27 Augustus 1950 – 11 Maart 2017
Ds Jacobus Willem Myburgh (BA, BTh) is op 27 Augustus 1950 te Petrusburg gebore in die Suidwes-Vrystaat. Sy grootouers aan vaderskant is Daniël Gerhardus (Danie) Myburgh en Wilhelmina Christina (Mienie) de Bruyn, ’n agterkleinkind van die bekende Voortrekkerleier, Sarel Cilliers. Hulle was boere, eers by Standerton en later naby Leeudoringstad. Sy en haar dogter sterf op 17 Julie 1932 toe ’n dinamiettrein langs hulle plaas net buite Leeudoringstad ontplof het.
Kobus se grootouers aan moederskant is Jacobus Willem (Koos) Mostert en Hester Magdalena (Hettie) Malherbe. Kobus is na hierdie oupa vernoem, wat al die jare stadsklerk was op Zastron en Kroonstad. Dit was die enigste grootouers wat Kobus geken het, daar is wonderlike herinneringe in sy gemoed oor hulle. Twee van Hettie se broers was professore aan die Universiteit Stellenbosch: prof Isak Malherbe (Landbou) en prof Fransie Malherbe (Afrikaans).
Kobus se vader is Willem Daniël (Willem) Myburgh, ’n boorling van Vredenburg en sy moeder is Hester Magdalena (Esté) Mostert. Albei studeer onderwys aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, waarna albei onderwys gee tot met hulle aftrede aan die Hoërskool AJC Jooste op Petrusburg. Later woon albei in die ouetehuis op Petrusburg. Sy was jare lank orreliste van die NG Gemeente Petrusburg. Uit hulle huwelik is twee seuns en drie dogters gebore. Willie Myburgh oorleef sy vrou en besoek sy seun, ds Kobus Myburgh, na sy aftrede in 2015 in Bellville. Maar die skielike dood van sy seun Kobus is ’n skok vir sy sisteem en hy sterf kort daarna op Petrusburg.
Oor hulle invloed op sy lewe skryf Kobus: “Ek het in ’n godsdienstige huis grootgeword. My pa het gereeld huisgodsdiens gehou. My ouers was albei baie lief vir sing. Ons het altyd by huisgodsdiens gesing: My ma het die lied ingesit. My pa was vir baie jare lank ’n kerkraadslid en kategeet, en het in die kerkkoor gesing. By die skool het hy altyd leiding geneem by die KJV en later by die CSV. My ouers het ’n groot invloed op my lewe gehad. Iets wat ’n indruk op my gemaak het, was dat hulle dwarsdeur die week (nie net Sondae nie) toegewyd aan die Here geleef het.” Dit is in hierdie tyd dat die skrywer en Kobus mekaar leer ken by ’n CSV-kamp op Maselspoort buite Bloemfontein, terwyl ons later as studente op Stellenbosch by dieselfde plek eet en as Vrystaters op Matieland saam kuier. Ons was ook saam op die kerkraad van die NG Gemeente Stellenbosch-Noord op Stellenbosch.
Kobus begin sy skoolopleiding in 1957 aan die Hoërskool Petrusburg waar hy in 1968 matrikuleer. Hy was hoofseun van die skool, voorsitter van die debatsvereniging en kaptein van die skool se eerste tennisspan. As hoofseun woon hy ’n jeugleierskursus vir hoofseuns en -dogters van Vrystaatse skole op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat by. In dié tyd kry sy groot belangstelling in ruimtevaart en sterrekunde momentum, sake waarin hy tot die einde toe baie belangstel. Na skool werk hy drie maande lank in die landdroskantoor op Petrusburg, waarna hy sy militêre diensplig voltooi en met sy studie begin op Stellenbosch.
Kobus begin aan die Universiteit Stellenbosch studeer in elektrotegniese ingenieurswese. Maar die Here loop ’n ander pad met Kobus en hy begin in Matieland al hoe meer besef dat die Here hom roep om predikant te word. Hy skryf: “My roeping tot die evangeliebediening is telkens bevestig tydens twee studentewerkerskampe op die sendingstasie Zithulele in die Transkei, ook toe ek opgetree het as kategeet en ouderling in die NG Gemeente Stellenbosch-Noord.” Kobus staak sy studie in Matieland en begin werk by die Doornfontein-goudmyn by Carletonville. Hy is intens betrokke by die NG Gemeente Carletonville en doen waardevolle mensekennis op by die mynwerkers. In 1984 keer hy terug na Stellenbosch en verwerf die BA (Admissie)-graad, wat hom in 1986 toegang verleen tot die Fakulteit Teologie op Stellenbosch. Hy verwerf die BTh-graad en word einde 1989 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer.
’n Beroep kom na die NG Gemeente Deben, wat prop Kobus Myburgh aanvaar en hy word op 6 April 1990 met handoplegging in die gemeente ontvang en bevestig. Ds Kobus en Nelrina Myburgh trap diep spore in die Kalahari en Deben is hulle eerste en enigste gemeente waar hulle werk tot ds Kobus in 2015 sy emeritaat aanvaar na ’n dienstyd van vyf-en-twintig jaar op Deben. Die gemeente Deben het Nelrina leer ken as ’n begaafde en geroepe predikantsvrou, die droom van enige gemeente as dit by passie en toewyding aan die Here se werk kom. Sy was ’n ware steunpilaar vir haar man en die kerkraad, iemand met ’n passie vir die evangelie en ’n gereelde besoeker aan mense wat haar liefde en deernis so baie waardeer het.
Kobus trou op 26 Junie 1976 met Nelrina Müller op Hartenbos. Die bevestiging word waargeneem deur haar oom, prof Bethel Müller van die Fakulteit Teologie op Stellenbosch. Nelrina studeer maatskaplike werk aan die Hugenote Kollege op Wellington. Hulle ontmoet mekaar op ’n studentewerkerskamp op Zithulele, ’n sendingstasie naby Koffiebaai in die Transkei. Uit ds Kobus en Nelrina se huwelik is drie kinders gebore: Willem werk by Astrata in Singapoer as sagteware-ingenieur, waar hy met sy Christelike getuienis ’n verskil vir die Here maak. Nellis dien die Here as rekenmeester by Freshmark in Brackenfell. Hy is getroud met Katherine Winter van Kaapstad en daar is twee kinders, Lisa en Daniel. Die jongste Rina is ’n raakvatter-onderwyseres by Hoërskool Kathu, waar sy kinders leer Wiskunde doen.
Na ds Kobus en Nelrina se vertrek uit Deben vestig die egpaar hulle in Bellville, waar hulle aktief inskakel by die plaaslike gemeente en ds Kobus by verskeie geleenthede optree in die gemeente en die mense sy minsame omgang en liefde waardeer. Maar skielik en onverwags kry ds Kobus ’n hartaanval en hy sterf op 11 Maart 2017 ten spyte van die beste behandeling in die hospitaal. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM
Hierdie artikel het oorspronklik in die Jaarboek van die NG Kerke 2019 verskyn.