‘Ons preek altyd oor liefde, liefde, liefde’

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Sondagoggend toe is hulle weer daar op die oopte tussen die N2 en Lwandle, een van die plakkers­kampe net buite Somerset-Wes. Waar ek hulle al ’n vorige keer gesien het.

Ek wonder al lank oor hulle, hierdie mense in die wit klere wat jy op ’n Son­dag hier en op ander plekke in die stad – ook in Pretoria, Johannesburg en ander stede – in die veld of iewers in die oopte sien sit. Hulle hou kerk. Dit is taam­lik duidelik.

Links is ’n afdraaipad. Moet ek? Mag ek? Kan ek? Is dit veilig?

Hoekom nie? besluit ek. Die paadjie is vol slote en gate. Ek hou naby genoeg aan hulle stil sodat hulle my hopelik nie as ’n bedreiging beskou nie, en ver genoeg van die rye en rye sinkhuisies vir as ek dalk moet vlug om een of ander rede. Klim uit die bakkie. Sluit. Stap ’n ent weg. Draai om en maak weer seker ek het gesluit. Druk my selfoon voor by my broek in.

Die lawaai – oral lawaai. Harde Mafi­kizolo-agtige musiek wat uit ’n geboutjie pomp waarop staan: Desert Tavern. En uit die N2-rigting die klank van verkeer: ’n vragmotor wat in ’n laer rat in sug, ’n motorfiets wat verbygil …

En tussen dit alles die groepie mense wat in rye sit, plat op die grond, elkeen in ’n lang, wit kleed. ’n Entjie van hulle af, half agter ’n bloekomboom se stam, wikkel ’n man sy kleed oor sy kop. Die swart aanglipskoene wat hy aangehad het, staan eenkant.

Brian Chingarande, stel hy homself voor. Sagte Afrika-handdruk: hand, duim, hand. Hy is van Zimbabwe af.

“Most of us are Zimbabweans.” Hy beduie na die ander.

Hulle is lede van die Johanne Marange Apostolic Church, verduidelik hy. Johanne Marange, wat in die suide van die destydse Rhodesië in die Metodiste Kerk grootgeword het, het in die jare dertig ’n profesie gekry dat hy ’n kerk moet begin waar veral klem gelê word op die leiding van die Heilige Gees. ’n Kerk wat profete die wêreld in stuur.

“We listen what the Holy Spirit told us.” Brian glimlag sag. “I’m a prophet as well.” Bedags werk hy in ’n fabriek in die Kaap wat babastootwaentjies vervaardig.

Dadelik kan ek aan ’n klomp vrae dink wat ek vir Brian sal wil vra, maar is dit nie dalk soms belangriker om te luister as om vrae te vra nie?

Hy gaan roep vier ander mans – al vier Zimbabwiërs. Seniors in die kerk.

“We preach love,” sê Misheck Tivapodze, een van die ander. “We always preach about love, love, love.”
“And what about Robert Mugabe?” kan ek nie help om te vra nie. “Do you love him as well?” Oud-pres Mugabe wat ’n paar dae tevore in ’n hospitaal in Singapoer oorlede is.

“Shame,” sê een, en maak ’n klikgeluid met sy tong.

“Jesus says we must forgive our enemies,” voeg Brian Chingarande by.

Die ander kyk net stil na my.

Hulle besef dis op ’n manier Mugabe se skuld dat hulle hier is, so ver weg van hulle huise en familie in Zimbabwe, maar dit klink nie of daar in die Johanne Marange Apostolic Church ’n groot bewussyn van die teologie van bevryding is nie.

Miskien gebeur dit met sommige mense wat oor geslagte heen polities onderdruk word: Hulle begin dit as hulle lot hier op aarde aanvaar. Voor Mugabe was daar ook die lang koloniale bewind.

“We are not angry because we are so far from home,” praat Brian weer. “We see it as a way that Jesus sends us into the world to preach his message.”

Hulle is wel banger as gewoonlik ná die onlangse aanvalle oral in die land op vreemdelinge uit ander Afrikalande. Maar nie bang genoeg om vanoggend nie hier te wil wees nie.

Dit is net ná nege. Die diens gaan begin. Dit kan maklik tot drie-, vieruur vanmiddag aanhou. Op die N2 ry steeds mense verby – mense soos ek wat in hier­die rigting kyk en wonder wat hier gebeur. Die vroue sit aan die een kant, die mans aan die ander kant. Nie een het ’n Bybel by hom of haar nie. Gewone werkers, wat hier in Lwand­le woon.

“We read the Bible, but on Sunday we only listen to the Holy Spirit.” Brian gaan staan voor die ander. Hy sê iets vir hulle – iets in Shona, ’n taal wat ek nie verstaan nie. Hulle begin sing. Ook in Shona. Maar een woord verstaan ek: Jesu. Jesu, Jesu, Jesu.

Eenkant staan ’n plastiekhouer en ’n Coke- en ander bottels vol water. Brian sal later die Heilige Gees se seën oor die water uitroep en vir die mense gee om daarvan te drink.

Ek gaan klim terug in die bakkie. Hulle word al kleiner in my truspieëltjie, hierdie mense in die Bybelse wit klere.

Later, oor die elfuurnuus, is daar ’n berig oor aanvalle op vreemdelinge in Philippi, skaars 30 km van Lwandle. Een mens is dood en verskeie huise en winkels is afgebrand.