonde, redding, hemel en hel te praat. In hulle lande van herkoms is dit makliker om die beklemtoning te laat val op nader tot God, jou gebedslewe en om staande te bly teen aanslae van die duiwel.
6 Genade en onbedoelde gevolge
1. Een van die merkwaardige waarnemings wat dikwels genoem word is die leerstuk oor genade en die gevolge. Hierdie leerstuk is onlosmaaklik deel van die Christendom, maar die waarneming oor wat in Suid-Afrikaanse kerke gebeur is dat omdat dit genade is daar geen opoffering van jou kant is nie. Om te rus in God se genade is heeltemal anders as “werk jou heil uit met vrees en bewing” (Fil 2:12). Dit bring ’n traagheid in die geestelike lewe van baie plaaslike Christene mee. Wanneer die vrugte van die sondige natuur aangespreek word neem mense aanstoot.
2. Die rol van kinders en die verantwoordelikheid in gesinsverband is vreemd. Kinders van emigrante sal rustig deur ’n lang diens sit en glad nie steurnis veroorsaak nie. In Suid-Afrika is daar ’n beklemtoning wat graag kinders eenkant wil akkommodeer.
3. Sommige leiers wys uit hoe akkommoderend Christene binne die vermaaklikheidskultuur van Suid-Afrika geword het. Hoe gesinne vermaak word deur geweld en die seksuele inhoud van die media. Die aanvaarding van alkohol, sigarette, dobbel en die soeke na meer op materiële gebied word vreemd gevind.
4. Die afwesigheid van gebedsbediening – vir buitelanders is daar groepsdruk om persoonlike geestelike dissiplines te handhaaf. Leiers noem dat die druk in hulle lande van herkoms is om voor te gee en meer geestelik te lyk as wat jy werklik is. In Suid-Afrika is kerke traag om te bid. Niemand praat oor my navolging van Christus nie. Alles word oorgelaat aan die individu. Hier is die gevaar nie om voor te gee nie. Die gevaar is luiheid. Vir gelowiges uit Afrika is dit nie vreemd om elke week byeen te kom en vir twee ure te bid nie, selfs nie om vir sewe dae te vas nie. In hulle lande van herkoms word groot teologiese leerstellings dalk nie genoegsaam beklemtoon nie maar hier word die erns van gebed en persoonlike toewyding afgeskeep.
7 Wat moet ons maak met die verskille?
Terwyl daar baie verskille is en daar dikwels ook ’n gevaar van sinkretime is, is die ooreenkomste baie meer as ons verskille. ’n Bekende migranteleier se opmerking is: “The big problem in every culture is an absence of passion for what’s really important. Christians of every culture need to grow in their love for Jesus.”
- Ds Anton Knoetze, leraar van NG Gemeente Secunda Goedehoop, het gedien as kommissaris by die Commission for the Promotion and Protection of the Rights of Cultural Religious and Linguistic Communities (CLR).
