Die vrae waarmee Mugabe ons laat

Wat is die erfenis wat die pas oorlede oudpres Robert Mugabe in Zimbabwe en Suider-Afrika agterlaat? LEOPOLD SCHOLTZ tas na ’n antwoord.

Robert Gabriel Mugabe, gebore op 21 Februarie 1924, is ’n goeie voorbeeld van ’n Afrika-nasionalis. As gelowige Rooms-Katoliek opgevoed, student aan Fort Hare in Suid-Afrika, het hy ’n haat-liefde-verhouding met die Engelse taal en kultuur gehad.

Enersyds het hy die koloniale bewind van sowel die Britte as die wit minderheidspremier Ian Smith met ’n passie gehaat. Andersyds het hy Engels deurgaans met ’n geaffekteerde Oxford-aksent gepraat en groot gewig geheg aan die eregraad wat hy in 1984 van die Universiteit van Edinburg gekry het.

En toe dit in 2007 weens sy menseregtevergrype teruggetrek is, het hy dit in reaksie “’n vernedering en skande” genoem wat hom diep in sy siel gekrenk het.

Mugabe was tipies van die Afrika-nasionaliste (Nelson Mandela van Suid-Afrika, Kwame Nkrumah van Ghana, Kenneth Kaunda van Zambië en Jomo Kenyatta van Kenia was ander voorbeelde) wat in Engelse skole opgevoed is, maar daar van die vernedering van kolonialisme bewus geword en daarteen in opstand gekom het.

By Mugabe het daar egter nog iets bygekom. In sy diepgaande studie Kingdom,Power, Glory kom Stuart Doran tot die gevolgtrekking dat Mugabe reeds in die jare sewentig ’n kille meedoënloosheid geopenbaar het. Geweldpleging was nie iets waarmee hy sy eie hande vuilgemaak het nie, maar hy het dit as ’n koue, rasionele middel tot sy doel – die politieke alleenheerskappy – aangewend.

Dié geweld wat hy destyds toegepas het, was nie slegs teen die wit minderheid gemik nie, maar ook teen sy swart mededingers. Dié neiging het hy ná sy bewindsoorname in 1980 voortgesit.

Hy het besef dat dit hom sou benadeel om sy stryd teen die wit kolonialiste voort te sit asof niks gebeur het nie. Dus het hy die oorgangsbepalings van die Lancaster House-ooreenkoms aanvanklik nougeset nagekom en daarmee nie alleen potensiële wit sabotasie geneutraliseer nie, maar internasionaal groot krediet gekry.

Terselfdertyd het hy – grotendeels agter die skerms – ’n ongeëwenaarde terreurveldtog, bekend as die Gukurahundi, teen die Matabeles van stapel gestuur. Sy eie Zanu se etniese ondersteuningsbasis het op die Masjonas berus; dié van die mededingende Zapu op die Matabeles.

Dus het hy sy berugte Vyfde Brigade, wat deur Noord-Koreaanse instrukteurs opgelei is, op Matabeleland losgelaat om massamoorde op ongekende skaal te pleeg. ’n Omvattende ondersoek van die Zimbabwiese Katolieke Kerk en ’n regstudiegroep het bevind dat maklik 20 000 mense in die tweede helfte van die tagtigerjare genadeloos vermoor is, en dat nog veel meer gemartel, mishandel en verkrag is.

Maar daardeur het Mugabe wel die Matabeles as politieke krag uitgeskakel.

Toe dit teen die eeuwending blyk dat sy politieke steun begin afneem, het hy kil en klinies die gevoelens teen die wit grondbesetters opgejaag. Bendes het die wit boere verdryf en hul plase verniel. Die groeiende swart opposisie is met geweld geïntimideer.

Zimbabwe se voedselproduksie het in duie gestort en die ekonomie daarmee saam. Maar Mugabe het sy doel bereik: Sy politieke mag is beveilig.

Uiteindelik het die weermag hom twee jaar gelede uitgedwing. Maar die nuwe president, Emmerson Mngagwa, sit Mugabe se geweldskultuur onveranderd voort.

’n Mens vra jou af of Mugabe se Christelike opvoeding geen verskil gemaak het nie. Blykbaar het dit nie. Ook diktators soos Adolf Hitler en Josef Stalin kom uit ’n Christelike agtergrond en het skrikbewinde soos min gelei.

’n Mens sou na aanleiding daarvan kon vra: Wat soek die kerk dan nog in die wêreld?

Maar is dit die kerk se skuld? Of is dit maar die individue wat so verdorwe is?

Dis ’n vraag wat teoloë al eeue besig hou. Sonder antwoord.