‘Liefde is om te vra: hoe ver buig ek agteroor?’

Ná ’n roemryke rugbyloopbaan, met ’n rekord of wat steeds staande agter sy naam, het die oud-Springbok Theuns Stofberg ’n roeping as verhoudingsberader gevind, skryf MARYKE VISAGIE.


In die laat sewentigs en vroeg tagtigs het Theuns Stofberg die rugbywê­reld aan sy voete gehad. Vandag steeds die enigste speler in die geskie­denis om die Curriebeker in drie verskillende spanne – OVS, Noord-Transvaal én die WP – in te palm, is sy naam sinoniem met rugby-sukses. Se­dert sy eerste toets in 1976, op die ouder­dom van 21, het hy in 21 toetse gespeel, tot hy in 1985 uitgetree het. Hy was ook Springbokkaptein in vier toetse.

Dit was egter ’n ompad om te kom waar hy van­dag is. Hy het jare lank as fisioterapeut in Stellenbosch gepraktiseer, maar ’n onverwagse diagnose in 2008 met die seldsame Churg Strauss sin­droom, ’n outo-im­muun­toestand gekenmerk deur inflammasie van die bloedvate, en die gepaardgaande simp­tome daarvan, het beteken dat hy sy praktyk moes sluit. Tot vandag bly dit ’n toestand wat hy moet bestuur.

Theuns en Martie (altwee 64) is in 2003 getroud; ’n tweede huwelik vir albei. Hulle was sterk aktief in hulle gemeente en het betrokke geraak by die kerk se huweliks- en voorhuwelikse beradingsbediening. En dis hier waar sy pad met Imagoterapie gekruis het (sien kassie onder). Sedertdien dien hy sy medemens met baie deernis om te verstaan wat die snellers is vir hulle maat se seer en hoe om hulle diepste wonde te help genees. Hy het in 2011 besluit om as berader te kwalifiseer vir paartjies, individue en besighede. Saam met Martie bied hy ook huweliksverrykingskursusse en naweekkursusse vir gemeentes op Rouana, hul gasteplaas net buite Stellenbosch, aan.

“’n Pastoor het eenkeer hier by my op die bank gesit en gevra, ‘wat is liefde?,’ binne die konteks van ’n verhouding, en deesdae is dit ’n vraag wat ek self in te­rapie vra. My eie definisie is dit: Om liefde te gee, is om te vra, hoe ver buig ek agteroor sodat my maat veilig voel by my? En die omgekeerde – hoe ver buig my maat agteroor sodat ek veilig voel by hom of haar? Hierdie veiligheid het baie fasette, hetsy finansieel, wat familie betref, emosioneel, spiritueel … En as die gevoel van wedersydse veiligheid nie daar is nie, skort daar iets met die huwelik.

“Die sneller is nie soseer wát jy doen nie,” sê Theuns, “dit is waaraan jy my herinner.” Hy onthou een paartjie wat, opgetrekte skeibrief in die hand, as laaste uitweg om sy tafel opgeëindig het. Die groot baklei van die aand het gegaan oor haar gewoonte om saans ligte in die huis aan te los, wat die man teen die mure uitgedryf het. Hoe kan brandende ligte só problematies wees dat dit ’n huwelik kan kos? “Want dit mors krag.” Waarom is die mors van krag so ’n probleem? “Want dit kos geld.” Wat is problematies hieraan? “Want sy weet ek wil nie hê ons moet arm wees nie.” Maak toe jou oë en dink hieraan. Wat assosieer jy met arm wees? En in ’n oogwink is ’n man van oor die 50 weer ’n laerskoolseuntjie wat tweedepouse ’n droë broodjie uit ’n kosblik haal terwyl sy maatjies se ma’s vir hulle koekies en lekkergoed ingepak het. Onmiddellik voel hy weer die vernedering, die skaamte, die onregverdigheid …

Theuns gebruik graag hierdie beeldhouwerk van ’n groot hand wat ’n dogtertjie koester om aan paartjies te illustreer hoe mense se perspektief van dieselfde situasies drasties kan verskil.

Dan draai Theuns na die vrou. Waarom die ligte aanlos? “Ek probeer maar net atmosfeer skep. En ek is soms ’n bie­tjie bang.” En as sy haar oë toemaak, is sy skielik weer ’n klein dogtertjie van 9 wat pas haar ma verloor het en alleen saam met haar boetie in ’n donker huis moet wag op haar pa. En sy het ligte oral aangesit sodat hulle nie moet bang wees nie.

Die idee dat trauma uit die kinderjare as ’t ware letsels op die individu kan laat wat jare later steeds ’n houvas op jou het, kan maklik klink soos ’n vonnis; iets wat te hewig en swaar op die verhouding druk vir dit om te oorleef. Maar uit Theuns se ondervinding glo hy dis allermins so. “Die beauty hiervan is dat ons almal unieke wesens is. Ons emosionele brein begin ontwikkel van ons geboortedag, en elkeen van ons dra emosionele bagasie in een of ander vorm. Gesprekke soos hierdie help men­se om te verstaan wáárom jou maat optree soos hy of sy optree; sodat dit vir jou sin maak.

Hy gebruik graag ’n kragtige visuele middel om hierdie punt te illustreer – ’n kleibeeld van ’n groot hand wat toegevou staan om ’n klein dogtertjie wat daarteen aanleun. Hy sit dit graag tussen die paartjie neer en vra hulle moet beskryf wat hulle sien. Die een sien slegs die sterk hand, die simbool van krag, terwyl die ander een die koeste­ring sien van ’n dogtertjie wat veilig voel. Altwee sien reg, maar altwee sien verskillend. En hieruit begin die verstaan, die begrip vir die ander party.

“Ek vergelyk die huwelik met ’n roeibootjie. Die dag as jy met sterre in jou oë voor die kansel staan is die bootjie in kalm waters. Maar binne twee jaar ver­ander die dinamika, en dan kom die storms. En maak nie saak wat jy dink jou resep is vir ’n onfeilbare huwelik nie, daar is één, net één waarborg en dit is om saam die storms in die bootjie uit te woed. En van die mooiste, stewigste verhoudings wat ek al teëgekom het, is dié wat saam deur die storm gewoed het.” Vir meer inligting, kontak Theuns by theunsstofbergimago.co.za of theunsstofberg@gmail.com of 082 213 6726.

Wat is Imagoterapie?

Imago-verhoudingsterapie is ont­wikkel deur drr Harville Hendrix en Helen LaKelly Hunt. Die ver­onderstelling agter Imago (Latyn vir beeld) is dat verhoudingsmaats se kon­flik grootliks spruit uit hulle on­derskeie verledes en ervaringe wat her­inneringe in die emosionele brein vaslê. Volgens Hendrix soek mense op ’n onbewustelike vlak ’n maat met die potensiaal om die wonde uit sy of haar kinderjare te kan help genees, oftewel sy of haar imago. Wanneer hier­die persoon dan – bewustelik of nie – optree op ’n manier wat hierdie wonde weer oopkrap, is dit ’n sneller vir die emosionele brein om dieplig­gende negatiewe emosies in ’n omme­sientjie na vore te bring.

Die terapie fokus op die ontwikkeling van emosionele intelligensie. Maats word geleer om mekaar se ge­voelens, emosionele wonde en snel­lers te verstaan, juis sodat hulle kan begin om mekaar se wonde te genees. Hierdie verstaan help om hulle ver­hou­ding te verdiep en kweek sodoen­de ’n hegter band. Terapie word gewoonlik vir altwee tesame aangebied, met die berader as fasiliteerder.