Die tydelike ekumene van die Camino

Ses verskillende nasionaliteite se pelgrims lê uitgestrek op plankdun matrassies in die bo-kamer van ’n Katolieke katedraal se kantoorruimte in Viana, Spanje. Buite krioel die feesgangers nog ná vanmiddag se optog, deel van die feesverrigtinge rond­om Corpus Christi, en jong Spanjaarde karfoefel rumoerig in die smoorhitte somernaglug op die stadsplein. Dit is luid genoeg om enige persoon uit die slaap te hou en die pelgrims in die bo-kamer is móég. Hulle lywe is seer gestap aan ’n lang ent pad. Rus is broodnodig, maar hoewel die slaapreëlings (met simfonie van snorkgeluide, slaapklanke en die bure se geraas) na ’n onafwendbare plofsituasie lyk, is die tydelike ka­mermaats reeds rustig aan die slaap.

Hulle het vroeër die aand met behulp van handgebare en Google Translate ge­sprek gevoer oor vrede en genade. Hul­le het saamgeëet en gaan môre weer saam hulle stapstewels aantrek.

Daar is soveel wat eintlik die eku­me­ne en vrede teenwerk. Tog, hier op die Camino Frances blyk die blote aktiwiteit van een voet voor die ander sit ’n won­derbaarlike versoenende element te wees in ’n wêreld waar ons-en-hulle-skeids­lyne al hoe meer in die stof getrek word.

As jy smag na stilte in ’n oorvol impuls-wêreld

Ek beplan al sewe jaar lank om die Camino in Spanje aan te durf. Die doel­wit is gestel vóór die wonderlike skrywer Erns Grundling dié skat vir menige Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner in sy boek Elders oopgebreek het. My man het net so knus onder die 1 000 km gaan stap toe ons eersgebore seuntjie een jaar oud geword het. Hy het ’n rustiger, meer tevrede mens teruggekom. Ek wou onmiddellik ook gaan. Vir lank het ek ge­droom oor die tog. Wat gaan dit behels? Wat gaan dit vir my openbaar? Maar onderliggend, veral namate ons huis­houding al hoe besiger geword het ná die geboorte van ons tweede kind, was die oorheersende smagting na stilte.

Wat ek op my Camino (“slegs” 330 km vanaf Saint-Jean-Pied-de-Port tot by Burgos) gevind het, is onbeteuelde genot in die eenvoud en samehorigheid van die ervaring. Honderde mense wat mekaar van geen kant af ken nie, word saamgevoeg in eenhede van gedeelde doel (shared purpose). Pelgrims verwys na hulle “Camino-familie” met ’n deernis en empatiese teerheid wat dikwels in selfs die hegste kernfamilies skort. Jou familie op hierdie soekende staptog word saamgeflans uit die lukrake groep pelgrims wat op min-of-meer dieselfde skedule stap. Tonele van die verlore seun se tuiskoms word uitgespeel as ver­lore “familielede” mekaar toevallig weer in ’n klein Spaanse dorpie raakstap.

’n Sagte “Buen Camino”, die seën­wens wat pelgrims mekaar toewens, spoel maklik oor in opregte belangstellende navraag oor wié jy is en hoekom jy stap. Daar is min oppervlakkigheid. (Ek onthou dat ek as student reeds ’n kru veronderstelling van poësie gepen het oor hoe vlak ’n vloekwoord vir my is.) Gesprekke bokspring sonder enige ge­sukkel bo-oor kletspraatjies (small talk) pens en pootjies in dieper kwessies in. Só vra ek een lid van ’n groep wat saam met ’n jong serebraalgestremde man die roete aanpak – hulle dra hom in ’n sitstoel oor berg en dal – hoekom hy dit doen. Vyf minute later is ons reeds verdiep in die intense roeping wat hy al as tiener er­vaar het om mense by te staan wat anders as ons aanmekaar gesit is. Ek gesels saam oor die uitda­gings van unieke kin­ders in ’n wêreld wat neuro-tipiese denkpatrone as normaal gevestig het. Ons praat oor geloof, sy soeke na stilte en my smagting daarna om ligkolle van hemelse vreugde in ons hier en nou te vestig. Tien minute later groet ons mekaar. Ek gaan hom waarskynlik nie weer sien nie, maar het meer gedeel oor die dinge waarvoor ek met alles in my hoop as met van my naaste vriende.

In haar boek Quiet: The power of introverts in a world that can’t stop talking skryf Susan Cain dat introverte die tendens van oppervlakkige praatjies op sy rug keer. Hulle begin baie keer swaar en diep en sal eers ligter skerts wanneer hulle gemaklik in ’n groep voel.

Ek het nog altyd gereken ek is ’n ambivert – iemand wat mooi in die middel van die introvert/ekstrovert-glyskaal vertoef en heen en weer wieg na gelang van die omstandighede. Op die Camino was dit dieselfde. In die dag was ek stil en het ek op my eie probeer stap waar ek kon. In die aande het ek die vreug­devolle persoonlikhede van my twee Suid-Afrikaanse stapgenote geniet – hulle twee kon pelgrims van heinde en verre aantrek met hulle jovialiteit en vriendelikheid.

Die valse konstruk van ons en hulle

Terug in Suid-Afrika wonder ek nou hoekom die alledaagse wêreld soveel meer kompleks is, hoekom ons so dikwels gewelddadig met mekaar kan vassit. Wanneer jou enigste doelwit vir die dag is om jou aantal kilometers sonder ’n addisionele besering af te lê of voor ’n monsterblaas op jou voet verrys, vind jy eensgesindheid met ander pelgrims wat dieselfde sonderlinge doelwit het. Julle kan eerlik gesels oor julle uitkyke, julle ge­loof, julle menings; erken dat julle verskil sonder om kwaad of geaffronteerd te voel – en weer aanbeweeg.

Is dit die vryheid wat tydelike, ge­dwonge intimiteit bring? Dat jy kan eerlik wees sonder om aanstoot te gee of te neem, juis omdat jy jou nié oor die langtermyn verhouding tussen jou en die ander pelgrim hoef te bekommer nie? Niksseggende banaliteite is onno­dig. Jy kan sê wat jy moet sê en vra wat jy wil vra, met minder kommer oor of dit die ander persoon se persepsie van wie jy is onherroeplik in die verkeerde rigting gaan stoot.

Sou ons met effe meer genade kon omgaan as ons besef dat almal rondom ons ook net soekend is? Soekend na God, soekend na Waarheid, soekend na Vrede. In die Ons en Hulle van dié wat nog soek en dié wat reeds die waarheid het val die ganse mensdom tog maar eintlik aan die een kant van dié skeidslyn – almal is dus deel van ’n “ons” wat eers eendag in die volle teenwoordigheid van God sal weet wat gaan nou eintlik vir wat.

Op die Camino het ek ’n gedeelde doelwit met ander soekers gehad en ons kon sag met mekaar werk. My wens vir ons wêreld ná my eerste pelgrimstog word saamgevat deur ’n aanhaling van wyle Rachel Held-Evans in ’n Work of the People-onderhoud so ’n paar jaar gelede. Sy beskryf die eerste volgelinge van Christus en sê dat niemand van hulle (en ook niemand van ons) na die tafel genooi is omdat ons waardig is nie, of omdat ons dieselfde uitkyk het op alles nie, of omdat ons die regte ras of geslag is nie. Sy sê: “The one thing all of them had in common is that they are hungry … they know that they need.”

Na my eerste Camino-ervaring is ek beslis honger vir nog.