Wat drie hofsake ons leer

Die saak van Maart 2019 in die Noord-Gautengse Hoogge­regs­hof oor besluite van die 2016-Algemene Sinode raken­de gay-huwelike, herinner aan twee vorige opspraakwekkende “kerksake” …

Die meer bekende kerksaak, tagtig jaar gelede, was dié van die invloedryke professor Johannes du Plessis van Stellenbosch teen die NG Kerk (die Kaapse Sinode). Hy was oortuig dat ’n nuwe teologiese oriëntasie in die NG Kerk nodig was en het dit sedert 1923 in sy tydskrif, Het Zoeklicht, verduidelik. In die Kuratorium, die Ring van Stellenbosch en toe die Kaapse sinode van 1928 is klagtes oor sy siening van die Skrifinspirasie en die twee nature van Christus gelê; hy is van leerdwaling beskuldig. Bevindinge het verskil, appèlle het gevolg, die stryd het uitgekring en twee jaar later – met die klagtes verbreed as dat Du Plessis ook Moses se outeurskap van die Pentateug ontken, van die belydenisskrifte afwyk, die evolusieleer steun en Christus se Goddelikheid relativeer – het die Kaapse Sinode besluit om hom in sy amp te stuit. Du Plessis het hom na die Hooggeregshof gewend en is gelykgegee: sy skuldigbe­vinding was ongeldig weens prosedurele foute van die sinode; die kostes vir die kerk. Die Sinode het dit aanvaar en Du Plessis se bevoegdheid herstel, maar nie sy leeropdrag in Stellenbosch nie. Hy het ’n eensame figuur geword en is in 1935 oorlede.

’n Halfeeu later egter – in die tagtigerjare – het daar ’n wending in die NG Kerk ten opsigte van haar Skrifbeskouing en -gebruik gekom; ’n wending wat nie net tot die verwerping van ’n be­denk­like apartheidsteologie gelei het nie, maar in 2015 ook op die Algemene Si­no­de se opspraakwekkende besluit oor selfdegeslagverhoudinge uitgeloop het. Appèl is aangeteken, die 2016-Sinode het omgedraai, 12 lidmate het die hof genader en die uitslag is nou bekend. ’n Foto by die pienk Du Plessis-standbeeld in die tuin van die Teologiese Fakulteit in Stellenbosch het die vermeende verband tussen die 2019- en die 1932-hofsake gewys.

Maar, net oorkant die paadjie na dieselfde fakulteitsgebou, staan nóg ’n standbeeld, en ouer: van die eerste twee professore Murray en Hofmeyr, en van twee stigtersfigure van die destydse Teologiese Seminarium, di Andrew Murray en GWA van der Lingen. ’n Standbeeld wat die gedagtes na ’n vroeëre hof­saak laat gaan: dié van ouderling HH Loedolff teen die NG Kerk, in 1862. Die Kaapse (NG) Kerk was in ’n teologiese stryd gewikkel: aan die een kant ’n behoudende evangeliese stroming, on­der leiding van ds Andrew Murray; ’n gemoedelike bediening gerig op die bekering van sondaarmense en herle­wing in die kerk. Aan die ander kant, ’n groep jonger predikante soos JJ Kotzé en TF Burgers wat meer krities tot die teologie, kerk en geloof gestaan het; met hul tydskrif – De Onderzoeker – is hulle later “liberaal” genoem. Die oprigting van die Seminarium in Stellenbosch deur die Kaapse Kerk was juis bedoel as ’n wering téén hierdie “liberale” invloe­de uit Nederland. In die Sinode van 1862 is klagtes van leerdwaling (“onregsinnigheid”) teen Kotzé en Burgers ingebring – oor die bestaan van die duiwel, ’n mens se geneigdheid tot sonde, die ewige voortbestaan van die siel en die Goddelikheid van Christus. Die sitting is onderbreek toe oudl Loedolff van Malmesbury – ’n “liberaalgesinde” – hom tot die Hooggeregshof gewend het met ’n beswaar dat die sinode nie wettig saamgestel is nie: Volgens Ordonnansie 7 van 1843 was die NG Kerk ’n Káápse kerk binne die Kolonie. Die hof het Loedolff gelykgegee en predikante soos ds AA Louw van Fauresmith en ander noord van die Garieprivier – almal “behoudendes” – moes die sitting verlaat. Dit het nie verhoed dat die sinode Bur­gers en Kotzé skuldig bevind en uit hul amp geskors het nie, en beide het hulle na die hof gewend. Die stryd is tot in Londen gevoer en daar is in die guns van die klaers beslis; hulle is in hul amp herstel. Die impak hiervan was groot: terwyl die sage gewoed het, kon die Kaapse Sinode vir agt jaar nie byeenkom nie. Voorts is die amptelike band na noordelike ge­meen­tes afgesny en het dit gelei tot die totstandkoming van drie afsonderlike si­no­des – Vrystaat, Natal en Transvaal. ’n Waterskeidingsaak in die geskiedenis van die NG Kerk, dus.

Drie “kerksake” – 1862, 1932, 2019 – tel­­kens, sewe dekades of dan twee ge­nerasies uitmekaar. Sê dít iets? Vier duidelike verbande: Eerstens, dat die kerk haar eie reëls en prosedures nou­keurig moet volg. Dit dra ’n boodskap na buite en word deur ons regstelsel gerespekteer. Tweedens, dat in ’n mo­der­ne samelewing die kerk as instelling onderhewig is aan landswette en die grondwet, en in ’n “neutrale” of sekulêre staat beteken dit dat daar nie teen indiwidue of minderhede gediskrimineer mag word nie. Derdens, aldrie hofsake en die teologiese geskille daaragter het op die breuklyn tussen geloof en wetenskap gelê, ’n spanningsveld waarin simplis­tiese antwoorde nie volhoubaar is nie. Nie meer nie. Want, en dit is die vier­de lyn tussen 2019 en 1932 en 1862: Die NG Kerk sal nie daarvan wegkom om te moet antwoord op hoe ons die Bybel lees nie, as die skrifgeworde Woord van God. In veranderende kontekste te bly antwoord, juis uit liefde vir dié Bronteks van ons geloof. Ook daaraan herinner die twee standbeelde voor die ou Seminarium op Stellen­bosch ons knaend.

Ds Jan Lubbe is leraar is van die NG Kerk Berg-en-Dal in Bloemfontein.