Oud en eensaam – doen jý iets daaraan!

Oud word is nie maklik nie, sê dié wat weet. As jy boonop op jou oudag eensaam, geïsoleerd en verstote voel, steel dit die lewensvreugde wat jy nog het. Sien ons tog raak! pleit die ouer mense. Reik uit na ons … Deur Susan Goosen


Ons weet dat oud word en alles wat daarmee saamgaan – al die kwinte en kwale, giere en geite – ons almal se voorland is. Maar om boonop eensaam te wees, bring uitdagings waarvoor min mense kans sien.

Nou beweer navorsers dat die spanning van langdurige eensaamheid jou lewensverwagting kan beïnvloed. Dat dit dieselfde negatiewe uitwerking op jou gesondheid het as 15 sigarette per dag, of erge obesiteit.

Hoekom gebeur dit?

“Daar is verskeie redes waarom ouer mense vereensaam,” sê Charlene Steyn, ’n maatskaplike werker by Huis Uitsig in Parow, Kaapstad. “Dikwels verloor bejaardes, om verskeie redes, kontak met hul kinders, hul familie en vriende.

“Dalk is hul kinders so besig met hul eie uitdagings dat hulle net nie meer betrokke is by hul ouers se doen en late nie. In baie gevalle verander die rolle, sodat kinders toenemend sekere besluite namens hul ouers moet neem. En hierdie afskaling in verantwoordelikhede kan as ’n groot verlies ervaar word.

“Natuurlik is daar die onvermydelike afskeid van ’n lewensmaat wat feitlik ’n leeftyd aan jou bekend was.

“Dan is daar ook ’n skielike verandering in omgewing wat ’n groot rol speel – soos die skuif na ’n aftreeoord of ’n tehuis. Sommige bejaarde mense sukkel dan om by hul nuwe omstandighede aan te pas en onttrek hulle.”

Syd Eckley, ’n gerontoloog in Pretoria, lê klem op die rol wat verswakkende gesondheid speel in die vereensaming van bejaardes. Hy verwys veral na ’n onaktiewe leefstyl wat hiertoe bydra.

“Dan ook ’n gebrek aan roetine en ’n gebrekkige betrokkenheid by die lewe in die algemeen. Daar is kommer, en daar is skuldgevoelens oor die verlede. Dit alles dra daartoe by dat mense hulle afsonder en nie kans sien om met ander te sosialiseer nie.”

Wat gebeur dan?

Behalwe vir sosiale onttrekking, kan eensaamheid uiteindelik tot depressie en angstigheid lei. Charlene noem ook ander moontlike gevolge: ’n verandering in slaap- en eetpatrone, emosionele uitbars­tings, vergeetagtigheid, disoriëntasie, die onvermoë om besluite te neem.

“Soms kan dit alles selfs tot ’n verslawing van die een of ander aard lei, omdat sulke mense dan kies om ure en ure, selfs dae aaneen, voor die televisie deur te bring. Of te veel alkohol of ander middels gebruik.”

Syd sê: “In sommige gevalle lei dit tot ’n negatiewe gesindheid oor alles. Hulle fokus só op hulleself en hul eie behoeftes dat hulle glad nie meer die behoeftes en selfs die doodgewone menswees van ander raaksien nie.

“Sulke mense se kinders kom kla by my dat die kleinkinders nie vir hul grootouers wil gaan kuier nie, omdat dié net heeltyd kla of fout vind.

“Dis ’n hartseer situasie, want bejaardes kan nog ’n baie groot en belangrike bydrae tot die samelewing lewer. Hul kennis, wysheid en lewenservaring kan ’n groot verskil in die lewe van hul kinders en kleinkinders maak.”

Doen iets!

Charlene moedig buitestanders aan om by bejaardes en ander eensame mense betrokke te raak. “Kontak ’n tehuis of ’n diensgroep in jou gemeente om uit te vind waar jy kan inskakel.

“By Huis Uitsig kan jy byvoorbeeld aansoek doen om vrywillige diens te verrig. Raak betrokke by die soort aktiwiteite waarvan jy hou. Ons het mense nodig wat kan speletjies speel – bordspeletjies, bingo of snoeker. Of tuinmaak, of kunsklasse aanbied, hande en voete versorg, stories voorlees, saam sing of sangitems lewer.

“Ons soek altyd mense wat klere of CD’s kan skenk, lekkernye op spesiale dae uitdeel, of beskikbaar is om in kuier- en geselshoekies deel te neem. Ook dié wat breipoppies wil uitdeel vir mense met alzheimersiekte.”

“Dit is wel belangrik om bejaardes se reg op privaatheid te respekteer,” sê Charlene. “Waak byvoorbeeld streng daarteen om persoonlike inligting waarmee die betrokke bejaarde jou vertrou, oor te vertel. Moenie foto’s sonder toestemming neem nie, en moet dit veral nie versprei nie.

“Indien daar inligting is wat op die een of ander manier die persoon se lewe of enigiemand anders se lewe in gevaar stel, is dit wel belangrik dat dit met ’n personeellid of ’n familielid gedeel sal word.

“Ek ervaar dikwels dat bejaardes so uitgehonger vir geselskap is dat hulle dikwels inligting deel wat eintlik baie vertroulik is.”

Onthou!

  • Die meeste bejaardes hou nie daarvan as jy onaangekondig daar aankom nie. Maak dus ’n afspraak sodat die persoon vir die besoek kan voorberei.
  • Gee betyds kennis indien jy ’n bejaarde iewers heen gaan neem. Maak seker dat jy die nodige toestemming het en die persoon se behoeftes verstaan en in ag neem.
  • Respekteer die betrokke persoon of die ander in die omgewing se privaatheid. Dit geld veral wanneer die bejaarde ’n kamer met ander deel. Vra of julle eerder in die tuin of sitkamer kan kuier.
  • Vermy afsprake en geprekke met ’n enkeling, tensy julle mekaar goed ken. Neem iemand anders saam, of kuier in ’n groepie.
  • Moenie die persoon oorweldig nie. Moenie te veel foto’s wys of lang stories lees nie. Wees bedag daarop dat ’n ouer persoon makliker moeg word.
  • Moedig betekenisvolle gesprekke aan, maar moenie stiltes vermy nie. Soms waardeer die persoon jou blote teenwoordigheid die meeste.
  • Moenie betrokke raak by iets anders as waarvoor jy daar is nie. Beperk gesprekke tot wat op die groep van toepassing is, byvoorbeeld die handwerk of die voorlesing.
  • Bly betrokke by jou eie familie. Laat grootouers met skooltake of partytjievoorbereidings help. Hulle moet weet dat hul bydraes waardevol is.
  • Vra of jy vir ’n persoon mag bid, en waarvoor jy kan voorbidding doen. Deel ook jou eie gebedsversoeke met die persoon, indien toepaslik.

Eensaam – en jonk?

Volgens LiG se geliefde rubriekskrywer, Elise Bosch, is eensaamheid nie iets wat tot ouer mense beperk is nie. “Gebroke verhoudings is een van die groot oorsake vir eensaamheid,” sê sy. “Baie mense, ook jong mense, kan baie eensaam voel, selfs wanneer daar gereelde kontak met ander is. Tegnologie speel ook ’n rol: Mense stuur teksboodskappe en bring baie tyd voor ’n skerm deur, eerder as om met ander te praat en só aan verhoudings te bou.

“In Hillbrow speel armoede beslis ook ’n rol,” vertel sy. “Daar is dié wat minderwaardig voel, wat hulle aan die samelewing onttrek omdat hulle skaam is oor hul woonplek en die gebrek aan kos of ander lewensmiddele. Hulle is bang om ander mense te ontmoet, en bang dat iemand hul privaatheid sal skend. Daarom kruip hulle weg – letterlik.

“Maar eensaamheid is ook nie tot arm gemeenskappe beperk nie. Ek het al mense uit gegoede buurte ontmoet wat om ’n verskeidenheid redes ongelukkig en eensaam is.

“Ek deel dikwels 1 Johannes 1:7 met mense wat eensaam is. Johannes sê daar dat as ons in die lig lewe, ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap. Saam kan ons dus enigiets oorwin, juis ook eensaamheid. Ek moedig eensame mense aan – dit is nou dié wat nie swak of bedlêend is nie – om nie te wag totdat iemand na hulle toe kom nie, maar om uit te reik na almal wat swaarkry.

“Om vir iemand anders om te gee, om seerkry raak te sien, verlig uiteindelik ook jou eie nood. Dit maak dus ook jou eensaamheid draagliker.”

Kontak ons kenners