Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Dié vlam moet brand’

“Soos ’n vlam nie anders kan as om te brand nie, kan die kerk nie anders as om te getuig nie.”

Hierdie stelling van die bekende Switserse teoloog Emil Brunner het professor Piet Meiring, ons geliefde missio­loog, geïnspireer. Piet Meiring ver­duidelik Emil Brunner se bedoeling met hierdie stelling. “Die wesenstaak van die kerk, die heel be­langrikste rede vir sy bestaan, is dat die kerk die evangelieboodskap wat hy ontvang het aan ander moet deurgee.”

“Hierdie wesenstaak van die kerk geld vir elke lidmaat van die kerk. Dis nodig dat dit oor en oor gesê word, want dit gebeur te maklik dat die kerk so besig raak met baie ander dinge, dat hy die hoofrede vir sy bestaan afskeep. Jesus het sy dissipels geroep om vir ander van sy liefde te vertel, om sout van die aarde en ’n lig vir die wêreld te wees. In die NG Kerk word die afgelope jare gelukkig dik­wels hieroor gepraat, oor hoe ons ’n brandende kerk, missionale kerk, moet wees.

Die Bybel leer ons dat sendingwerk in die eerste instansie God se werk is. God is ’n sendende God. Die Vader stuur die Seun, die Seun stuur die Heilige Gees. En dan kom die groot verrassing. God skakel ons, sy kerk, by sy sendingaksie in. “Soos die Vader My gestuur het stuur Ek julle” het Jesus na sy opstanding vir sy dissipels gesê. En met sy hemelvaart: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees …”

Piet Meiring vertel dat die sending­uitdaging hom reeds in sy studentejare in Pretoria en Amsterdam aangegryp het. “My proefskrif het oor ’n sendingonder­werp gehandel. En die afgelope vyftig jaar wat ek in die bediening was, was ek gedurig daarmee besig: as dominee in twee gemeentes, as dosent by die Stofberg Teologiese Skool (Universiteit van die Noorde) waar swart leraars opgelei is en uiteindelik – sedert 1988 – toe ek as professor in Godsdiens- en Sen­dingwetenskap aan die Universiteit van Pretoria bevestig is.

“Die groot meerderheid van Suid-Afrikaners, by die tagtig persent, beskou hulleself as lidmate van een of ander kerk”, sê Meiring. “Of hulle werklik almal in ’n lewende geloofsverhouding met Jesus lewe, is natuurlik ’n groot vraag. En dan is daar ons Moslem- en Hindoe-bure na wie ons ook met die liefde van Jesus moet uitreik. Meer nog, ons moet oor die grense van die land beweeg. Jesus het sy volgelinge uitge­stuur om tot aan die eindes van die aarde die boodskap te bring. Daar is nog baie werk! ’n Mens kan die Here dank vir die groot getal sendelinge, ook vanuit die NG Kerk, wat met wêreldsending besig is, wat dikwels met groot opoffering en lewensgevaar hulle lig laat skyn.

“Maar wat ek met dik hale wil onderstreep is dat dit in ’n missionale gemeente nie net gaan oor praat, oor woor­dgetuienis nie. Dit gaan oor ’n ma­nier van lewe, oor daadge­tuienis. Dis wat die missionale God van sy kerk vra: dat ons almal, gelowiges uit al die verskillende gemeenskappe – soos Hy – die nood en pyn en die onreg om ons sal raaksien, en iets daaraan doen. Dat ons in ons bloeiende en stukkende land as vredemakers sal optree, dat ons oor al die klowe van misverstand en vrees brûe van versoening sal help bou.

“Eintlik kan ons nie anders nie. Want ’n vlam kan nie anders as om te brand nie.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top