Risiko & rykdom
TJ Strydom, Tafelberg Uitgewers (2019), R290
Wanneer die rand verswak, verhoog hy sy uitvoere. Wanneer hoë rentekoerse plaaslike skuld onbekostigbaar maak, leen hy oorsee. Wanneer ander beleggers wegskram van sukkelende kleinhandelgroepe in ’n onseker politieke omgewing, belê hy.
Risiko en rykdom is die boeiende verhaal van Christo Wiese, ’n man wat voortdurend vir die geluk by die ongeluk soek. En dan geleenthede vind waar ander dit miskyk. ’n “Ewige optimis” en “’n kansvatter” – só word hy soms genoem.
Met hierdie biografie waag die sakejoernalis TJ Strydom die eerste keer sy hand aan dié genre. Alhoewel dit ’n ongemagtigde biografie is, lyk dit wel asof daar ’n soort rapport tussen Wiese en Strydom bestaan. Wiese het byvoorbeeld onverwags by die boek se bekendstelling in Kaapstad opgedaag en mikrofoon-in-die-hand self vrae beantwoord en allerlei staaltjies vertel.
Strydom slaag daarin om die verhaal van Christo Wiese se nogal ingewikkelde sakeloopbaan, met sy string ooreenkomste en oornames oor dekades heen, noukeurig en verstaanbaar oor te vertel. Wees egter gewaarsku: Dit verg soms inspanning om kop te hou tussen al die transaksies deur!
Risiko en rykdom is byna 260 bladsye dik, in sagte band en met ’n klompie fotoblaaie in die middel. Dis ook in Engels beskikbaar as Christo Wiese: Risk and riches. Die uitvoerige lys notas en verwysings getuig van deeglike navorsing. – Lenois Stander
Hierdie storie het oorspronklik in Kerkbode se susterpublikasie LiG verskyn. Die Augustus-uitgawe van LiG is 15 Julie op die rakke.