Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Tonele in die strate tydens die vierings­optog. Foto’s: Carin van Schalkwyk

Brief uit Zambië: Kerk groei tot gelyke vennootskap

Eerw PJ Smit en ds John Hofmeyr slaan hulle tentjie op 4 Julie 1899 onder ’n groot wildevyeboom in Noord-Rhodesië op – op die huidige Magwero-sendingstasie. Daar was niks behalwe die tentjie onder die boom nie … So beskryf Marthie Cronjé die eer­ste paar dae van die twee sendelinge wat met die werk in Zambië begin het. Ek het aan hulle gedink en gewonder of hulle hulle oë sou glo as hulle vandag na die kerk in Zambië kyk.

Die Vrystaatse Kerk het vir die werk verantwoordelikheid geneem in baie moeilike omstandighede, terwyl die Anglo-Boereoorlog se onweerswolke op die horison bymekaar gepak het. Die werk was op vier pilare gebou, naamlik onderwys, mediese dienste, selfonderhouding deur landbou en evangelisasie van die plaaslike gemeenskap.

Dr Gi­deon van der Watt lewer die preek tydens die geleentheid.

Hierdie kerk het hulle 120ste ver­jaars­dag die naweek van 7 Julie gevier. Al die gemeentes in Lusaka het bymekaar gekom by die stadion van die plaaslike skougronde. Dr Gideon van der Watt het die erediens gelei.

Die staatspresident, mnr Edgar Lungu, het namens die regering die minister van godsdienstige sake, ds Godfridah Sumali, gestuur om ’n groe­te­boodskap oor te dra. In haar toespraak het sy haar dank uitgespreek teenoor die NG Kerk Vrystaat vir hulle voortgaande betrokkenheid by die kerk in Zambië. Sy het haar waardering uitgespreek teenoor die RCZ vir die voortgaande on­der­steuning wat die kerk aan die staat verleen deur betrokke te wees by kerkskole, mediese dienste en gemeenskaps­ont­wikkeling.

Die moderatuur van die Reformed Church in Zambia.

Prof Edwin Zulu, moderator van die RCZ, het daarop gewys dat die RCZ inderdaad ’n selfonderhoudende inheem­se kerk geword het. Hy het die feit be­klemtoon dat die model wat die Vry­­­staatse kerk gevestig het, daartoe by­gedra het om hierdie mooi verhaal te skryf.

Vandag is die kerk in Zambië nie meer ’n dogter wat hoed in die hand staan by ’n moeder nie, maar ’n volwaardige selfstandige kerk wat groei en uitbrei, wat gemeenskappe bedien en wat as gelyke in vennootskap met die NG Kerk Vrystaat staan.

  • Dr Van Schalkwyk het die geleentheid bygewoon en namens die NG Kerk Vrystaat ’n groe­teboodskap gebring.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top