‘Die hof sê nou die kerk voor’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Johann Theron van Kraaifontein skryf:

Menseregte is prysenswaardig in die politiek, maar dit kan nie deel van die belydenis van die kerk wees nie. In ons belydenisskrifte bely elke lidmaat uit die Bybel dat ons as mense geen vrye wil het nie (Dordtse Leerreëls), dat mense uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self is (Nederlandse Geloofsbelydenis) en dat ons van nature geneig is om God en ons naaste te haat (Heidelbergse Kategismus).

Die gay-saak het die vraag na sonde en menseregte opgeroep. Ten spyte van die hofbeslissing is die gelowige (gay of nie) se vraag steeds wat God in die Woord daaroor sê. Vir die pro-gay uitleg om nou met ’n ompad deur die hof en menseregte die Skrifinterpretasie oor die saak te bepaal, sal nie werklik troos bring nie. Die nadelige gevolg hiervan is dat die gesag van die Woord afgewater word ten gunste van menseregte.

Die klemverskuiwing weg van die Woord en na menseregte het egter nie begin by die gay-saak nie, maar reeds in 1998 na aanleiding van die kerkeenheid saak met die vorming van die Verenigende Gereformeerde Kerk. Sekere gemeentes van die NG Kerk in Afrika wou nie een word nie. Die hooggeregshof bepaal toe dat die kerk as “vrywillige assosiasie” nie gedwing kan word om Belhar te aanvaar of een te word nie, omdat hulle minderheidsregte verskans word. Hiervolgens kon hulle hul naam en bates behou. Die implikasies van die besluite is toe in al tien NG Kerk sinodes se kerkordes ingeskryf vanaf 2002 en deur die Algemene Sinode bekragtig in 2013.

In die stemproses oor Artikel 1 was daar Sinodes wat vir Belhar gestem het en daarmee gesê het dat dit sondig is om nie een te wees met die VGK nie. Hierdie Sinodes is egter geveto deur die ander Sinodes, nie op Skriftuurlike gronde nie, maar op gesag van die verskansde menseregte. Ons het nou die reg om te sondig.

Die verdere gevolge hiervan word sigbaar in die feit dat die afgelope Wes-Kaap Sinode die Belhar Belydenis nie amptelik bely het nie op grond van die aanbeveling van een advokaat. Die hof, advokate en daaragter mense se vrye wil sê nou vir die kerk wat ons kan glo en bely – nie meer die Bybel nie.

Die tussenorde poog om hierdie gesag van menseregte in ag te neem deur ’n vrywillige eenheid voor te stel. In Gal 2 was Petrus ook vir vrywillige kerkeenheid. Hy het saam met die nie-Joodse gelowiges gekuier, maar toe Jakobus-hulle kom het hy hom apart gehou. Tas Paulus nou Petrus se menseregte aan deur hom teë te gaan en te wys dat hy van die regte pad van die Evangelie afdwaal? Petrus kon hom seker op sy reg tot vrye assosiasie beroep.

In die Missionale Kerkorde, wat in die Wes-Kaap Sinode aanvaar is, word gesê dat die kerkorde die grondwet van die kerk is. Is die Woord en ons Belydenisskrifte dan nie ons grondwet nie?

Menseregte bevat geen sonde nie, maar dit bevat ook geen genade nie. Jesus het vir sondaars gekom, maar sou dit genadig wees om sondige mense te leer om hulle op hul menseregte te beroep voor die Hooggeregshof van God?