Die Taakspan Jeug van die Wes-Kaapse Sinode het ’n hulpmiddel ontwikkel wat gemeentes kan gebruik om hulle plaaslike jong volwassenes beter te verstaan en beter te bedien, vertel MARILEEN STEYN.
Dié hulpmiddel kom in ’n tyd wat daar groeiende kommer is oor die tempo waarteen jong volwassenes die NG Kerk verlaat. Gemeentes word genooi om deur middel van observasie en onderhoude die jong volwassenes beide binne en buite hulle gemeente beter te leer ken en verstaan.

Ds Annelet Slazus, van NG gemeente Wellington-Oos, vertel: Toe ek gevra is om jong volwassenes in ’n sosiale ruimte (soos byvoorbeeld ’n koffiewinkel, gym of kroeg) dop te hou, was dit ’n geleentheid vol verrassings. In Januarie 2019 het ’n groep belangstellende predikante by Communitas in Stellenbosch saamgekom om te kyk hoe hulle jong volwassenes in hulle gemeenskappe kan bedien.
Deel hiervan was ’n opwindende opdrag om uit te gaan, ’n plek te soek waar jongmense bymekaarkom of uithang en tussen hulle middagete te eet. Tydens die ete moes ons die jong volwassenes observeer, en sekere vrae oor hulle beantwoord.
Een van die mees verrassende en verfrissende waarnemings is egter reg deur die bank opgemerk: Die meeste jong volwassenes was baie sosiaal en dus ook baie min op hulle selfone of op sosiale media. Oor die algemeen was dit slegs diegene wat alleen was, wat op hulle fone was.
’n Eenvoudige oefening, soos die een waaraan ons deelgeneem het, het vir baie van ons hoop gegee deurdat ons die jong volwassenes nie net met nuwe oë kon sien nie, maar ook opnuut kon dink oor die geleenthede wat ons het om hierdie jong volwassenes te bedien.

Marileen Steyn, jeugwerker by NG gemeente Saldanha, vertel: Een van die verrassende (en tog nie so verrassende nie) ontdekkings was hoe die verskillende groepe se waarnemings van mekaar verskil het. Ons is dikwels geneig om van jong volwassenes as ’n homogene groep te praat wat almal dieselfde dink, doen en is. Maar in ons groep het ons beleef dat ’n mens daarteen moet waak om veralgemenings te maak.
Dit was ook die mening van ’n kelnerin in een van die restaurante aan twee van die predikante: Moenie jou aannames oor die jong werkendes in jou omgewing net op een of twee ruimtes baseer nie. Wees seker dat jy op verskillende plekke, na verskillende groepe kyk.
Kyk na jong volwassenes in ’n plaaslike sosiale ruimte in jou gemeenskap bv ’n koffiewinkel of ’n gym.
- Wie is in die ruimte? Hoe lyk hulle in terme van ouderdom, geslag, ras, beroep en kleredrag?
- Hoe lyk die ruimte? Beskryf die atmosfeer, spyskaart, kos, musiek en dekor.
- Watter rol speel tegnologie in hulle samekoms?
Gaan gesels met ’n jong volwassene (wat nie in die kerk betrokke is nie) by hulle werk.
- Vertel my van jou werk? Hoekom doen jy dit? Hoekom het jy dit gekies?
- Vertel my van jou passie? Hoe sien jy jou passie? Waar het jy jou passie/roeping ontdek? Hoe en waar maak jy ’n verskil?
- Hoe groei jy? Waarna kyk/luister jy om te kan groei? Wie gee vir jou advies of is ’n voorbeeld vir jou? Hoe maak jy besluite?
Eet saam met ’n groep jong volwassenes wat aktiewe lidmate is.
- Wie is die jong volwassenes?
- Waaroor praat hulle? Watter temas en stories kom na vore?
- Hoe praat die jong volwassenes oor die kerk? Watter temas is vir hulle belangrik?
Drink ’n koffie saam met ’n jong volwassene wat in die gemeente is, maar nie ’n aktiewe lidmaat is nie.
- In watter ruimtes voel jy veilig? Waar hang jy graag uit?
- Hoe beleef jy God? Waar voel jy naby aan God? Watter rol speel die Bybel en/of gebed of ander gewoontes in jou lewe?
- Wat dink jy oor die kerk?
Ons wonder …
- Wat in hierdie proses het jou verras?
- Watter aannames is bevestig?
- Wat maak jou opgewonde en laat jou droom?
Stuur jou antwoorde na jeug@sun.ac.za
