21 April 1941 – 14 Augustus 2017
Ds Herbert Jacobus Daniel Brand (BA, Cand Th) is op 21 April 1941 gebore in Kaapstad tydens die Tweede Wêreldoorlog. Herbert of Herbie soos sommige hom genoem het, het altyd met humor verwys dat hy en koningin Victoria van Engeland op dieselfde dag verjaar. Sy ouers is Herbert Girtlemus Brand van Kaapstad en sy moeder Dorothea Visser, niggie van die Afrikaanse digter AG Visser van Carnarvon. Sy ouers woon in ’n woonstel bokant die NG Gemeente Tafelberg te Buitenkantstraat in Kaapstad.
Herbie se vader is die skriba/kassier van die NG Gemeente Tafelberg, waar dr Koot Vorster ’n leeftyd lank predikant was, digby Tafelberg. Herbie vertel later aan joernalis Nico van Gijsen: “Kyk, jy moet weet dat ek sterk onder die invloed van dr Koot Vorster was en dat ek onder hom belydenis van geloof afgelê het. Hy het apartheid uit die Bybel gevegverdig en ek ook.”
Die jong Herbie voel van kindsbeen af geroepe om vir die Here te werk en lewer sy eerste preek op vyfjarige ouderdom vanaf die stoel in sy moeder se kombuis. Herbie begin sy skoolopleiding aan die Laerskool Jan van Riebeeck in Kaapstad en matrikuleer later aan die Hoërskool Jan van Riebeeck. In sy matiekjaar is hy die Dux-leerling van die skool.
Herbie het gehakkel en aanvanklik sy ander liefde beoefen en daaraan voorkeur gegee, ’n joernalistieke loopbaan. Nadat hy die BA-graad aan die Universiteit van Kaapstad aan die hange van Tafelberg verwerf, werk hy die jaar as joernalis by Die Burger. Intussen het die werkslas by Die Kerkbode dringend ekstra hulp benodig en dr Andries Treurnicht versoek Herbie Brand om te kom werk as redaksionele assistent van die amptelike blad van die NG Kerk, wat gesetel is in Kaapstad. Kort hierna bedank dr AP Treurnicht by die NG Kerk se amptelike blad om redakteur te word van Die Hoofstad, ’n dagblad in Pretoria. Hierna word ds GSJ Möller aangestel as redakteur by Die Kerkbode en Herbie Brand gaan voort met sy hulpwerk in die kantoor.
Dr Koot Vorster, sy jarelange gemeenteleraar, het Herbie destyds afgeraai om daar te gaan werk, want daar was geen toekoms vir hom nie. Maar die roeping tot die evangeliebediening was so sterk dat Herbie ten spyte van sy spraakprobleem, in die geloof deurgedruk het en sy studie aan die Kweekskool op Stellenbosch voltooi. Hy word einde van 1971 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer.
Vroeg in 1972 tydens die studente-onrus in die Kaap kom daar ’n enorme verandering in die jong proponent se gemoed- en leefwêreld. Hy het beleef hoe die polisie die protesterende studente behandel en meteens het hy met nuwe oë van begrip en meelewing na hulle denk- en leefwêreld gekyk. Dit was vir hom ’n Damaskus-ervaring en sy lewensbeeld en manier waarop hy na die landsituasie gekyk het was nooit weer dieselfde nie. Ds Herbie het ’n besluit geneem en sou nooit die res van sy lewe daarvan afwyk nie.
Daar kom ’n interessante draai op sy lewenspad toe prop HJD Brand op 9 September 1972 met handoplegging ontvang en bevestig word in die NG Gemeente Kamieskroon, ’n dorpie wat die legendariese dr WP Steenkamp help stig het in die blommeparadys van Namakwaland. Herbie vertel later: “Daar het ek met die kru-soort apartheid te doen gekry. Nie dat ek die mense kwalik geneem het nie, hulle het soos ek, maar so grootgeword.” Op 12 Februarie 1977 word hy leraar van die NG Gemeente St Stephens, die enigste gemeente van die NG Kerk in Suid-Afrika wat uit Kleurlinglidmate saamgestel is. Ds Herbie was in sy element en het altyd vertel dat toe hy in die gemeente gekom het, hy alles wat dr Koot Vorster hom geleer het, weer moes afleer. Al wat oorgebly het, was die dra van die wit das en toga. Hy beleef die laaste jare van gedwonge verskuiwings van mense uit Distrik Ses aan die voet van Tafelberg, waarna sy lidmate verspreid woon oor die hele Skiereiland.
Ds Herbie Brand word onthou as ’n brandende lig wat apartheid verwerp, aan protesoptogte deelneem en in woord en daad sy standpunt helder en duidelik leef. Hy bring soms beroering by ring- en sinodesittings met sy profetiese stem oor onreg wat gepleeg word. Hy bring beroering in die NG Kerk toe hy tydens kanselruiling by die poort van die lente van 1982, ’n opspraakwekkende preek lewer in die geskiedkundige Groote Kerk te Kaapstad. Hy het onder meer in sy sendingpreek verwys na die magtige blanke minderheid in Suid-Afrika wat soveel moontlik van die land beset en wat Distrik Ses met hebsug ingepalm het. Gemeentelede het uit die kerkdiens gestap en daar was beroering na die erediens oor die politieke inslag van die preek. Ds Herbie het sy naam gestand gedoen as die “rebel-dominee” in die NG Kerk wat tydig en ontydig teen apartheid opgestaan het. In die jare van die struggle met sy bakkebaard, wit das en kruis om die nek, het ds Herbert Brand ’n bekende voorloper in optogte geword. Maar die seisoen in die land het in 1990 begin draai en ook in die NG Kerk. Tydens sy laaste sinodesitting in 1999 voor sy aftrede op 30 April 2001, word met dankbaarheid verwys na “oom Herbie” se soms moeisame rol om as gewete van die NG Kerk op te tree. Die sinode het ’n staande applous vir ds Herbert Brand gegee, ’n eietydse legende in die NG Kerk.
Sy laaste versoek op sy sterfbed was: “Bring my skoene … ek wil huis toe gaan”. Hy was gereed om hierdie wêreld te verlaat en na sy Hemelse Vader te gaan. Ds Herbert Brand sterf op 14 Augustus 2017 en laat sy vrou Madeleine en ’n dogter C van Dijk agter. Daar word met deernis en groot liefde van hom afskeid geneem, ’n eietydse profeet wat eerlik presies gesê het wat hy gedink en gevoel het. Hy was ’n ware kampioen vir die benadeelde en verontregte in die gemeenskap. Hy was nie ’n manteldraaier wat vir die pawiljoen gespeel het nie, maar wat in eerlikheid voor God en mens geleef het. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM
Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2019 verskyn.