Gesonde of sieklike selfliefde?

Deurgaans in my pastorale berading wanneer ek mense wys op hul gevoelens van  minderwaardigheid en innerlike afsku en aanbeveel dat hulle hulself behoort lief te hê, is die beswaar:  “Jy mag mos nie jouself liefhê nie, dis egoïsme.” Of: “’n Mens moet altyd die minste wees, jy moet jouself offer / opoffer.

Dié gedagterigting het ’n lang geskiedenis in ons kerklike tradisie. Augustinus het geglo dat al ons dade uiteindelik deur selfsug gedryf word; Calvyn het selfliefde ’n “pes” genoem; die teoloog Paul Tillich het “natuurlike liefde” as paradoksaal bestempel; Sigmund Freud het dit wedersyds uitsluitend genoem: dit rym nie. Die vroeë kerkvaders het hulle nie juis besig gehou met ’n besinning oor die liefde nie. Hulle was te besig met die worsteling  oor dogma en belydenisskrifte.

Dis een van die redes vir die verwarring oor en gebrekkige insig in selfliefde.  Dit is beskou  as egoïsme en verwar met die opdrag om jouself lief te hê. Gesonde selfliefde is nie onderskei van, en is verwar  met,  sieklike selfliefde.

Dit is die sielkunde en filosofie wat die teologie en ons geloofslewe moet help om dié onderskeiding in te sien. Die psigoanalitiese skool van die objekrelasies vestig die aandag op twee faktore wat reeds in die ontwikkeling van die baba teenwoordig is: verwerping en aanvaarding, asook die moeder en die vader se onderskeie rolle in dié verband. Dis die moeder wat in die eerste  dae, weke en maande onvoorwaardelike aanvaarding aan die kleinding bewys. Sy is die een wat hom of haar teen die bors koester, ondersteunende liefdeswoordjies fluister, opgewonde raak oor die eerste woordjie of tree.  In hierdie eerste onvoorwaardelike aanvaarding leer die kleingoed om hulself te aanvaar. Dit is die begin van selfliefde.

Die filosoof Martin Heidegger bied ’n rigtingwyser oor gesonde selfliefde wanneer hy sê dat oor die mens nie wetenskaplik of tegnologies gepraat moet word nie, maar poëties, in digterlike terme. “Mooi is die mens en die mens is mooi” stel die digter Breyten Breytenbach dit in sy nuwe digbundel. Die Ou Testamentikus Walter Brueggemann sê die verwysing in Gen. 1: 31 (“Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het en dit was baie goed”) was nie ‘n etiese (verkeerd of reg) uitspraak  nie, maar ’n kunssinnige uitspraak: Die mens is mooi gemaak!

Dit is gesond om jouself lief te hê. Jy ervaar dat jy aanvaar word.

Volgens die objekrelasiesdenke is die vader se liefde, in onderskeiding van dié van die moeder, voorwaardelik: Hy eis die regte gedrag, korrekte beginsels en wette. Vele Christene beleef God vandag nog as ’n streng Vader. Calvyn het graag na God as ’n regter verwys. Die reëls van die hof geld ook vir die geloofslewe: Jy word voor die Regter gedaag, skuldig bevind en gevonnis. Verwerping vind plaas.

Uiteindelik het ons die mens wat hom- of haarself minag. Ten diepste is dit wat sieklike selfliefde is. Dit is uiteraard ook selfsugtig. Jy stel jy nie belang in die ontwikkeling en welwese van die ander nie. Alles sentreer net om jouself.

Heidegger werp met sy verwysing na “Sorge” (’n aktiewe strewe) meer lig op wat die liefde is. Volgens hom is net iemand met gesonde selfliefde daartoe in staat. By so iemand is daar ’n aktiewe strewe na die ontwikkeling en vreugde van die ander. Meister Eckhardt beweer: “Indien jy jouself liefhet, het jy alle ander mense net so lief.”

Dis ’n interessante  ̶  selfs ontstellende  ̶  oefening  om te toets wat ons houding jeens ons medemens is. Word dit gedryf deur gesonde of sieklike selfliefde?

  • Dr. Kobus Anthonissen is ’n psigoanalitiese pastor en skrywer van die onlangse boek “Dansend met die Lewe’’.