Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Foto’s: Roxanne Ferreira

Dominee bied blik op Japan

Dit was g’n gewone huisbesoek toe Johann Symington en Erns Grund­ling onlangs vir ’n geselsie en ’n bordjie soesji gaan aansit het nie.

Eerstens was Symington, bekende skrywer en oud-redakteur van Kerkbode, ’n paar duisend kilometer van Kaapstad waar hy in 2013 as NG predikant afgetree het om sy bediening in Japan te gaan voortsit.

Tweedens, aan huis by dié dominee wat al vir vyf jaar in Tokio woon en werk, was Grundling vergesel deur ’n kame­raspan en ’n stel vrae oor die lewe in die land wat in September sal gasheer speel vir die Rugbywêreldbekertoernooi.

“Dis baie moeilik om hier oor sonde te preek,” skerts Symington op ’n kol in ’n onderhoud met Grundling wanneer hy die Japanners se “ingebore hoflikheid” beskryf. “Want ek kan aan niks dink wat (die Japanners) verkeerd doen nie.” Sy­mington is verbonde aan die Tokyo Union Church en is vol staaltjies oor die uit­dagings van kerkhou in die vreemde. Hy lig ook die sluier ietwat oor Sjintoïsme, die tradisionele geloofstelsel van Japan, vir Grundling, ’n bekende reisjoernalis en die protagonis in die reisprogram Elders: Japan, wat tans op kykNET en Showmax te siene is.

Symington se kameerol is te sien in die tweede van 13 episodes in hierdie reeks. Grundling vertel by navraag dat Symington en sy vrou Hennie die rei­sigers “soos kinders in die huis” laat voel het tydens die vervaardi­ging van dié deel van die televisiereeks en hul selfs slaapplek gebied het. “Dis seker ’n Bybelse ding … die tradisie van herberg bied vir moeë swerwers,” meen Grundling, wie se kwinkslae sommige televisiekykers mag onthou uit sy vorige televisiereeks Elders: Die Camino.

Nog ’n onverwagse Suid-Afrikaanse verskyning word later in die Tokio-episode deur die Springbok Duane Vermeulen gemaak, met wie Grundling in ’n “katkafee” gaan gesels.

Kyk Elders: Japan Dinsdae om 21:00 op kykNET. Dis ook te sien op Showmax en DStv Catch Up.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top