Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Attie van der Colff


20 Augustus 1939 – 28 Julie 2018


Ds Adriaan Petrus van der Colff (BA) is op 20 Augustus 1939 gebore te Kloofstraat 3 in Mosselbaai. Attie se vader is Willem Schalk van der Colff en sy moeder Anna Sophia Rust, twee opregte, vroom, toegewyde mense en boere-adel uit die beste hout gesny. Sy pa was sy lewe lank lid van die kerkraad, eers diaken en toe ouderling. Hy was ’n staatsamptenaar en het ’n belangrike pos beklee as doeane-beampte in die hawe van Kaapstad. Een van sy voorsate is ds Adriaan van der Colff, wat op 20 Mei 1731 georden word as predikant te Maarssen in Nederland. Sy kleinseun Adriaan is ’n skeepsdokter in diens van die VOC en word in 1806 die stamvader van die Van der Colffs in Suid-Afrika. Hy trou in 1812 in George en die bloedlyn loop tot by Attie se oupa, Andries Petrus van der Colff, ’n boer in Noord-Kaapland.

Attie begin in 1946 sy skoolopleiding aan die Laerskool Jan van Riebeeck en matrikuleer in 1956 aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Hy is die WP se onder 17 kampioen in hekkies en wenner van die Junior en Senior Redenaarskompetisie.

Ds Attie het in 2016 geskryf: “My oupa is oorlede die jaar waarin ek gebore is en was baie teleurgesteld dat nie een van sy seuns predikant geword het nie. Maar albei sy kleinseuns wat sy naam dra, word leraars van die NG Kerk, ekself en my neef Attie van Liedboek-faam. Ek het tot bekering gekom op 5 April 1955 op ’n CSV-kamp in Bainskloof naby Wellington. By die aanhoor van Jesaja 1:18 het die Gees van God my onbedaarlik laat huil en teologiese student Joepie Marais het my uit die rivier waar ons groep wydsbeen oor ’n lang stomp gesit het, opgetel en na sy tent geneem. Daar het ek Jesus met juigende blydskap aanvaar as my Saligmaker. Ek het dadelik na die boek­winkeltjie geloop en vir Hom beloof dat as ek daar kom en ’n eksemplaar van dr RA Torrey se Sakboekie vir persoonlike werkers kry, ek my lewe in die bedie­ning aan Hom sal wy. Terwyl ek loop het die Here die gedagte by my laat opkom. Daar sal net een kopie van die boekie wees en sy omslag sal wit wees soos sneeu, wit soos wol. Dan sal jy twyfelloos weet dat jy my dienaar is. Dat jy wil omdat Ek dit wil. En daar was net een kopie, spierwit!” Hiermee was die roeping tot die evangeliebediening ’n werklikheid en ds Attie se lewenspad was nooit weer dieselfde nie.

Die jong Attie begin in 1957 met sy BA (Admissie) op Stellenbosch en moet daagliks met die trein reis van Kaapstad na Stellenbosch en terug. Hy bly by sy ouers in die huis omdat hy nie die £120 koshuisgeld per jaar kon bekostig nie, terwyl die spoorwegkonsessie slegs £3 per kwartaal kos omdat sy pa vir die SAS & H werk. In 1960 word hy student aan die Teologiese Seminarium in die Eikestad. Attie spesialiseer in Kerkgeskiedenis onder leiding van prof TN Hanekom, ’n vakgebied waarin hy uitblink en ’n beurs hom aangebied word na legitimasie om vir sy doktoraal in Kerkgeskiedenis aan die Vrije Universiteit in Amsterdam te gaan studeer. Prop Attie wys die aanbod van die hand na ’n geestelike worsteling en besluit om dadelik beroepbaar te wees in die NG Kerk.

Op 5 Desember 1963 word prop AP van der Colff in die NG Moederkerk op Stellenbosch gelegitimeer en hy trou twee dae later op 7 Desember 1963 met mej Magdalena Jacoba van Romburgh op Warrenton. Sy was ’n verpleegsuster in die Stellenbosch-Hospitaal. ’n Beroep kom na die NG gemeente Sasolburg-Wes, waar hy op 7 Februarie 1964 met handoplegging ontvang en bevestig word. Sasolburg is in dié tyd ’n snelgroeiende dorp en dit bring geweldige uitdagings mee. Begin 1966 aanvaar hy ’n beroep na die NG Gemeente Parys-Oos waar hy met groot vreugde op die walle van die Vaalrivier die mense aan Vrystaatkant bedien met die Woord. Aan die einde van 1972 word hy bevestig in die NG Gemeente Otjiwarongo-Suid, ’n hartlike dienstyd in die groot en wye Suidwes-Afrika. Hier is hy skriba van die Sinode van Suidwes-Afrika waar sy talente en gawes hoog waardeer word.

Hier bereik ’n beroep op 7 Augustus 1976 hom as dienskneg van die Here na Kuruman. Hy neem die beroep aan en ’n besondere bedieningstyd begin in die dorp wat toe reeds die erenaam verwerf het as oase in die Kalahari. Sy prediking trek groot skares mense en hy bedien die groot gemeente met ywer en volharding. ’n Roepstem kom na die NG Gemeente Bothaville-Noord in die Noordwes-Vrystaat. Hy begin in 1980 met sy gemeentelike werk in Bothaville. Hier kom ’n skerp draai in ds Attie van der Colff se bedieningspad toe hy in 1987 die amptelike bedieningspad verlaat. Hy skryf later: “As gevolg van uitbranding, sielsmoegheid en depressie met alkohol daarby as selfgekose medikasie, kon ek die voltydse gemeentebediening nie meer hanteer nie. Ek het die Ring van Vredefort gevra om die band tussen my en Bothaville-Noord-gemeente los te maak en is vir suksesvolle en intensiewe behandeling na Kaapstad.” ’n Nuwe en opwindende hoofstuk het in ds Attie van der Colff se lewe begin in die NG Kerk. Die Here het self die gordyn toegetrek en sy dienskneg se roeping in koninkryksdiens versterk.

Die egpaar vestig hulle in Bellville en in 1988 skop sy kerkhistoriese bewussyn weer in, toe hy assistent-argivaris word van die NG Kerk in Suid-Afrika. Hier is ds Attie van der Colff tot met sy aftrede in 1991 ’n groot hulp vir die argivaris, ds HC (Charles) Hopkins in die kerkargief in die hart van Kaapstad. Ds Attie was ’n uitstaande prediker en help met sy pastorale hart as pastorale hulp in die NG Groote Kerk in Kaapstad (arbeidsveld Robbeneiland), Drieankerbaai, Ysterplaat-Suid en Rondebosch. Ds Attie skryf in 2016 oor sy dienstyd in die NG Kerk: “Die Here het my bediening in elke gemeente ryklik geseën. Sy genade was groot, die vrug op die Woordbediening baie en my oudag se herinneringe mooi.”

Uit hulle huwelik is vier kinders gebore: Carolien beklee ’n senior betrekking by Sanlam. Sy is getroud met twee dogters en woon in Melkbosstrand. Anna behaal ’n doktorsgraad en is verbonde aan die Universiteit van Edmonton in Kanada. Sy is getroud met prof E Beukes en hulle het tweelingdogters. Adri is die derde dogter en is getroud. Sy doktoreer aan die Universiteit van Heidelberg in Duitsland, hulle woon tans in Engeland en sy is projekbestuurder by die Britse Departement van Binnelandse Sake. Willem, die enigste seun, ontvang ’n Rhodesbeurs en meestersgraad aan die Universiteit van Oxford in Engeland. Hy is getroud met Esme Porter, ’n optometris. Hy is tans direkteur van die grootste regsfirma in Afrika, woon in Stellenbosch en is ’n deskundige op die gebied van Strafreg.

Ds Attie van der Colff sterf op 28 Julie 2018 en word op Vrydag 3 Augustus 2018 vanuit die NG Gemeente Kenridge begrawe. Die diens word waargeneem deur ds Willem Lötter, ’n besondere laaste groet aan een van die Here se besondere diensknegte. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM


Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2019 verskyn.

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.